Kalkoene, hoenders glo tydens ‘40 days’ mishandel

Die twee kalkoene wat tydens die vieringe by die skool gaan haal is. (Foto: Facebook)

’n Herrie het om ’n groep matriekleerders aan twee spogskole in Gqeberha (Port Elizabeth) losgebars nadat hulle vandeesweek hoenders en kalkoene tydens hul sogenaamde “40 days”-vieringe op die skoolterreine vrygelaat het. “40 days” word tradisioneel gevier wanneer matrikulante net 40 dae van skool oorhet voor die matriekeksamen begin.

Daar word beweer dat dié diere tydens die leerders aan Grey High School en Collegiate Girls’ High School se reeks vieringe onder meer vasgebind en in swembaddens gegooi is.

Christian Erasmus, rektor van Grey High School, sê dit is nog nie duidelik wat presies Woensdag op dié skool se skoolterrein afgespeel het nie en ’n ondersoek is van stapel gestuur.

“Hoewel sekere bewerings moontlik bespiegelend en duidelik verkeerd kan wees, skilder hulle ’n skokkende prentjie en het dit baie verleentheid veroorsaak, gegewe dít waarvoor ons staan ​​en wat ons, oor 12 jaar, by ons seuns probeer vestig het,” sê Erasmus.

Luidens ’n interne brief aan ouers het ’n groep seuns en meisies toegang tot Grey High School se terrein verkry en die kampus gevandaliseer. Toiletpapier, seep, meel en rou eiers is oor die kampus gegooi terwyl lessenaars in klaskamers onderstebo gegooi is.

“Wat die meeste kommer wek, is dat ’n baie klein minderheid besluit het om vee op dié kampus én Collegiate se kampus vry te laat,” sê Erasmus en Garth Morris, beheerliggaamvoorsitter, in die brief wat Donderdag aan ouers gestuur is.

Luidens die brief het die groep ’n laakbare en “siek verontagsaming” van die diere vertoon. “Die afgryslike gedrag wat aangemeld is, het geen plek by ons skool of enige ander plek nie.”

Arnold Slabbert, ’n spesialis en konsultant vir die beheer van probleemdiere by die Urban Raptor Project, sê ’n opsigter het hom Woensdag na Collegiate Girls’ High School ontbied om twee kalkoene te gaan oplaai.

“Die storie agter die kalkoene was so bisar, selfs ek was geskok,” sê Slabbert in ’n inskrywing op sosiale media.

Volgens Slabbert is die kalkoene se pote aan mekaar vasgebind voordat hulle in ’n leë swembad gegooi is. Hoenders se pote is glo die vorige week by Grey High School aan mekaar vasgebind voordat hulle ook in ’n swembad gegooi is.

’n Hoender se vere is ook na bewering uitgepluk voordat dié dier in ’n plastieksak vasgebind is.

Die departement van onderwys het intussen van die bewerings kennis geneem.

Mali Mtima, woordvoerder van die Oos-Kaapse departement van onderwys, het vanoggend aan Maroela Media gesê die departement het ook sy eie ondersoek na die bewerings gelas.

“Ons is geskok en ontsteld oor hierdie bewerings en wil graag sien dat hierdie skole so gou moontlik op die bewerings reageer.

“Die departement is gekant teen enige dieremishandeling, daarom probeer ons ons kinders leer dat ons as mense saam met diere bestaan ​​en as sodanig moet ons hulle beskerm en koester.

“Ons doen ’n beroep op ouers en die gemeenskap om kinders te help leer dat diere beskerming en versorging nodig het; daarom is enige dieremishandeling teen die wet en iemand kan daarvoor vervolg word.”

Moontlike vervolging?

Die Animal Anti-Cruelty League (AACLPE) het reeds talle oproepe van gemeenskapslede ontvang wat daarop aandring dat die betrokke leerders strafregtelik vervolg word. Die organisasie wys egter daarop dat bewyse benodig word om die saak verder te voer. “Getuienis van hoorsê is nie voldoende nie.”

Die AACLPE doen ’n beroep op enige ooggetuies om na vore te kom en verklarings af te lê.

Erasmus het in die brief aan ouers benadruk dat Grey High School se ondersoek nog nie afgehandel is nie.

“Die werklikheid is dat ons nog nie ons ondersoek na hierdie gebeure voltooi het nie en ook nie die hoofsondaars geïdentifiseer het nie. Ons is vol vertroue dat ons sal kan vasstel wat gebeur het en wie verantwoordelik is.”

Collegiate Girls’ High School wou Vrydagoggend geen kommentaar rakende die bewerings lewer nie. Daar is wel aan Maroela Media bevestig dat die skool die bewerings ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

29 Kommentare

Trotse Boervrou ·

Julle moet so dankbaar wees ek woon vêr van julle af! Skuim van die aarde!

wendy ·

Watse boodskap stuur hierdie leerders uit rerig spog skole spog leerders sies ek skaam my dood wat gaan in sulke huise aan watse opvoeding kry hulle jammer ek het geen simpatie nie

Jack ·

Skande.Leer kinders asb om respek vir diere ens te hê.Geen maniere,geen waardes en geen integriteit.As jy ‘n dier kan mishandel sonder om oog te knip is jy NIKS en niemand en verdien jy net wat na jou toe terug kom.

Magda G ·

Wys hulle opvoeding. Wil mos in die “lime light” wees in groepsverband. Patete

Jr ·

Is dit nie ironies nie. Jy kan baie geld hê, maar jy kan nog nie etiket, maniere en morele koop wat eintlik verniet is.

Pieter ·

Mens sien dit elke dag ne, die mooiste karre en klere, maar daar sal pap op die kar se dak neergesit word en met die hande geeet word. Soos jy se geld kan nou nie alles koop nie,al dink die persone so

Magda G ·

Stem saam want party kinders dink mos geld kan alles loop. Patete

Eiervrug ·

Hulle sê mos: “Some people are so poor, all they have is money”. Dis so waar…

BARNEY ·

En dit is hoe hulle mense ook gaan behandel in die toekoms, swak! Sluit hulle toe en laat die regstelsel met hulle deel, tronkstraf sonder die keuse van n boete.

Johann ·

Die tipe “gedrag” pop nie op 40 days skielik van iewers af op nie. Dis ‘n “gedrag” wat op vele geleenthede vóór die 40 days dag uitkom. Ongelukkig ook nà 40 days….

Magda G ·

Stem en as die sondebokke in n groep is dan dink die voorbokke hulle is in beheer. Sleg wetters

absoluut ·

40 days tronkstraf vir al die skuldiges klink vir my gepas

Madelein ·

Ek is woedend…sal liewers nie sé wat ek graag wil sé nie

Pieter ·

Dis dan ook geensins snaaks dat dieselfde persone oor ‘n jaar of wat verder in ‘n koshuiskamer op ‘n mede-student se besittings urineer nie…..

Daar is ‘n algehele morele verval in die jeug te bespeur! Bewyse van die afskaffing van lyfstraf?

Andre ·

Vandat alles normaal is en aanvaar moet word, word die ergste in hulle uitgewys.

VaalDonkie ·

Ek onthou ons moes in beesmis-water swem en rou eiers eet. Ek weet nie waar kinders aan sulke walglike idees kom nie. En dis nie eens die ergste goed nie. Ek kan net nie daarvan praat in hierdie kommentare nie.

Hendrik Marthinus ·

Maroela lesers
Ai mense nie almal wat in Grey of Collegiate is is skuldig nie
Die feit Dat dit n spog skool is maak nie almal ruk,
wat se kinders daar skool gaan nie.
My seun is in matriek daar en glo my ek is glad nie ryk nie, ek huur n huisie is geskei en Wil net die beste he vir my seun.
Is elke ouer se wens nie om dit vir jou kind te gee wat ons nie gehad het in die Lewe nie.
My seun het Baie Baie goeie maniere, Dus sekerlik net n bietjie matrieks seuns wat 40 days vieringe bietjie ver gevat het.
En ja straf hulle maar Moenie die skool en al sy leerlinge as sleg afmaak nie

Hannelie ·

Mmmmmm geld kan glad nie maniertjies koop nie né!!! Hoop hul word vervolg.

#013 ·

Klomp gemors, ek hoop hul word permanent geskors uit die skool uit, en hul word aangekla en skuldig bevind. Hul verdien geen toekoms nie. Hul moet behandel word soos hul die onskuldige diere behandel het

Lisma ·

Mense is besig om totaal mal te word!! Wat is fout met jou as jy sulke goed aanvang, in watter wereld is dit snaaks!! Skokkend!!

Mariana ·

Dit laat mens wonder waartoe hierdie kinders in staat is. 40 days is seker maar altyd ‘n groot dag vir matrieks maar hierdie klomp kinders het nou die dag se pret te ver gevat. Waar kom hulle aan hulle idees. Dit is onmenslik en walglik wat hulle aan die diere gedoen het en hulle moet gestraf word, maak nie saak wie en wat hulle is nie. Ek dink ook nie almal het deelgeneem nie. Sulke kinders maak daardie dag onaangenaam vir ander. Wie is jy as jy diere so kan mishandel? Wreedaardig en breinloos? En hulle is SA se toekoms? Nee dink nie so nie.

Kwikkie12 ·

Ouers gaan nie meer kerk toe nie. Ouers hou nie meer huisgodsdiens nie. Ouers spandeer minimale tyd met hulle kinders. Ouers is geen voorbeeld nie. Ouers beskerm hulle klein terroriste. Ouers weet nie wat hulle kinders doen en voor kyk nie. Ouers gee ook nie regtig om nie want hulle eie lewens is ‘n gemors. Kinders projekteer wat hulle hoor en sien. Geen verskonings meer nie!!

Byekonfyt ·

Watter gruwelike gedrag. Ek sal my ook skaam om met die skole geassosieer te word. Hoop hulle kry diegene wat dit aangehits het voor stok.

Janee ·

Hier sit ons met kinders wat erge kriminele gaan word….en dit is hulle alreeds.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.