Die ANC het Vrydag ʼn beroep op die regering gedoen om dringend die egtheid van duisende e-posse te ondersoek wat na bewering die korrupte en verwoestende bande tussen pres. Jacob Zuma en die Gupta-familie bewys.
Die ANC het gesê die bewerings rakende die reeks e-posse, wat onder meer tussen lede van die Gupta-familie, hulle vriende en regeringsministers gestuur is, is kommerwekkend en bevraagteken die integriteit van die regering.
“Die ANC beskou hierdie bewerings in ʼn baie ernstige lig. Indien dit nie ondersoek word nie, sal dit die integriteit en geloofwaardigheid van die regering in twyfel trek, asook vrae veroorsaak rakende die gebruik van staatshulpbronne om privaat belange te bevorder,” het die regerende party in ʼn verklaring gesê.
“Sulke sake kan nie toegelaat word om in die openbare domein te sweer nie. Die ANC doen daarom ʼn beroep op die regering om dringend vas te stel of die e-posse en die bewerings eg is en om ʼn verduideliking te eis van diegene betrokke.”
Die party het ook gesê die regering moet onmiddellik die besluit van die ANC se nasionale uitvoerende komitee, om ʼn kommissie van ondersoek na bewerings van staatskaping aan te stel, in werking stel.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
18 Kommentare
Hoekom juis nou wakker skrik? Dit ontplof in hul gesigte – hulle moes hom al die naweek gerecall het.
“Geloofwaardigheid en integriteit”?????????????? Ongelooflik dat daar iemand in die ANC is wat aan so iets kan dink.
Die woorde “geloofwaardigheid” en “integriteit” bestaan nie in hierdie korrupte regering se woordeskat nie.
Laat nou die inbreker homself aankla, homself verdedig en homself straf. Kan iemand onafhanklik nie maar die werk doen nie. Wolf is nou die skaapwagter!
Die ANC weet dit is waar. Hulle speel net vir tyd, maar Zuma se dag sal nog kom…