Atleet op herstelpad ná gru-ongeluk

Lariza James is vroeër vanjaar ernstig beseer toe ’n vragmotor by ʼn kruising glo versuim het om stil te hou en met haar Ford Icon gebots het. (Foto: Facebook)

“Ek weet my tyd op aarde is nog nie verby nie en ek kan voel hoe die Here my styf teen Hom vashou en deurentyd versterk.”

Só sê Lariza James (26), ’n sportwetenskaplike en -afrigter van Orania in die Noord-Kaap, oor die gru-ongeluk wat op 22 Februarie byna haar lewe gekos het. Só ernstig was die ongeluk dat sy vir ʼn ruk daarna blind was.

James, ’n kranige atleet, was dié dag omstreeks 06:00 op pad huis toe nadat sy ’n kliënt gesien het om ’n vinnige koppie koffie af te sluk voordat sy oudergewoonte sou gaan hardloop.

’n Vragmotor wat glo versuim het om by ’n stopteken stil te hou het James se wit Ford Icon van regs getref.

Nooddienswerkers moes die bokant van haar motor se dak afsny om James uit die wrak te bevry waarna sy met ’n noodhelikopter na die hospitaal vervoer is.

“’n Mens dink nooit dat dit met jou sal gebeur nie. My dagboek was vol en vooruitbeplan. Ek het egter net weer besef dat jy nooit weet hoe die dag gaan uitdraai nie.”

Hoewel James nie baie van die ongeluk kan onthou nie, sê sy dat haar liggaam ná die ongeluk in skok gegaan en dat sy baie bloed verloor het.

“Ek was vir ʼn hele ruk blind en kon aanvanklik nie my onderlyf beweeg nie.”

James is vyf weke lank in die hospitaal behandel. Sy sê dat dokters en mediese personeel gereeld “geskok was” dat sy die ongeluk oorleef het.

“Dit was regtig ’n wonderwerk. Baie mense het al gesê ek moes nie eintlik hier gewees het nie.”

“Ek is baie dankbaar vir die belangrike besluite wat nooddienswerkers van Rocket Hems, plaaslike veiligheidstrukture en ander nooddienswerkers op die ongelukstoneel geneem het om my lewe te red. Hulle fenomenale optrede was die verskil tussen lewe en dood.

“Ek is ook innig dankbaar vir die ondersteuning wat ek sedertdien van OraMed-hospitaal se personeel en ander mediese werkers ontvang het.”

James was ten tyde van die ongeluk besig om vir die Laser Run SA-wedloop voor te berei waarvoor sy kort voor die ongeluk gekwalifiseer het en in Maart aan sou deelneem. Sy het gehoop om vir die Laser Run-wêreldbyeenkoms, wat van 14 tot 16 Junie in Egipte plaasgevind het, te kwalifiseer.

“Ek was op die toppunt van my atletiekloopbaan en het my beste tye nóg gehardloop.”

James, wat voor die ongeluk twee keer per dag geoefen het, sê die herstelpad is nie altyd maklik nie en kan nog twee jaar duur.

Haar pelvis is steeds gebreek en sy ontvang gereeld fisioterapie. Hoewel James kan loop mag sy nog nie hardloop of oefen nie. Sy kan ook nie vir lang tye aaneen sit nie en sê dat haar spiere baie verswak het.

“Die atleet in my verwag dat ek lankal moes herstel het en wil, nes met ’n sportloopbaan, druk om elke dag te verbeter. Ek het egter geleer dat ek geduldig moet wees – myself kans gee en dissipline moet handhaaf.”

“Jy voel nie elke dag positief nie, maar jy het meer krag in jou as wat jy besef.”

ʼn Positiewe nadraai

James sê sy vat haar herstelproses dag vir dag en probeer haar aandag toespits op dít waarvoor sy dankbaar is en die feit dat sy leef.

“Ek het geleer die beste wat jy kan doen is om elke dag net op te daag – maak nie saak hoe moeg jy is, hoe seer jy het of hoe negatief jy voel nie. Daag op nes jy is en doen wat jy kan.

“Moenie meer van jouself verwag as wat jy kan bied nie.”

Die ongeluk, sê James, het ondanks die emosionele en fisieke impak op haar lewe ook ’n positiewe nadraai.

Sy is tans besig met kursusse in die rehabilitasie van sportbeserings en sê dat haar eie herstelpad haar inspireer om ander te help.

“My eie rehabilitasie het ’n passie in my aangewakker om ander mense met hul rehabilitasie by te staan en te help.”

James sê dat sy van dag een af deur die ondersteuning van die hele Orania-gemeenskap, haar man, Richard, en ouers oorweldig is.

Hoewel dit haar aanmoedig en dra, sê sy dat dit ook belangrik is om jouself te motiveer.

“Jy moet in jouself glo en jouself liefhê. Dis baie belangrik. Jy is sterker as wat jy dink.”

“Ek het ook geleer dat ek vir myself kan opstaan en moet wegstap van mense en dinge wat nie ’n positiewe impak op my lewe het nie – want jy kry net een lewe. En ek is ongelooflik dankbaar dat ek dié lewe kan leef.”

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Misky ·

So dankbaar dit gaan beter en jy herstel so goed Lariza. Sal baie graag wil weet of die trokbestuurder strafregtelik aangekla is, want dis poging tot moord

Louisepretorius ·

Dit wys net geloof in die Almagtige God en die wete dat God bestaan.is ‘n werklikheid.sterkte vir jou en jou families.

Anel ·

Wat ‘n inspirerende jongmens. Baie sterkte op jou pad vorentoe.

Cherokee ·

En die lorriebestuurder? Die berig behoort ook te vertel wat daar gebeur het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.