ATKV-Skryfskool by NWU van die baan

(Foto: Kenny Eliason / Unsplash)

Daar bestaan nie meer iets soos die ATKV-Skryfskool van die Noordwes-Universiteit (NWU), wat onder meer ten doel gehad het om Afrikaanse skrywers op te lei nie. Projekte wat nou in die toekoms aangepak word, sal onder ʼn ander vaandel geskied om ook “veeltaligheid te bevorder”.

Dit is Donderdag deur Louis Jacobs, woordvoerder van die NWU op Potchefstroom, aan Maroela Media bevestig.

Dié skool is in 1990 by die NWU op die been gebring en talle bekende skrywers soos Jaco Jacobs, Carina Stander, Irma Joubert, Annelie Botes en Chanette Paul het kursusse by die skryfskool voltooi.

Duisende ander kursusgangers het hier opleiding ontvang en in drie dekades is meer as 300 uiteenlopende kursusse landwyd, asook in Namibië, aangebied. Kursusse is hoofsaaklik, maar nie uitsluitlik nie, in Afrikaans aangebied.

Die jaarlikse ooreenkoms tussen die ATKV en NWU is egter nooit hernu nadat dit aan die einde van 2021 verval het nie. Die nuus is nooit aan die groot klok gehang nie, hoewel gerugte en bespiegelings oor die toekoms van die skool al geruime tyd die ronde doen.

Prof. Bernard Odendaal was tien jaar lank direkteur van die ATKV-Skryfskool.

“Alles wat moontlik in die toekoms geskied, sal ʼn nuwe baadjie hê,” het Jacobs by navraag gesê.

In die universiteit se terugvoer, wat in samewerking met die ATKV opgestel is, verduidelik Jacobs dat die twee instellings saam die “toekoms in oënskou neem”.

“Die memorandum van verstandhouding tussen die NWU en die ATKV, wat onder meer daarop gemik was om Afrikaanse skrywers op te lei, het aan die einde van 2021 verval. Tot dusver het die ATKV-Skryfskool aan die NWU bykans jaarliks twee skryfskole aangebied, met die uitsondering van die pandemietydperk.

“Beide instellings het dit beskou as ʼn geleentheid om bestekopname te doen en te besin oor die pad vorentoe. Die NWU en die ATKV sien daarna uit om die verhouding tussen die twee instellings te behou deur projekte te identifiseer en saam veeltaligheid in die Suid-Afrikaanse konteks te ondersteun en te help ontwikkel.”

Jacobs sê die aard hiervan word tans nog deur die NWU en die ATKV bespreek.

“Finansiële implikasies vir persone wat moontlik die kursusse wil bywoon speel ook ʼn rol, en daarom is dit belangrik om markverwante projekte aan te pak, veral aangesien skryfopleiding toenemend aanlyn aangebied word en daar aan die behoeftes van die veranderende landskap voldoen moet word.

“Beide instellings is trots op dit wat die ATKV-Skryfskool sedert sy totstandkoming in 1990 vermag het, en hoop om soortgelyke suksesse in die toekoms te behaal.”

‘Jammerte’ dat skool tot niet gaan

Prof. Bernard Odendaal, wat tien jaar lank tot en met 2021 die direkteur van die skryfskool was, sê dis ʼn “groot jammerte” dat die skryfskool na byna 33 jaar tot niet gaan.

“Wat die Afrikaanse literêre wêreld betref het die skryfskool werklik ʼn stimulerende rol gespeel. Die NWU was die eerste universiteit wat kreatiewe skryfwerk as ʼn vak begin aanbied het, en dit het uit die ATKV-skryfskool ontstaan.”

Prof. Hans du Plessis was 22 jaar lank direkteur van die ATKV-Skryfskool. (Foto: Verskaf)

Odendaal stem ook nie saam dat die skryfskool hoef te sluit om veeltaligheid te bevorder nie.

“As jy nou veeltaligheid wil bevorder, moet jy juis die individuele tale kans gee om dit te doen. Dis mos die beste manier.

“Wie is daar in ons land wat in staat is om in verskillende tale sulke kursusse – goeie kursusse – aan te bied? Dis onwaarskynlik. Stig dan liewer verskillende instansies om die verskillende tale te bevorder. Daar word so dikwels oor veeltaligheidsinisiatiewe gepraat en dan kom daar weinig daarvan.

Odendaal sê dit is juis belangrik vir skrywers om in ʼn bepaalde literêre tradisie te kan skryf.

“As jy ʼn Afrikaanse skrywer wil word, moet jy weet wat is in Afrikaans geskryf op die gebied waarin jy wil skryf. Anders kan dit maklik gebeur dat jy ouderwets klink of nie die teikengehoor tref nie. Die mense wat so iets aanbied moet ook daardie bepaalde letterkunde waarbinne geskryf word goed ken.”

Odendaal sê hy hoop dat die naam ATKV-Skryfskool elders gehuisves sal word, al is dit nou nie by die NWU op Potchefstroom nie.

Prof. Hans du Plessis, Odendaal se voorganger wat 22 jaar lank die direkteur van die ATKV-Skryfskool was, is ook baie ongelukkig oor die goeie naam van die skryfskool wat nou daarmee heen is.

“Ek is wel nie vreeslik bekommerd oor Afrikaans in die skryfkuns nie, want daar het soveel skryfskole en skryfkursusse ontstaan nadat ons begin het. Afrikaanse skryfkuns is gevestig. Ek dink ons [die skryfskool se] nalatenskap lê eintlik daarin,” het Du Plessis gesê.

Vir Du Plessis gaan dit oor die beginsel, asook die beeld wat die NWU skep: “Om alles toe te maak wat amper lyk soos Afrikaans.”

“Afrikaans is nou maar net in die spervuur, en dit het te doen met die ANC se ideologie dat alles gesentraliseer moet word.

“Die toemaak van Afrikaans op alle plekke sê maar net vir ons dat ons toekoms in private instellings soos Akademia lê – goed wat ons self doen.”

Du Plessis sê ook hy hoop dat die ATKV ten minste die naam ATKV-Skryfskool sal behou.

Daar is egter nie in dié stadium ʼn aanduiding of dit wel sal gebeur nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

28 Kommentare

Jaada ·

Begin ‘n skryfskool by akademia, dit sal meer van pas wees.

Nici ·

ATKV moet beslis onttrek en hierdie afpersing gepas handteer.

Daisy ·

Wat van SolTech?
En ja Akademia is ‘n goeie plan.
Ons moet ons taal behou

Anel ·

Bied dit by die Voortrekkermonument aan. Die andertaliges kon nie met ‘n skryskool voorendag kom nie, nou mag Afrikaans dit ook nie hê nie. Man, kry jou eie. As jy in ‘n ander taal wil leer skryf, begin jou eie skryfskool. Hoekom moet Afrikaans altyd gekortwiek word? Is hulle dan so bang vir Afrikaans? Al gedink dat dit Afrikaans is wat die land opgebou het tot 1994 en nog steeds asn die gang hou??????

Republikein in die Wes Kaap ·

Afrikaners is altyd besig om te bou, net om weer te deel, en dan weg te gee.

Hendrik ·

Ja, ons kan
want ons het reeds
en ons wil steeds
en ons sal aanhou!

Nici ·

Dis die verskoning of Afrikaanssprekendes weer geleenthede te ontneem. Eks nie bewus daarvan dat enige swart taal ooit bevorder word deur bv ‘n universiteit te bou wat hoofsaaklik Zulu of Xhosa is nie. Hul het nie liefde vir hul eie nie so ons mag ook nie.

Adolf ·

Wys net hoe BANG hulle vir ons taal is. Maar ons taal sal voortleef al maak die banggatte wat!!!! Viva AFRIKAANS. MY TROTS, MY ROTS!!!!

Allop ·

Weereens n aanval op Afrikaans Ek dink dit spruit uit n inherente minderwaardige gevoel van ander inheemse tale wat nie die uitdrukkingsvermoee van Afrikaans het nie.

Republikein in die Wes Kaap ·

Die Moskou Staat Universiteit se Afrikaanse departement kan die skryfskool oorneem.

Danie ·

Ja, voorwaar is Akademia ‘n beter opsie vir dié ATKV skryfskool. Orania se universiteit word ook binnekort gebou. Daar kan ook ‘n tak van die skryfskool gestig word. Sodoende kan ons taal én kultuur behoue bly.

Republikein in die Wes Kaap ·

Het jy al die gesiggies van ATKV direksie en bestuur gesien?

Nettie ·

“As jy nou veeltaligheid wil bevorder, moet jy juis die individuele tale kans gee om dit te doen. Dis mos die beste manier.”

Daar’s jou antwoord, Prof Odendaal. Soos Prof du Plessis daar beskryf. Als wat net lyk na Afrikaans moet toegemaak word. Besef mense dat julle taal, en dus julle WESE word aangeval? Julle kinders se toekoms? Dat dit oorlog is teenoor ons mense? Hoe lank gaan dit nog as “niks” of nie so erg of nie soos ‘n rerige oorlog afgemaak word nie?

So is daar mense wat nog dink die NWU is nie onder ANC beheer nie?

Harley Davidson ·

Nee,hoekom afrikaans word deur almal geteiken ,ek sê stig ‘n bedryfskool onafhanklik vir Afrikaans sprekende mense ongeag ras of kleur.

Jacobus ·

Snaaks dat dieselfde karakters altyd opduik waar ontafrikaansing sy kop uitsteek! Verlies vir PUK!!!

My siening ·

ATKV is meer vir ander kulture as vir wat hul voor staan dis hoekom ek nie aan hul behoort nie, hul vakansie plekke is buiten sporig duur om die ander kulture te ondersteun. Verander jul naam want jul is nie n Afrikaanse kultuur vereniging, dit moet wees kulture sonder grense wat Afrkaans uit sluit KSGWAUS!

jou gewete ·

gaan jare nie meer na hulle oorde nie, daars veel beter wat nie dagbesoekers aanvaar wat verdring en verwoesen teen beter pryse ook

Martie Smartie ·

Daars hy, Afriforum/ Solidariteit, neem dit oor asb. Die NWU volg mos maar net US se voorbeeld. Hulle glo mos as jy Afrikaans doodmaak sal ander tale vanself gedy. Rasionele denke was mos maar nog nooit deel van die ANC se mondering nie. Sjym

Marthinus W ·

Wat gaan aan by die ATKV? n Paar jaar gelede het hulle Lapa-uitgewers aan die Amerikaners (Penguin Random House) verkoop, en nou dit?

swartetjie ·

Nou is die tyd vir imbors. Die ATKV moet sy erfenis gestand dien en die skryfskool by Akademia vestig. Dis moonik, op voorwaarde dat daar inderdaad ‘n verbondenheid aan Aftikasns as taal en kultuurdraer is. Laat ons sien waar staan die ATKV werklik

jou gewete ·

alle tale en kulture kom voor Afrikaans is waarvoor hulle staan

Paul ·

Vergeet maar van die staat se universiteite, hulle het te veel probleme as daar iets in Afrikaans is. Doen dit by Akademia.

Adri ·

Laaste stuiptrekkings van ‘n voormalige trotse Afrikaanse universiteit.

Henk ·

Laat elkeen skryf in sy eie taal. Hulle sê seker nie daar mag nie meer in Afrikaans geskryf word nie of hoe? As ‘n Venda in Venda wil skryf laat hom maar toe, ek weet net nie wie sy werk gaan nasien nie. Afrikaanse dosente kan dan mos maar Afrikaanse skryfwerk nasien. Moet net nie sommer padgee nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.