Baaise matrikulante nié wreed teenoor diere – ondersoek

Die twee kalkoene wat tydens die vieringe by die skool gaan haal is. (Foto: Facebook)

Matrikulante aan twee spogskole in Gqeberha (Port Elizabeth) het hulle nié aan dieremishandeling skuldig gemaak toe hulle onlangs sonder toestemming aan sogenaamde “40 days”-vieringe op hul onderskeie skoolterreine deelgeneem het nie.

Die leerders het wel ʼn gebrek aan empatie teenoor diere getoon.

Dít is die bevindings van Grey High School se ondersoek na die voorval wat hom op die aand van 9 Augustus op die terreine van dié skool én Collegiate Girls’ High School afgespeel het.

“Ons ondersoeke het geen bewyse van opsetlike wreedheid teenoor diere opgelewer nie, maar grootliks ʼn gebrek aan empatie teenoor diere en ʼn onvolwasse houding by ʼn klein groepie leerders wat ʼn gebrek aan begrip vir die moontlike gevolge vir hul optrede getoon het,” sê Christian Erasmus, rektor van Grey High School, in sy jongste omsendbrief aan ouers.

“Terwyl die matrikulante se gedrag onaanvaarbaar is en daartoe gelei het dat diere getraumatiseer word – waarvoor hulle gestraf sal word – steek daar geen waarheid in die sadisme en wreedheid wat in sommige koerante en sosiale media beskryf word nie.”

Daar is aanvanklik beweer dat hoenders en kalkoene tydens die reeks vieringe onder meer vasgebind en in swembaddens gegooi is. Daar was ook bewerings dat ʼn paar koi-visse nie die vieringe oorleef het nie.

“Ons kan bevestig dat geen hoenders gepluk, geskop of verdrink is nie. Geen vis is boonop doodgemaak nie en daar was geen poging om die koi-visse in die dam te vergiftig nie,” sê Erasmus in sy brief wat Maroela Media Woensdag onder oë gehad het.

Daar is bevind dat een hoender wel op Collegiate Girls’ High School se skoolterrein vrygelaat is. Volgens Erasmus is die dier in ʼn verwaarloosde toestand aangekoop. Die hoender se pote was dus reeds vasgebind en sy vlerke toegedraai toe hy aangekooop is, aldus die ondersoek.

Dié hoender word tans op ʼn kleinhoewe versorg.

Vier hoenders is ook die betrokke aand op Grey High School se kampus vrygelaat. Twee van die hoenders is in klaskamers vrygelaat en die ander twee in die binnehof. Daar is bevind dat een van die diere gedurende die vieringe oornag in die dam geval het.

Die dier is die volgende dag nat en deurmekaar gevind.

Twee kalkoene is ook op Collegiate Girls’ High School se astrobaan vrygelaat. Die diere is ongedeerd en tans in die besit van Arnold Slabbert, ʼn kenner en konsultant vir die beheer van probleemdiere by die Urban Raptor Project. Hy het die diere ná die vieringe by die skool gaan haal.

Die ondersoek het wel onthul dat ʼn aantal duiwe ongelukkig van kant gemaak moes word nadat hulle in die skoolsaal vrygelaat is. Die diere kon nie deur die oop saalvensters en deure ontsnap nie. Hulle het gespartel om vry te kom en hulself in die proses beseer.

“Die hartseer werklikheid is dat die trauma wat gely is deur die diere wat op kampus vrygelaat is, en die situasie waarin ons ons nou bevind, vermy kon gewees het en nie weer mag gebeur nie,” sê Erasmus nou.

Die Baaise rektor het ook sy versekering gegee dat die betrokke seuns nie net waarskuwings ontvang het nie, maar ook werksessies en gemeenskapsdiens sal moet voltooi.

Grey High School se matriekklas is ook aangesê om die toiletpapier, seep, meel en rou eiers wat die betrokke aand oor die kampus gegooi is, self skoon te maak. Selfs leerders wat nié aan die vieringe deelgeneem het nie, asook seuns in laer grade, het hand bygesit.

Erasmus sê die skool is deurgaans in verbinding met die Animal Anti-Cruelty League (AACLPE) wat ook hul eie ondersoek na die voorval gelas het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Pieter ·

Die gedrag en optrede bly dwaas en afkeurend. Veral as die mens as heerser oor God se skepping. Sal nie in sulke mense belê nie.

Anel ·

Dit bly in my oë dieremishandeling. Of dit ‘n hoendervof ‘n duif is, hulle het onnodige trauma ervaar. Onaanvaarbaar nie! As hulle op so ‘n jong ouderdom begin, wat gaan nie in die toekoms gebeur nie?

miche ·

Daai was nie net gewone skool-stoutigheid nie. Als ( en die waarheid) word nou weer onder die mat gevee soos gewoonlik.

isabelle ·

vandag se tye is SKRIKWEKEND,ek het baie te doen met tieners en my mond hang oop met die vuil taal wat hulle gebruik,die onheilige speletjies en gemors wat hulle op hulle selfone mee besig is ERGSTE VAN ALLES daar word niks omtrent dit gedoen nie,baie ouers vandag is maar blind vir kinders se foute en baie skole kan net met hand in hare

Helene ·

Ek het nie woorde nie. Dit was dieremishandeling. Sogenaamde toekomstige leiers.

Estelle ·

Ek wonder waaroor wil hierdie kinders eendag “spog” as hulle vertel van hulle 40 days …

Di ·

Ja nee kan net dink WIE dit gedoen het, daarom word dit nou afgemaak as niks ernstig nie.

Zollie ·

Om watter rede bring ‘n mens diere na ‘n skool en dit om 40 days te vier. Sodat met hulle gemaak kan word wat jy wil en hulle nie terug kan baklei nie? Gaan my verstand te bowe dat kinders wat op daai ouderdom as volwassenes beskou wil word sulke goed kan aanvang. Geen respek vir niks en niemand nie.

isabelle ·

waar n rokie is daar is n vuurtjie…….Klink vir my hulle wil die waarheid toe smeer,buitendien waarom sal mense sulke dinge kwyt raak? VANDAG SE JEUG MORE SE LEIERS…..ek is geskok waar meeste se prioriteite en belangstelling le :(

Elma ·

Julle kan maar sê wat julle wil en probeer oortuig dat hier niks wreeds gebeur het nie. Die gedrag van “onse jeug” is absoluut walglik.

Maritza ·

Kan nie onthou dat ons in ons dae so 40 days gevier het nie. Wat het diere nou eintlik te doen daarmee?

Jakkie ·

Die optrede van die matrieks is onaanvaarbaar en stel ‘n swak voorbeeld. Ek sou daarvan gehou het as die skool bietjie strenger opgetree het. Dis jong mense en moet hulle verantwoordelik neem vir hul dade en veral die ouers en tot ‘n mate die skool moet nie hul opvoedingstaak versaak nie. “n Gulde geleentheid is verspeel deur die rektor( in my dae die skoolhoof) om van ‘n verleenteheid ‘n geleentheid te maak……..

Helene ·

Seker Pappie en Mammie het so bietjie geldtjies “donate”….. dieremishandeling PUNT!

VannieBaai ·

Maar natuurlik sal hulle so bevind………het dit verwag. Dis mos rykmansskole…….iemand is betaal (of af-betaal).

Hasie ·

Geen dier is ‘ n speelding nie. En die wys van Geen simpatie is ongelukig dieremishandeling …kla.Die skool het Geen ondervonding of die kennis om so ‘ n ondersooek te looks nie. Huloet die Animals Cruelty Act 71 of 1962 ( a) En Ek haal aan ” overloads,overdriven,overrides, ILLTTREADS ,neglctsv,INFIRIAYES ,torture …….beats ,kicks, GOADS or TERRIFIES any animal ”
(b ) CONFINES ,. …… TETHERS or SECURE any animal UNNECESSARY or UNDER SUCH CONDITIONS or in such manner …….AS TO CAUSE THAT ANIMAL UNNECESSARY SUFFERING or in any place which affords INADEQUATE SPACE …..
En Dan dink Ek aan die 5 Vryhede waaraan die DBV Glo…
Vryheid van honger ,dors en wanvoeding
Vryheid van ONGEMAK
VRYHEID VAN PYN …..
VRYHEID OM NORMALE GEDRAG UIT TE LEEF
VRYHEID VAN VREES EN STRESS …..
Die Kinders Moet Gaan werk by die DBV Om te Sien wat Se impak het die kleinste optrede op ‘ n dier …..ENIGE DIER !

Astrain ·

Dis nou ‘n nuwe siekte by skole…ons skool het ook deurgeloop…tekens van ‘n swak en ongedissiplineerde jeug met geen grense of respek nie. Stop 40 days vir ewig!

Christine ·

Stem heeltemal saam, die jeug is buite beheer en neem geen verantwoordelikheid vir hul dade nie en nou beskerm die skool en die ouers hulle.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.