DA soek rekords van kaderontplooiing op provinsiale, streeksvlak

Argieffoto (Foto:succo/Pixabay)

Die DA gaan nou ook ʼn aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) indien om alle rekords van die ANC se nege provinsiale kaderontplooiingskomitees te bekom.

Die party gaan ook vra vir toegang tot die notules van die ANC se verskeie streekkomitees.

Die ANC het reeds die rekords van sy nasionale kaderontplooiingskomitee – ná ʼn jare lange regstryd – aan die DA oorhandig.

Dr. Leon Schreiber, die DA se woordvoerder oor staatsdiens en administrasie, sê die party is nou op soek na dieselfde rekords van provinsiale en streekkomitees na aanleiding van bewyse van die kommissie van ondersoek na staatskaping.

Schreiber sê ʼn reeks dokumente, wat aan die DA uitgelek is, bevestig die bestaan van hierdie komitees.

Hy verwys onder meer na ʼn spesifieke notule van ʼn vergadering op 8 Maart 2019 by Luthuli-huis wat lui: “Moet die werk van die komitee en die provinsiale ontplooiingskomitees versoen. Moet met die provinsiale ontplooiingskomitees vergader [sic].”

Hierdie notule vorm deel van die 1 300-bladsye-rekords wat die DA onlangs van die ANC se nasionale kaderontplooiingskomitee ontvang het en bevestig die bestaan van bykomende kaderontplooiingskomitees.

ʼn Beleidsdokument wat die ANC voorheen aan die kommissie van ondersoek na staatskaping oorhandig het, bevestig ook die bestaan van streeksontplooiingskomitees, sê Schreiber.

“Op grond van hierdie oorweldigende bewyse dat die ANC ook aktiewe provinsiale en streekskaderontplooiingskomitees het wat wetlike aanstellingsprosesse in ANC-beheerde provinsiale en munisipale regerings ondermyn, sal die DA ʼn nuwe Paia-aansoek by die ANC indien om vergaderingnotules, WhatsApp-gesprekke, e-posgesprekke, CV’s en alle ander dokumente te bekom wat relevant is vir die werk van alle streek- en provinsiale kaderontplooiingskomitees wat dateer van 1 Januarie 2013, toe Ramaphosa die nasionale voorsitter van hierdie politieke rampokkerysindikaat geword het.

“Net soos op nasionale vlak is dit duidelik dat die ineenstorting van provinsiale en plaaslike regering, waar ook al die ANC aan bewind is, geen toeval is nie. Dit is die gevolg van noukeurig ontwerpte ANC-rampokkery om alle regeringsfere in Suid-Afrika te kaap en in duie te laat stort.”

Maroela Media het vroeër berig die DA glo die rekords van kaderontplooiingskomitees wys watter rol pres. Cyril Ramaphosa in die aanstelling van amptenare gespeel het, veral dié wat by staatskaping betrek word.

Die aangevraagde dokumente dateer van 1 Januarie 2013, toe Ramaphosa voorsitter van die nasionale kaderontplooiingskomitee geword het wat volgens die DA “staatskaping gehelp fasiliteer het”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

minnie muis ·

hiier by ons probeer vriendin aansoek doen vir pos by munisipaliteit , sy word gese , nee sy sal nie die pos kry nie want sy het n man en 2 kinders want …. jy kry net werk as jy saam met bestuurders slaap

Christine ·

Dis verskriklik hoe lankal en hoe diep geworteld die korrupsie is
Hulle het GEEN skaamte of gewete nie

Manie ·

Die onderlinge wedywering om as ‘n kader aangestel te word in plaaslike owerhede is indirek verantwoordelik vir etlike politieke moorde op raadslede wat oor die jare plaasgevind het.

Kokerboom ·

Gegewe die 30 jaar van ANC wan/geen bestuur van land voel dit asof ‘n vloek/oordeel oor land uitgespreek is!

Ore ·

Het die DA werklik geglo die ANC sal alles volledig gee? Ek is nie ‘n IT kenner nie, maar kan die info wat wel van die hardeskyf gevee is herwin word?

Witbaard ·

Al wat nou gaan gebeur is dat ‘n paar kader regslui weer miljoene gaan verdien aan uitgerekte hofsake, tot die stof gaan lê.

Republikein in die Wes Kaap ·

Ore, al die ANC dokumente word op één skootrekenaar se hardeskyf gestoor. Geen rugsteun op eksterne toestelle nie. Nie eers op ‘n sentrale bedienaar nie. Of ‘n wolkruimte nie. Die kaders deel ook nie dokumente per e-pos nie. ‘n IT kenner sal die dokumente wel vinnig opspoor.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.