ANC moet Sodi-geld terugbetaal – DA

(Argieffoto: GroundUp)

Die leier van die DA in die Vrystaat, dr. Roy Jankielsohn, sê die ANC moet die geld wat hy in die vorm van skenkings van die omstrede sakeman Edwin Sodi ontvang het terugbetaal.

Die minister van gesondheid, dr. Zweli Mkhize, het die afgelope naweek bevestig dat die ANC meer as R8 miljoen van Sodi ontvang het. Hy ontken egter ten sterkste dat hy persoonlik by die skenkings gebaat het. Mkhize was tesourier-generaal van die ANC toe die geld geskenk is.

“Mkhize se verklaring bevestig dat die ANC ʼn begunstigde van staatskaping in die Vrystaat was. Die geld wat na die ANC se koffers herlei is, was veronderstel om die mense van die Vrystaat te bevoordeel – talle van wie honger, behoeftig en sonder basiese dienste is,” het Jankielsohn gesê.

Sodi is die afgelope week saam met verskeie ander in hegtenis geneem in verband met die omstrede Vrystaatse asbes-ouditkontrak. Die kontrak, wat bedoel was om asbesdakke in die Vrystaat te identifiseer en te verwyder, is glo op bedrieglike wyse toegeken.

Jankielsohn sê die gebeure bevestig wat die DA al langer as ʼn dekade in die Vrystaatse wetgewer aanvoer: Dat baie tenders en staatskontrakte in die Vrystaat toegeken word met sekere voorwaardes daaraan verbonde.

“Die voorwaardes is dat die mense en maatskappye die ANC se verkiesingsveldtogte ten koste van die mense van die provinsie moet finansier. Sodi se skenkings aan die ANC is net die oortjies van die seekoei,” het hy gesê.

Jankielsohn sê e-posboodskappe wat in 2017 uitgelek het, het ook onthul hoe die Guptas, wat deur die maatskappy Estina met die omstrede R380 miljoen-Vrede-suiwelprojek, verbind word, ook die ANC met sy verkiesingsveldtogte gehelp het. Dít nadat versoeke daarvoor deur Ace Magashule se vriendin, Mosidi Motsemme en sy seun, Tshepiso, glo aan Rajesh Gupta gerig is.

“Die Gupta-gekoppelde Vrede-suiwelprojek is saam met die korrupte Edwin Sodi-asbeskontrak van die grootste korrupsiesake tot dusver in die Vrystaat.”

Jankielsohn sê as “begunstigde van korrupsie” het die ANC ʼn integrale deel geword van ʼn misdaadnetwerk van korrupsie, geldwassery en bedrog.

“Die ANC het erken dat hy in besit van vuil geld is en het ʼn wetlike verpligting om dit bekend te maak en die volle bedrae aan die staat terug te betaal sodat ons mense daarby kan baat.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Persheks Adri ·

Daai geld is lankal weg hulle vergryp hulle mos net en gee niks om vir niemand behalwe hulself nie! Tyd vir ANC om te tsek!

4ntj13 ·

Dis nie genoeg dat die DA leierskap dit sê nie. Dis nodig dat die ou-ANC-stemmers dit almal erken en sê. Elke keer wanneer iemand uit die ANC kla oor die armes, moet hul aangesê word om daai balk eers uit hul eie oë te kry.
Intussen dink ek al hoe sterker ons moet die vrot staatsdiens verarm deur parallelle dienste in te rig. Ook om vir werklik hulpbehoewendes te sorg, en nie net met kos te bederf nie.

Nie Verbaas ·

Snaaks dat ANC nou eers reken oor vuil geld. Ook net omdat hulle in n hoek gedryf is waar leuens hulle nie kan uithaal nie. Mkhize, sterkte met die R8 miljoen. Wil graag sien wat gebeur as ANC ontvangs daarvan ontken.

Dup ·

Niks gaan verander nie,die korrupsie en bedrog kankerselle het lankal deur die regerende party versprei.Daar is geen genesing nie.

JohanR ·

Andre….net een uitweg nou en dit is die ANC uitstem. Daar moet dan ‘n regering kom wat “checks & balances” streng toepas.

Strandloper ·

Nou hoe nou? Hulle erken die besit van vuil geld en is dan nog so astrant om die geld aan hul self terug te wil betaal? ? Ha ha ha grap van die jaar! Ons is nie dom soos julle nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.