ANC vergader glo met diplomate oor verkiesing, opposisie woedend

Naledi Pandor, minister van internasionale betrekkinge en samewerking. Foto bloot ter illustrasie van Suid-Afrika se diplomatieke korps. (Argieffoto: Jacoline Schoonees/Dirco)

Dit kom voor of die ANC nou selfs diplomate, ambassadeurs en hoë kommissarisse wil inspan om namens hom stemme in die buiteland te werf.

Die regerende party het skynbaar ’n brief uitgereik waarin die land se diplomatieke korps genooi is om gisteraand (Dinsdag) ’n aanlyn vergadering by te woon waartydens die “ANC se 2024-kiesersmobiliseringstrategie in die buiteland” bespreek sou word.

Dié brief is skynbaar Vrydag deur die ANC-sekretaris se kantoor uitgereik en na ambassades versprei in die hoop om diplomate sover te kry om namens die ANC kiesers in aanloop tot die verkiesing te werf.

Maroela Media het die ANC genader om die egtheid van die brief en die vergadering te bevestig, maar wag nog op terugvoer.

Opposisiepartye is woedend.

Die DA sê hy gaan ’n dringende vergadering met die kommissaris van die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) versoek en daarop aandring dat enige Suid-Afrikaanse diplomaat wat gisteraand se vergadering bygewoon het, op 29 Mei belet word om by hul betrokke stemstasie toesig te hou oor die stemmery.

Die opposisieparty sê hy sal selfs die howe nader indien nodig.

Die brief wat glo deur deur die ANC-sekretaris se kantoor uitgereik is.

“Dit is niks minder as krimineel nie,” sê Emma Powell, die DA se skaduminister oor internasionale betrekkinge en samewerking.

“Ambassadeurs, hoë kommissarisse, konsuls-generaal en attachés – wat almal na hierdie ANC-stembedrogvergadering ontbied is – word deur die Suid-Afrikaanse belastingbetaler vergoed en daar word van hulle verwag om dienste te lewer aan alle burgers wat in die buiteland woon, ongeag hul politieke verbintenis.”

Powell wys dan daarop dat hierdie “belastingbetalergefinansierde amptenare” die mandaat gekry het om die stemmery gedurende die verkiesing in die buiteland te bestuur.

“Daar word van diplomate in die buiteland verwag om apolities te wees terwyl hulle ontplooi word, en om hul land te verteenwoordig – nie die politieke belange van ’n sterwende, voormalige bevrydingsbeweging soos die ANC nie,” sê Powell.

ActionSA sê indien die brief eg is en daar wel ’n vergadering tussen die regerende party en diplomate plaasgevind het, het die ANC ’n stap te ver gegaan.

“Dit is gelykstaande aan een van die mees blatante misbruike van staatsmag en hulpbronne tot voordeel van die regerende party,” sê Solly Moeng, partylid vir internasionale betrekkinge.

Moeng sê die brief druis in teen elke demokratiese beginsel waarop die Suid-Afrikaanse Grondwet gevestig is.

“Dit is ActionSA se oortuiging dat ons diplomatieke korps geprofessionaliseer en gedepolitiseer moet wees. Die departemente betrokke in Suid-Afrika se internasionale betrekkinge, soos die departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco) en die departement van handel en nywerheid, is nie vrygestel van swak ANC-bestuur nie,” sê Moeng.

Moeng sê dan ook dié departemente het in te veel gevalle Suid-Afrika se vermoë belemmer om doeltreffend aan globale sake deel te neem.

“Hierdie brief bewys dat die ANC Dirco as ’n blote verlengstuk van die party in die buiteland beskou en dat dit bo almal lojaal aan die regerende party behoort te wees.”

Maroela Media het ’n navraag aan Dirco gestuur en wag steeds op terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Jacobus ·

Hier is soveel parallelle met die maniere wat die VSA regering gebruik om die verkiesing skeef te trek. Dit oorskadu selfs die COVID se slinkse plandemie.

Johan Botha ·

CR het lankal gesê dat die ANC se kaarte klaar in plek is en dat die verkiesing net ‘n charade is. Die ANC kan nie uitgestem word nie……!

Jasmyn ·

Die howe behoort nou wakker te skrik en vinnig op te tree voor die verkiesing. Kriminele behoort gearresteer te word. Ramaphosa hoort in die tronk. Wat sou die buiteland gedoen het?…. Beslis nie sulke twak opgevreet het nie.

Jaco ·

Dit was algemeen in kommunistiese lande: party en staat was een. Net jammer die ANC het in hulle exile jare in kommunistiese lande soos die Sowjetunie, Oos-Duitsland, Hongarye, Pole nie ander goed ook geleer nie. Daardie lande was SONDER:
beurtkrag
Swak vuil staatshospitale
Regstellende aksie en BEE
Swak of geen munisipale dienslewering
En en en en…
Behalwe vir godsdiens vryheid wat aan bande gelê is in daardie lande, was die lewe daar eintlik nie so sleg nie. Ouer Duitsers uit die ou Oos-Duitsland verlang selfs terug en noem dit Ostalgie.

Mariana ·

Sê mos hulle is besig met onderduimse planne. Hulle kan niks eerlik doen nie. Hulle is tot in hul diepste wese agterbaks en skelm. Hierdie verkiesing gaan ‘n klugspul wees. Maar ons gaan stem, kom wat wil…..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.