Apple verdedig nuwe eienskappe ná kommer oor privaatheid

(Foto: Christof Stache/AFP)

Apple het sy nuwe kinderbeskermingsmaatreëls – wat foto’s nagaan voor dit in die wolk of op sy boodskapplatform geberg word – verdedig en vrese verwerp dat dit ʼn gevaar vir privaatheid inhou.

“Ons kan sien dit word wyd misverstaan,” het die Amerikaanse tegnologiereus se hoof, Craig Federighi, gesê in ʼn onderhoud wat Vrydag in The Wall Street Journal verskyn het.

Apple het verlede week twee nuwe eienskappe wat op iPads en iPhones in die VSA hul debuut sal maak, bekend gestel.

Een van die eienskappe is die vermoë om seksuele misbruik in foto’s wat na sy iCloud-wolkdiens opgelaai word, te identifiseer, terwyl die ander kunsmatige intelligensie gebruik om kinders en hul ouers te waarsku as seksueel eksplisiete foto’s op Apple se boodskap-app gestuur of ontvang word.

Federighi sê die nuwe gereedskap maak nie Apple se stelsel of toestelle enigsins minder veilig of vertroulik nie.

“Ons wou sulke foto’s in die wolkdienste raaksien sonder om na mense se foto’s te kyk,” sê hy.

Volgens Federighi wou Apple ook dié soort diens aanbied op ʼn manier wat “baie, baie meer privaat is as enigiets wat tot dusver op dié gebied gedoen is”.

Die maatskappy het omvattende verduidelikings oor die nuwe eienskappe bekend gemaak en sê die tegnologie, wat ontwikkel is deur kriptografiese kenners, “is veilig en uitsluitlik ontwerp om gebruikprivaatheid te handhaaf”.

Die maatskappy sê hy gaan beperkte toegang hê tot enige beelde wat die beleid skend. Dit sal by die nieregeringsorganisasie, die National Center for Missing and Exploited Children, aangemeld word.

Apple het Vrydag gesê hy gaan staatmaak op groepe wat hy vertrou in verskeie lande om te bepaal watter soort foto’s gevaarligte moet laat flikker om te verseker soektogte word nie vir ander doeleindes gemanipuleer nie.

Die maatskappy het benadruk dat slegs foto’s wat na die iCloud-diens opgelaai word, nagegaan word. Die stelsel doen dan ʼn skandering vir ʼn digitale weergawe van ʼn afdruk van bekende foto’s van die seksuele misbruik van kinders sonder dat dit nodig is om foto’s te sien.

Enkripsie- en privaatheidskenners het egter reeds gewaarsku dat die gereedskap vir ander doeleindes uitgebuit kan word. Dit kan moontlik die deur open sodat massas mense gelyktydig dopgehou kan word.

Ander mense is bekommerd dat die maatreëls die eerste tree na verswakte enkripsie () is en ʼn agterdeur kan oopmaak wat deur kuberkrakers of regerings misbruik kan word.

“Ons het vantevore eise gehad vir die bou en inwerkingstelling van veranderinge wat die regering vereis het – die privaatheid van gebruikers sou egter verminder en ons het dit deurlopend geweier,” het Apple in ʼn plasing gesê.

“Ons sal ook voortaan aanhou om te weier.”

Apple hou voet by stuk dat hy nie sal toegee aan enige regering se eis om te soek na enigiets anders as foto’s van die seksuele misbruik van kinders nie.

ʼn Aanlyn brief waarin ʼn beroep gedoen word op Apple om nie die nuwe maatreëls in werking te stel nie, is reeds byna 8 000 keer onderteken, onder andere deur Edward Snowden – ʼn voormalige kontrakteur van die Amerikaanse nasionale veiligheidsagentskap wat inligting oor die VSA se massadophoudingsprojek bekend gemaak het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.