André de Ruyter dien klag van poging tot moord in

André de Ruyter. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch)

André de Ruyter, uitvoerende hoof van Eskom, het ʼn klag van poging tot moord by die polisie ingedien.

Dit is Sondag deur Eskom aan Maroela Media bevestig.

Die klagte hou glo verband met ʼn vergiftigingsvoorval einde verlede jaar. EWN berig dat De Ruyter ʼn koppie koffie by sy Megawatt Park-kantoor in Sunninghill in Johannesburg gedrink het waarin daar vermoedelik sianied was. Die onafhanklike energiekenner Chris Yelland het dit ook op Twitter bevestig.

“Eskom kan nie verder op die vergiftigingsvoorval wat in Desember 2022 plaasgevind het, kommentaar lewer nie, aangesien die saak deel van ʼn polisieondersoek vorm,” het Karen Pillay, Eskom se hoof van sekerheid, Sondag by navraag gesê.

“ʼn Strafregtelike klag is by die Hermanus-polisiestasie ingedien en na die Midrand-polisiestasie oorgeplaas.”

Yelland sê op Twitter dat die voorval op 13 Desember plaasgevind het – ʼn dag nadat De Ruyter sy bedanking as uitvoerende hoof by Mpho Makwana, Eskom se voorsitter, ingedien het. Dié nuus is op 14 Desember bekendgemaak. De Ruyter sal die leisels as uitvoerende hoof na verwagting in Maart vanjaar aan sy opvolger oorgee.

Maroela Media het in Oktober verlede jaar berig dat die veiligheid van De Ruyter en ander toepaslike uitvoerende beamptes by Eskom opgeskerp is nadat De Ruyter ʼn spioenasietoestel in sy voertuig gevind het. Dit was glo aan die onderkant van sy sitplek vasgeplak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Christine ·

Hierdie arme man is al deur soveel by Eskom, wie ookal agter die poging sit, is seker bang na sy bedanking is daar niks wat hom terughou om met klagtes teen kollegas uit te kom nie. Wie het inelkgeval vir hom die koffie geneem? Sy sekretaresse?

Pieter ·

De Ruiter het seker inligting wat hy sodra hy aftree beken sal maak, en die skuldigges moes hom seker probeer stil maak.?

christo ·

Fluitjieblasers, anti-korrupsie optrede en
‘n bedreiging is vir die sindikate, se lewens is in gevaar. Ek self was ‘n slagoffer by my werk, omdat ek gewaag het om vrugtelose uitgawes te bevraagteken.

Yolandie ·

Ek bid vir jou Mnr de Ruyter, ek het gedink dat jy senuwees van staal moet hê om die hoof te word van die instansie. So ek is nie verbaas oor die voorval nie. Ek dink jy weet nou net te veel en mense wat hulle aan misdaad skuldig maak by Eskom probeer van jou ontslae raak. Sterkte vir jou.

Yvonne ·

Hoe ver sal mense nie gaan om hulle goddeloosheid uit te voer nie…Here behoede ons

Papsak ·

MENEER DE RHYTHER EK HAAL MY HOED AF VIR JOU STERKTE JY N MAN DUISEND

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.