Angs het studente in wurggreep

akademia-gradeplegtigheid-2017-04-07

Argieffoto. (Foto: Jhua-nine Wyrley-Brich/Forumnuus)

Covid-19 is dalk nie meer ʼn lewensbedreigende siekte nie, maar studente wêreldwyd sit nog met die gevolge van angs en depressie wat afsondering tydens die pandemie meegebring het.

“Die afgelope paar jaar – met die gevolglike onsekerheid, isolasie, wye en verwoestende finansiële gevolge en groot impak op gesondheid en sosiale lewe – het gelei tot ’n skerp styging in geestesgesondheidsprobleme wat op hoëronderwyskampusse reg oor die wêreld ervaar word,” het prof. Francis Peterson, visekanselier en rektor van die Universiteit van die Vrystaat (UV), gesê.

Dit was Dinsdag Wêreldgeestesgesondheidsdag. Volgens statistieke deur die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) sukkel een uit elke agt mense wêreldwyd met hul geestesgesondheid en blyk daar ʼn toename onder kinders en jongmense met geestessiektetoestande te wees.

Navorsing wat in 2020 en 2021 onder Britse student gedoen is, wys dat die Covid-19-pandemie selfs ʼn groter uitwerking op studente se geestestoestand gehad het as op verpleegsters s’n.

Die navorsing is in Junie in die British Journal of Educational Studies gepubliseer en is deur middel van ʼn opname onder 554 voorgraadse studente in Engeland gedoen.

Luidens die navorsingsverslag het streng afsonderingsregulasies – insluitend die afskaf van in-persoon-lesings, hoë vlakke van sielkundige spanning en angs onder voorgraadse studente veroorsaak. Studente se vlakke van sielkundige spanning het aansienlik hoër gemeet as voor die pandemie en was selfs hoër as dié van gesondheidswerkers.

“Hoewel die studie wys dat angsvlakke weer effens begin afneem het soos afsonderingsmaatreëls verslap het, het die manier waarop hoër onderwys beoefen word, in sommige aspekte totaal verander weens die pandemie. Daarom moet meer gedoen word om studente op geestelike, fisieke en akademiese vlak te ondersteun,” lui die navorsingsverslag.

Ook Peterson meen dat angs in die nadraai van die pandemie, min tekens van afname toon.
“’n Verslag wat deur ons eie departement studentevoorligting en ‑ontwikkeling vrygestel is, toon groot getalle studente wat van die UV se professionele berading- en ondersteuningsdienste gebruik maak, met angs wat as die vernaamste rede genoem word waarom studente verlede jaar hulp gesoek het.”

Hy sê die gevolge van studente se voortdurende geestesgesondheidstryd is ernstig en verreikend en kan nooit oorbeklemtoon word nie. “Geestesgesondheidsprobleme belemmer nie net hul studies en konsentrasievermoë aansienlik nie – dit veroorsaak ’n ontstellende afname in geluk, welstand en lewenstevredenheid (…) met ernstige implikasies vir hul verdere professionele en lewensreise.

“Geestesgesondheidsprobleme lei ook dikwels tot dwelmmisbruik en het ’n negatiewe invloed op verhoudings. Dit is ’n probleem waarvan niemand binne of buite die onderwyssektor hulself kan distansieer nie. As ’n land is ons in die moeilikheid as ons toekomstige leiers nie hul weg na hul eie toekoms kan sien nie.”

Kommer oor geld, toekoms dryf angs

Argieffoto.

Peterson sê oorsake van angs sluit in kommer oor geld om vir studies te betaal, iets wat hy meen heel voorkombaar is indien die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente (NSFAS) behoorlik geadministreer word.

“Nog ’n wesenlike uitdaging vir studente is die feit dat die pad na ’n suksesvolle loopbaan toenemend deur onsekerheid en dubbelsinnigheid gekenmerk word. Vinnige tegnologiese vooruitgang het gelei tot ’n steeds ontwikkelende arbeidsmark, en studente moet uiteindelik ’n doolhof van loopbaanopsies navigeer wanneer hulle hul studies voltooi het – waarvan baie dalk vir hulle heeltemal onbekend is. Baie studente kom ook te staan voor die uiters werklike dilemma waar hulle wonder of hul gekose studieveld nog sal bestaan of steeds volhoubaar sal wees teen die tyd dat hulle gradueer,” se Peterson.

Hy sê verhoogde mededinging in die arbeidsmark bring ook mee dat studente groot druk op hulself plaas om uit te blink. “’n Beduidende deel van ons nasionale studentebevolking bestaan uit ‘eerstegenerasiestudente’, wat die eerste in hul gesinne is om vir ’n tersiêre kwalifikasie te studeer. Om die hoop en ambisie van ’n hele gesin te dra, kan beslis die las op ons studente verhoog.”

Peterson meen wel vordering is gemaak om die stigma verbonde aan geestesgesondheidsprobleme te hanteer, aangesien die UV ’n toenemende aantal studente sien wat gebruik maak van die berading- en ondersteuningsdienste wat op die kampusse aangebied word. “Meer moet egter gedoen word om na studente in nood uit te reik. Die skep van ’n ondersteunende omgewing op ons kampusse, gekenmerk deur inklusiwiteit, aanvaarding en omgee, is ’n wesenlike deel hiervan. Op die ou end glo ek ons doel moet wees om nie net ons studente te help om te oorleef nie, maar om te floreer tydens hul uiters belangrike studiejare.”

  • Kontak Netcare Akeso se 24-uur‑krisislyn (0861 435 787) indien iemand enige selfdoodneigings of gedagtes om hulself te beseer het of as iemand selfs net raad nodig het om ʼn geliefde by te staan.
  • Die Suid-Afrikaanse Angs- en Depressiegroep (SADAG) verskaf ook ’n 24-uur‑selfdoodkrisishulplyn by 0800 567 567.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

annie ·

En wat van Afrikaners wat uit die arbeidsmark gedwing word om plek te maak vir die regering se eensydige benadering en selfs uitlanders toelaat om werk weg te raap van ons swart studente sodat die ANC sy vriendekring van lande bo in Afrika en die Ooste, wat niks vir hul eie mense doen nie, hierheen te laat stroom. Die Kaap het sedert Zimbabwe onafhanklik geword het meer as dertig plakkerkampe laat groei om Mogabe gelukkig te hou en die ANC se stemme te groei.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.