Appèl teen SEB-regulasies sal verdedig word

(Argieffoto)

Die sakegroep Sakeliga is gereed om enige appèl teen sy hofoorwinning oor BEE-gebaseerde vooraf-diskwalifikasie in verkrygingsregulasies (PPPFA) te verdedig. Dit volg na die ANC se verklaring die afgelope naweek, waarin hy sy misnoeë uitspreek en by monde van sy algemene sekretaris, Ace Magashule op ʼn appèl aandring.

“Openbare dienslewering behoort te gaan oor uitkomste vir die publiek, nie oor inkomste vir diensverskaffers nie,” sê Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga. “Met vooraf-diskwalifikasievereistes, op grond van politieke oorwegings in verkrygingsbeleid, ontsê Magashule en die ANC ter wille van politieke oogmerke en voordele die publiek en eindgebruikers toegang tot die volle omvang kundigheid en waarde-vir-geld wat in die mark beskikbaar is. Hulle stuur ook ʼn skadelike boodskap na plaaslike en internasionale beleggers.”

Le Roux sê die verantwoordelike stap vir Magashule en die ANC sou wees om die uitspraak te ondersteun, “naamlik dat ministers nie wetgewend mag optree nie, dat BEE of ander politieke vereistes nie as voorvereiste gestel mag word nie en dat elke tender op waarde-vir-geld beoordeel moet word”. “Die teenoorgestelde gebeur egter: hulle verdedig ministeriële oorskryding van magte en dring openlik aan op vooraf-diskwalifikasie. Trouens, hulle noem dit ‘a very critical BEE instrument’, ongeag die ooglopende implikasies vir dienslewering en hoër pryse vir die staatskas.”

Le Roux sê Sakeliga sal skadelike beleid soos vooraf-diskwalifikasie op grond van BEE-vereistes nie aanvaar nie. “Ons sal alle stappe, insluitende regsaksie, doen om die herinstelling daarvan te verhoed. Dit is tyd vir minder politiek, meer besigheid.”

Sakeliga verwelkom intussen die bevindings van ʼn navorsingsverslag van die EU-South Africa Partners for Growth Project. Luidens die verslag, “EU Investors’ responses to Broad-Based Black Economic Empowerment”, is BEE een van die grootste uitdagings vir buitelandse beleggers en is dit nodig om swart eienaarskapsvereistes af te skaal.

Die jongste navorsingsverslag is een van vele, en sluit aan by skerp bevindinge teen BEE se eienaarskaps- en bestuursvereistes reeds in die 2007-verslag van die High Level Panel on Growth, nog byeengeroep deur president Thabo Mbeki. Die destydse verslag, opgestel deur internasionale ekonome soos Ricardo Hausmann en mede-paneellede insluitende Daron Acemoglu, noem BEE-eienaarskapsvereistes ’n “open-ended tax on existing and new capital.” Hulle waarsku ook teen die bestuursvereistes, en sê “it complicates the creation of new firms by demanding either equity or senior-management participation.”

Le Roux sê Magashule en die ANC blameer Sakeliga vir die teenspoed wat BEE optel. “Dit is waar dat ons ʼn groot rol daarin speel en sal bly speel, maar die rede vir BEE se teenspoed is dat dit ʼn mislukte beleid is. Swart Ekonomiese Bemagtiging word vandag algemeen onder buitelandse en binnelandse sakelui as een van die belangrikste struikelblokke vir besigheid binne Suid-Afrika beskou. Die publiek wantrou dit omdat hulle ervaar hoe dit dienslewering affekteer en sien hoe dit met korrupsie gepaardgaan. Werknemers uit alle gemeenskappe – insluitende swart persone – is moeg vir die gevolge wanneer hul maatskappye nie tenders kry nie net omdat daar uitsluitlik op die ras van eienaars gefokus word. In die belang van ʼn gunstige sakeomgewing en voorspoed in Suid-Afrika sal Sakeliga aanhou om BEE te bevraagteken.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Suzette ·

Natuurlik sal ace dit teenstaan.. en hulle luister nie na goeie, sinvolle opinies van gekwalifiseerde mense nie. Want elke haan is koning op sy eie mishoop….

Jakes ·

Welgedaan Sakeliga en alle voorspoed. Ace se oranjepak sal binnekort bestel word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.