Augrabies raas al harder

(Foto: Eksklusief aan Maroela Media verskaf deur James du Plessis)

Die Oranjerivier het Dinsdag by die Augrabieswaterval Nasionale Park tot 2 045 kubieke meter per sekonde toegeneem – en dit sorg vir ʼn pragtige skouspel.

Die watervlakke het toegeneem omdat die Vanderkloof- en Gariepdam albei meer as 100% vol is en water in die Oranjerivier vrygelaat is. Dit vloei dan via die Oranjerivier na die park.

Die normale vloei van die Oranjerivier by die waterval is gewoonlik tussen 20 en 50 kubieke meter per sekonde.

Geneviève Maasdorp, SANParke se streekswoordvoerder, het Woensdag aan Maroela Media gesê die waterval lok talle besoekers na die warm Noord-Kaap.

“Dit is weens die skouspelagtige waters dat baie mense se nuuskierigheid hul dwing om die waterval te besoek en een van die wonders van die natuur in lewende lywe te sien.

“Ons besoekersgetalle het tot altesame 2 323 oornag- en 15 107 dagbesoekers vir Desember toegeneem. Ons verwag egter dat die getal hierdie naweek byna gaan verdubbel terwyl besoekers na die park stroom.”

Maasdorp sê die aansig en geluid van die water wanneer dit uit die rotsagtige omgewing losgelaat word, doen waarlik sy inheemse naam gestand. Dit is geërf van die Khoi-mense wat dit “Aukoerebis” of “plek van groot geraas” genoem het.

“Die Oranjerivier nader die Augrabies-waterval en verdeel in talle kanale voor dit in die 56 m hoë waterval afstort. Die rivier gaan dan voort met sy pad deur ʼn 18 km lange kloof.”

(Foto: Eksklusief aan Maroela Media verskaf deur James du Plessis)

In Februarie verlede jaar was die water net so hoog en het dit net onder 3 000 kubieke meter per sekonde gedraai.

Maasdorp sê dat die Augrabies-waterval nie volgens die departement van water en sanitasie verlede jaar se syfers gaan verbysteek nie.

“Die hoogste wat dit na verwagtinge hierdie jaar sal bereik, is 2 300 kubieke meter per sekonde, maar hierdie verwagtinge kan enige dag verander as die Vanderkloof- en Gariepdam hul sluise verder oopmaak.”

Sy sê dat die vol rivier vir die organisasie ʼn goeie inkomste genereer en help om die parke vir Suid-Afrikaners te bewaar.

“Augrabieswaterval Nasionale Park se natuurlewe gaan floreer en die veld en diere gaan beslis baat vind uit die vol Oranjerivier,” sê Maasdorp.

“Na verwagting sal die vol Oranjerivier vir vier tot vyf dae so bly en daarna stadig terugkeer na normaal. Ons kyk dus na die verloop van twee weke of meer, maar dit is weereens afhangend van die oopmaak van sluise by die Vanderkloof- en Gariepdam.

“Ons is oop vir dagbesoekers sowel as oornagbesoekers en sien daarna uit om die prag van ons skouspelagtige park en waters met almal te deel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Misky ·

Wat ‘n asemrowende en mooi gesig is dit nie!!!! Alle eer aan Hom

Marius ·

Het al op ‘n paar geleenthede die valle besoek en elke keer is dit ‘n asemrowende ervaring. Hier sal jy die Here se skeppende hande eerstehands ervaar.

4ntj13 ·

So onder 3000 kumek rond lyk die valle indrukwekkend, en besoekers geniet dit. Gewoonlik is hy gelys vir gemiddeld 313 kumek.
Vaaldam is nou 110% vol, Bloemhofdam 112%, en beide !Gariep en Vanderkloof is 109% — dus is daar min beheer oor terwyl dit steeds goed reën en piek-reënvaltye eers ʼn maand of wat later is. Net onder die samevloei van alle groot riviere wes van Douglas, is gister 2600 kumek gemeet. Meeste gaan deurloop omdat die deltas reeds volgeloop het.
Mense wat wil besoek moet ook onthou dat omliggende gebiede totaal verspoel teen vloede soos 1988 se 7800 kumek.
Ek wonder of mense nie video’s mag neem vanaf ʼn hommeltuig in die kloof nie. Mens wil graag nog in die Winter ook kan kyk hoe dit gelyk het toe dit nog bloot pragtig sterk gevloei het. En klomp tuisblyers ook! Dankie dus vir álle artikels oor daardie ongelooflik mooi natuurwonder in ʼn verskriklike warm streek van ons land!

isabelle ·

Water is lewe …dis so mooi ek kyk daai brug se standvastigheid behoorlik uit

H.A. ·

En so loop die water weg, kan nog damme volgemaak het, as hulle nog damme gebou het!

Anthony ·

Pragtig. Net vir interresantheid, weet iemand , size wise, hoe vergelyk die Augrabies waterval met die Niagara Falls watervalle?

Duck ·

Ek het die voorreg gehad om hom te sien tydens die droogte – toe was dit net ‘n ou stoompie daar onder in die wateval, en toe ek weer gaan, was dit een reuse masiewe waterval soos nou. Pragtig dan weet jy hoe nietig is die mens eintlik

annie ·

Kan water nie opgevang word in groot houers soos petroltenks vir droë tye nie… Die gebied daarnaas is erg droog. Die reën het verniet geval as dit bloot wegloop na die see. Die Romeine het lank gelede al planne beraam om water te benut, ook die Egiptenare. Elke dam wat oorloop bied geleentheid om die ekstra water op te gaar want dikwels bring die oorlading van riviere erge skade, maar ons bou eerder weer ‘n parlement.

Andre ·

Asemrowend om te aanskou maar dink ook aan al die boere wat hewige verliese gely het langs die groot rivier.Dankie vir die boere wat nooit opgee nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.