Aneurisme eis ‘kaalvoetkind’ van Centurion

Lizay Roeloffze (10) is Woensdag dood ná ʼn ernstige breinaneurisme. (Foto: Verskaf)

“Sy was ons prinses, ons mooiste poppie. Sy het ʼn positiewe uitwerking op almal in haar lewe gehad en almal wou ʼn stukkie van haar hê.”

Só het ʼn hartgebroke Gert Roeloffze van Eldoraigne in Centurion Donderdag oor die skielike dood van sy “kaalvoetmeisiekind” Lizay (10) gesê.

Lizay is Woensdag dood ná ʼn ernstige breinaneurisme Dinsdagmiddag.

Sy was ʼn gr. 4-leerder by Laerskool Bakenkop.

Roeloffze sê sy dogter was nog altyd gesond en op die betrokke dag besig om in die dansateljee by hul huis te dans toe hy haar skielik hoor huil het.

“Ek werk van die huis af en was besig met ʼn aanlyn vergadering. Ek het myself verskoon om te gaan kyk wat fout is. Ek het vermoed sy het dalk geval en seergekry. Sy was in haar kamer en het van ʼn vreeslike kopseer gekla.”

Roeloffze het vir sy dogter water gegee en sy seun, Dian (11), gevra om ʼn Panado te kry.

“Ek het nie verwag dit is iets ernstig nie, maar tog besluit om haar dokter toe te vat. Ek het skaars by my rekenaar gekom om my vergadering af te sluit toe Dian my vreesbevange kom roep het. “Pappa moet kom, daar is groot fout.”

Lizay Roeloffze was ʼn gr. 4-leerder by Laerskool Bakenkop in Centurion. (Foto: Verskaf)

Roeloffze het sy dogter op die kombuisvloer aangetref – haar boetie het reeds ʼn kussing onder haar kop gesit.

“Ek het haar opgetel en kon sien die een kant van haar gesiggie hang. Ek het dadelik gedink sy het ʼn beroerte gehad. Sy kon nie praat nie en het ʼn verwilderde, bekommerde uitdrukking in haar oë gehad.” Dít, sê Gert, spook nou nog by hom.

Roeloffze het met sy dogter Unitas toe gejaag. Hy het ook sy vrou, Christa, gebel om hom by die hospitaal te kry.

“Dian het agter by haar gesit en ek het haar hand vasgehou terwyl ek bestuur het. Sy het in dié stadium steeds gereageer aangesien sy my hand gedruk het wanneer ek met haar praat.”

Kort ná hul aankoms by die hospitaal het dokters die egpaar meegedeel dat die hoeveelheid bloeding weens die aneurisme reeds ernstige breinskade veroorsaak het. Later die middag sou hulle hoor dat sy waarskynlik breindood is. Dit is nie duidelik wat die aneurisme veroorsaak het nie.

“Teen 14:00 die volgende middag was alles verby en ons dogtertjie was weg. Dit voel so onwerklik. ʼn Mens verstaan dit nie. Dis ʼn seer wat jy vir niemand kan verduidelik nie.”

ʼn Lewe om te vier

Roeloffze sê hul gesin is verpletter, maar dat die ondersteuning van hul geliefdes, die skool- en kerkgemeenskap hulle dra.

Dian (11), Gert, Lizay (10) en Christa Roeloffze. (Foto: Verskaf)

Hulle wil ook Lizay se kort, maar gelukkige lewe en menswees vier.

“Sy was ʼn baie spesiale meisie. Sy het so vinnig in ons lewe gekom aangesien my vrou eers op vyf maande uitgevind het dat sy Lizay verwag. Nou voel dit of sy net so vinnig weer van ons af weggeneem is.

“Sy was regte raakvatter. Sy het ʼn sterk persoonlikheid gehad en ons gedurig op ons tone gehou,” lag Roeloffze.

Hy sê Lizay was ook uiters lief vir die buitelewe en dat sy altyd kaalvoet geloop het.

“Sy was ook lief vir diere en kamp.”

Lizay het moderne dans beoefen en by die skool aan netbal, atletiek en hokkie deelgeneem. Sy was ook onder die tien topleerders in haar graad vir akademie.

“Sy was ʼn natuurlike leier. Sy was ook ʼn regte moederfiguurtjie. Sy het tot vir my kos gemaak en gebring wanneer ek tuis werk omdat sy geweet het ek sou vergeet om te eet.”

Haar grootste liefde, sê haar pa, was egter haar familie, maats en die Here.

“Sy was so opgewonde oor ʼn geselligheid wat Vrydagaand vir kinders by Doxa Deo-gemeente in Midstream gehou word. Sy sou ook ʼn maatjie saamvat. Wanneer ons huisgodsdiens beoefen het sou sy altyd ʼn stukkie wou voorlees en bid.”

Lizay Roeloffze (10) is Woensdag dood ná ʼn ernstige breinaneurisme. (Foto: Verskaf)

Roeloffze sê Lizay was ook baie erg oor haar boetie en uiters geheg aan haar ma.

“Sy en haar ma het alles saam gedoen. Hulle was beste maats. Sy kon in die middae nie wag tot haar ma by die huis kom sodat hulle oor die dag kon gesels nie. Haar ma was haar rolmodel.”

Roeloffze sê hy vind berusting daarin dat haar boetie byna die heeltyd by haar was toe sy sleg gevoel het.

“Hy is ʼn held. Die manier hoe hy hom oor haar ontferm het spreek boekdele van die spesiale band wat hulle gehad het.”

Roeloffze sê Lizay laat ʼn groot leemte in hul liefdevolle huishouding vol spesiale tradisies.

“Ons gee gereeld drukkies en sê ons is lief vir mekaar. Lizay het dit veral baie gedoen. Ons gaan haar baie mis.”

Die gesin is tans besig om reëlings vir Lizay se gedenkdiens volgende week te finaliseer.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

36 Kommentare

Sandra ·

Aai tog dit is verskriklik hartseer om die artikel te lees van julle pragtige dogtertjie wat skielik heen is. My innige simpatie met julle almal. Mens kan sien julle het julle kinders geleer om God lief te he. Sterkte aan julle.

Blikke ·

Bitter Hartseer…..Sterkte aan haar gesin in hierdie tyd….mag God julle in Sy hande toevou en troos.

Lorinda ·

My hart gaan uit na d gesin en familie. Inligting is belangrik. Ek verpleeg en as ouers net ‘n kort kurses doen in noodhulp, kan dit baie help

Anton ·

Help my met my onkundigheid, hoe sou dit gehelp het in hierdie situasie?

Cherokee ·

Miskien het Lorinda dit op ‘n verkeerde plek gesê, maar moet nie haar hamer of duimaf oor ‘n kommentaar wat eintlik baie sinvol is. Sy het oor die algemeen gepraat.

Annette ·

Dis goed as enige persoon noodhulp kan toepas, maar in hierdie geval sou dit nie `n verskil aan die uitkoms kon maak nie. My innigste simpatie aan hierdie gesin. Dit moet geweldig traumaties vir elkeen van hulle wees.

Casper ·

Lqrinda ‘n kort kursus in oppervlakkige mediese gevalle kan wondere verrig maar as jy gaan na ernstiger mediese toestande soos hartaanvalle,beroertes,trombose en aneurisme dan hetjy gevorderde opleiding nodig soos paramedici.’n Volledige noodhulpsak kos duisende rand.

JL ·

Simpatie is deel van verpleging. Die pa en boetie het absoluut korrek binne hulle vermoë opgetree. Enige aneurisme is lewensbedreigend. ‘n Brein-anurisme soveel te meer, met ‘n hoë mortaliteit. U kommentaar oor noodhulp met hierdie ontsettende tragedie is onvanpas. Enige medelye of verskoning wat gevolg word met bv. ‘n “maar” kanseleer die voorafgaande positiewe.

Elmarie ·

O my hart. Ek huil terwyl ek lees, my hele lyf die ene hoendervleis. Dit is enige ouer se ergste nagmerrie om jou kind aan die dood af te staan. Mag God se genade julle familie deur hierdie beproewing dra.

Shakespeare ·

Wreed!! So n pragtige meisiekind. Bitter hartseer. Sterkte aan die ouers. Geen ouer behoort hierdie akute pyn deur te gaan nie.

Hennie ·

So hartseer! Woorde is daar nie! Sterkte aan hierdie mooi gesin!

Cabytheron ·

Ai, dit is so hartseer! Baie sterkte vir die gesin, wat deur ‘n baie moeilike, hartseer tyd, moet gaan. Pragtige Poppie!

Anel ·

Dit is so hartseer. Ons een niggie se jongste dogter was ook 10 toe sy meer as 20 jaar aan dieselfde dood is. By huis gekom na skool en gesê sy het ‘n erge hoofpyn. In ‘n koma gegaan en is ‘n week later oorlede. Die gemis gaan nooit weg nie. Baie, baie sterkte aan hierdie familie. ‘n Aneurisme is so onverwags wat mens kan dit nie sien nie.

Mariaan ·

O nee…dis hartverskeurend..ek huil sommer saam…mens se hart is nie gemaak vir sulke pyn nie..het eintlik nie woorde nie…so so jammer vir julle…mens se lewe sal net nooit weer dieselfde wees nie

Maggies ·

Só ontsettend hartseer vir julle verlies. My diepste meegevoel aan hierdie lieflike gesin.
Troos julself dat julle engelkind die weg vir julle gaan voorberei het.
Hou aan om so pragtige gesinnetjie te wees en dan sal julle haar beslis weer eendag sien, daar waar sy aan Jesus se voete dit.

Papsak ·

Ek ook n ma my hart bloei vir daai ouers veral die ma maar sterkte

Elize ·

As hulle jou eers eenkeer in hulle fisier het sal dit altyd gedoen word. Praat van ondervinding

007 ·

Ons bly ook in dieselfde straat as julle Chris. 1030. Baie sterkte vir julle en mag Jesus julle toevlug wees in hierdie baie moeilike tyd. Ons bid vir julle.

Antz ·

Ek huil my oë uit saam met julle. Nie woorde vandag nie. Dis verskriklik hartseer. Liefde en drukkies vir julle

Misky ·

Innige simpatie vir hierdie mooi gesin en die hartseer waardeur julle nou gaan. Hou vas en onthou die mooi herinneringe

Hercules ·

Goeie dag Gert, ek ken jou net as ‘n baie klein seuntjie van jou pa Danie:

????geen menslike simpatiseer kan ‘n traan keer, geen mense twee hande uitreik kan jou leer hoe om te beweeg van lewe na dood en nie verstaan why, hoekom, waarom? ~ slegs Abba Vader kan julle troos en met geroeste-spyker-deurboorde-hande-voete sal Jesus julle dra ~ die Heilige Gees vou julle toe in ‘n vredes kokon van sagte liefde en vee die trane van rou ~ baie sterkte ~ ????~

Chantel ·

Liewe Heer, hoekom gebeur hierdie tipe goed. My hart is in flarde geskeur en ek huil saam met hierdie gesin. Ek dra julle op in my gebede.

Tanya ·

Sjoe dit moet bitter erg wees, my hart gaan uit na julle hele familie, mag die Here julle dra in hierdie swaar en pynvolle tyd. Rus in vrede liefste kaalvoet prinses!

Charl ·

Ai, so so jammer vir julle verlies, kan myself nie die hartseer indink wat julle nou deurmaak nie, God sterk julle.

Meerkat7 ·

Innige simpatie aan haar familie. Hierdie kant verstaan ons nie, maar in ewigheid sal al die trane afgevee word. Mag die Here die hartseer vir julle verdraagsaam maak en koester al die goeie herhinneringe, want dit bly vir altyd in hierdie lewe. Shalom

Deonne ·

Hoe verwerk mens so iets? Ek het self n dogtertjie van amper ses. My innige meegevoel.

TO ·

Die seerste seer. My hart gaan uit na julle, ek bid vir julle, weet hoe die pad voel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.