ANC-ondersteuners sterf in busongeluk

(Foto: @Limpopo_Traffic/Twitter)

Minstens vyf persone is Saterdag dood toe ʼn bus wat ANC-ondersteuners na die Mbombela-stadion in Mpumalanga vervoer het, teen ʼn helling afgerol het. Die ongeluk het omstreeks 03:30 op die R71 in Magoebaskloof, Tzaneen, plaasgevind.

Die departement van vervoer en gemeenskapsveiligheid sê drie busse het na bewering agter mekaar gery toe die derde bus die tweede een van agter getref het. Die bus het in ʼn ravyn omgeslaan.

“Daar is onbevestigde berigte van vyf sterftes. Verskeie passasiers het beserings opgedoen. Die beseerde persone is na hospitale in die Mopani-distrik geneem,” lui ʼn verklaring deur die departement.

Florence Radzilani, provinsiale LUR vir vervoer, en ander regeringsleiers word verskoon van die 8 Januarie-verklaringsbyeenkoms in Mbombela om die ongelukstoneel te besoek. Die LUR vir gesondheid, dr. Phophi Ramathuba, die uitvoerende burgemeester van die Molemole-munisipaliteit Edward Paya, en ander regeringsleiers sal by haar aansluit. Hulle sal ook pasiënte in die verskeie hospitale besoek.

Die pad is ná die ongeluk gesluit terwyl reddingsbeamptes die toneel opgeruim het. Motoriste is aangeraai om van alternatiewe roetes gebruik te maak.

(Foto: Truck and Freight)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Bolandse Nooi ·

Die bestuurders van die een bus wat in die ander bus vasgery het, is ‘n duidelike vertoning van die anargie en onbeholpenheid wat tans in die land van toepassing is … VIVA ANC!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.