Avokadoboere verheug oor uitvoere na China

 

(Foto: Pixabay)

Avokado’s, die mineraal- en vitamienryke groen vrug wat ook as ʼn bottervrug bekend staan, bly ʼn gewilde gewas onder boere – en ʼn groot gunsteling onder verbruikers, ook in Suid-Afrika. Kenners sê avokado’s het boonop groot potensiaal om broodnodige werk in ʼn sukkelende ekonomie te skep.

Maroela Media het vroeër berig Thoko Didiza, die minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, het vandeesweek ʼn ooreenkoms vir die uitvoer van avokado’s met China onderteken – tot groot vreugde van die plaaslike bedryf.

Fritz Ahrens (Foto: Verskaf)

In die afgelope paar jaar het die avokadobedryf in Suid-Afrika met 4 750 ha uitgebrei wat die algehele omvang tot meer as 18 000 ha verhoog het.

Fritz Ahrens, wat al langer as 30 jaar naby Louis Trichard met avokado’s boer, sê al hoe meer avokado’s word aangeplant wat veroorsaak dat die verbruikersmark meer beperk raak.

“Daarom is dit goed dat ons die Chinese mark nou bykry. Dit is regtig wonderlike nuus, ons wag al lank hiervoor.

“Ons is nader aan China as mededingende lande in die bedryf en ons is verheug dat boere nou ʼn bykomende markgeleentheid gegun word.”

Suid-Afrika se uitvoere na China sal minstens 10 dae minder neem as sy grootste mededinger, Peru. Avokadoprodusente soos ZZ2, Core Fruit en Mission Produce Southern Africa is boonop ideaal geleë om voordeel uit die toegang tot die Chinese mark te trek.

Derek Donkin, uitvoerende hoof van The South African Subtropical Growers’ Association (Subtrop), die sambreelliggaam vir subtropiese gewasse, sê hulle het 10 jaar gewerk om die ooreenkoms met China ʼn werklikheid te maak.

“Die Suid-Afrikaanse avokadobedryf het sedert 2009 regtig die vrugte begin pluk van die steeds groeiende verbruikersvraag na avokado’s.

(Foto: Pixabay)

“Suid-Afrika voer hoofsaaklik na Europa uit; ongeveer 95% van avokado-uitvoere gaan na lande in Europa en die Verenigde Koninkryk. Om ʼn bykomende mark met soveel potensiaal te kry, is verblydend.

“Uitvoere na China sal ons in staat stel om voort te bou op avokadoproduksie in Suid-Afrika en dit vir ons moontlik maak om dit verder uit te brei,” sê Donkin.

Volgens hom is daar nog baie ruimte vir avokadoboerdery in Suid-Afrika en is dit nie net voordelig vir boere nie, maar ook die land in die geheel.

“Meer werksgeleenthede sal geskep word. Baie van die avokadoboorde word in arm landelike gebiede geplant – waar werksgeleenthede baie nodig is.

“Daar sal ook werksgeleenthede oor die hele waardeketting en by diensverskaffers geskep word.

“Die toegang tot China is ʼn wonderlike voordeel vir ons land en behoort ekonomiese groei te verhoog,” sê Donkin.

Uitwerking op plaaslike verbruikers

(Argieffoto: Pixabay)

Hoewel boere verheug is oor die ooreenkoms, is talle verbruikers bekommerd dat die uitvoere na China ʼn swakker gehalte produk vir plaaslike verbruikers gaan beteken.

“Dit kan waarskynlik só wees,” sê Ahrens.

“Verbruikers is nie verniet bekommerd dat hulle met laer gehalte avokado’s op winkelrakke gelaat gaan word nie, aangesien die meeste hoë gehalte avo’s waarskynlik uitgevoer sal word.

“Hoe meer vrugte na die internasionale mark uitgevoer word, hoe minder gaan daar in die plaaslike mark beskikbaar wees.

(Foto: Verskaf)

“Ek glo egter nie Suid-Afrika gaan te veel skade ly nie, omdat die mark vir avokado’s wat ryp in kettingwinkels verkoop word, aansienlik gegroei het.

“As jy ʼn gehalteproduk wil hê, soos die ‘ryp-en-gereed’-avokado’s wat by Woolworths en Pick n Pay verkoop word, gaan jy egter daarvoor moet betaal,” sê Ahrens.

ZZ2, een van Suid-Afrika se grootste avokado-produsente, het die nasionale en Chinese regerings met “die uiters belangrike ooreenkoms” gelukgewens.

“Ons is veral ook dankbaar vir die Suid-Afrikaanse Avokado-kwekersvereniging (SAAGA) wat onvermoeid gewerk het om die regering vanuit ʼn tegniese oogpunt by te staan om toegang tot China te verkry.

“Tot nou toe, weens die ooraanbod van avokado’s in Europa hoofsaaklik deur Peru, was die Suid-Afrikaanse avokadobedryf weens ʼn gebrek aan markopsies huiwerig om sy produksiebasis uit te brei.

“Nou het Suid-Afrika die potensiaal om sy avokado-aanplantings te verdriedubbel.

“In terme van grond, water, mense en kennis het ons genoeg hulpbronne om weer ons plek as ʼn ware krag in die wêreldwye avokadomark in te neem.

“Ons het ook dekades lange ondervinding in langafstandversending. Die avokadomark in Suid-Afrika het gestagneer weens ʼn gebrek aan marktoegang, maar ons hoop dat die toegang tot die Chinese mark en markte soos Indië en Japan die nodige momentum sal gee sodat ons ware rolspelers in die bedryf kan word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.