ANC ‘stoomroller’ NGV-wetgewing deur komitee

Argieffoto (Foto: StockSnap, Pixabay)

Die Demokratiese Alliansie veroordeel ten sterkste die ANC se optrede om die wetsontwerp oor nasionale gesondheidsversekering (NGV) deur die portefeuljekomitee oor gesondheid te stoomroller sonder wysigings van opposisiepartye, ondanks oorweldigende wetlike menings en argumente om dit nie te doen nie.

Michele Clarke, die DA se skaduminister van gesondheid, sê dié optrede deur die ANC is kommerwekkend, veral die wysiging om die definisie van “migrant” na “uitlander” te verander, wat groepe van alle nie-burgers in dieselfde klas saam te groepeer, insluitend wettig goedgekeurde asielsoekers wat onderwerp kan word aan dieselfde (of gebrek aan) gesondheidsorg as onwettige migrante.

“Die DA het reeds sy minderheidsverslag aan die voorsitter voorgelê om dit op rekord te plaas as algehele teenkanting teen die wetsontwerp in sy huidige formaat. Ons benadruk dat die NGV-wetsontwerp Suid-Afrika bankrot sal maak en nie die mediese krisis sal oplos nie.”

Clarke sê die gebrek aan lewensvatbaarheidstudies en impak-assesserings in ʼn post-Covid-19-wêreld, waar die ekonomie heeltemal anders daarna uitsien as vantevore, is kommerwekkend.

“Die tydlyne wat in die oorspronklike wetsontwerp voorgestel word, is ook heeltemal gebrekkig. Die wetsontwerp maak voorsiening vir twee fases – fase 1 tussen 2017 en 2022, en fase 2 tussen 2022 en 2026. Die tydlyn vir fase 1 het reeds verstryk en ons is halfpad deur fase 2 nog voor die wetsontwerp eers bekragtig is as ʼn wet.

“Die ANC se poging om die doelpale na verdere datums te verskuif is nie aanvaarbaar nie. Die huidige ekonomiese omstandighede, vlakke van korrupsie en die gehalte van huidige gesondheidsorg moet in ag genaam word.”

Clarke sê sonder ʼn finansiële sertifikaat van goedkeuring of begrotingsgoedkeuring van die minister van finansies kan die wetsontwerp hoegenaamd nie as geldig of grondwetlik beskou word nie.

“Ons sal bly baklei teen dié gevaarlike wetsontwerp in die parlement en die Nasionale Raad van Provinsies en het geskrewe vrae aan die minister van finansies gerig om ʼn afskrif te versoek van die finansiële sertifikaat van goedkeuring en ʼn volledige uiteensetting van die begroting vir die NGV.”

Die DA doen ʼn beroep op die ANC om deursigtig te wees en dié dokumente te verskaf om te bewys dat hulle die wetsontwerp nie bloot as ʼn verkiesingsfoefie vir 2024 gebruik nie. “Dit is noodsaaklik om Suid-Afrika in hul vertroue te neem en die langtermyn-impak van dié wetsontwerp in ag te neem.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Lillian ·

Dit werk in ander lande, dit sal nie hier werk nie. Die anc het oor en oor al bewys hulle kan niks suksesvol bedryf nie. So hou op om ons geld te mors!!!!

Miskruier ·

Dit werk nie eens in ander lande. In Europa en Brittanje is daar ook al enorme waglyste. Die verwagting dat die oueres sal sterf voor behandeling toegepas word.

TruthDealer ·

Mense, hierdie is veel belangriker as enige ander kwessie op die oomblik. Wat kan ons doen? As hierdie wetgewing deurgaan sit ons almal met staatshospitaal vlak gesondheidsdiens. Wat sê die mediese fondse? Is hier iemand wat vir n mediese fonds werk, wat enige idee het? As hierdie deurgaan is dit die einde vir ons kinders en kleinkinders, ek dink nie eens aan myself en ouer mense soos ek nie. Nie almal kan SA verlaat nie, meeste van ons kan nie, of ons was al weg.

Republikein in die Wes Kaap ·

Meer en meer spesialiste gaan die land verlaat.

TruthDealer ·

En n mediese fonds gaan jou niks meer baat as die massas ook die privaathospitale gaan oorstroom nie. Verstaan ek hierdie hele storie reg? Privaathospitale sal dan basies een en dieselfde word as staatshospitale?

Jan ·

Die ANC is nie enigsins van plan om na enigiemand te luister nie. As hulle hierdie wetgewing goedkeur, moet ons maar maak soos ons mede-landgenote maak en al die staatshospitale afbrand as protes. Donker tye het drastiese reaksie nodig. ‘n Mens kan net soveel vat voor jy keelvol raak. Ek hoop nie ons kom nie daar uit nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.