Baanbrekersaak kan wet oor eise ná verkragting wysig

Deur Tania Broughton, GroundUp

Die hooggeregshof in Durban. (Foto: Nomfundo Xolo/ GroundUp)

In die eerste saak van sy soort in Suid-Afrika, het ʼn vrou begin met ʼn siviele eis teen ʼn groep mans wat sy sê haar 40 jaar gelede verkrag het. Die wet bepaal tans dat siviele eise vir seksuele oortredings binne drie jaar ná die oortreding ingedien word. Indien dit ná drie jaar ingedien word, berus die onus op die eisers om te bewys hoekom hulle nie in staat was om dit vroeër te doen nie. Slegs sielkundige probleme, intellektuele onbevoegdheid of ongeskiktheid word tans deur die hof as geldige redes aanvaar.

Daar is tans geen vervaldatum om ʼn kriminele saak van verkragting aanhangig te maak nie.

Die aansoek is in die hooggeregshof in Durban gebring. Die slagoffer (57), wat deur die regsentrum vir vroue bygestaan word, wil egter die wet verander sodat sy nie sal hoef te verduidelik waarom sy so lank gewag het om die eis in te dien nie.

In hofstukke noem die slagoffer twee van die mans wat sy sê deel van ʼn groep was wat haar aangeval het by ʼn partytjie toe sy 18 jaar oud was.

Luidens die hofstukke het sy en die eerste respondent seks met haar toestemming gehad. Die eerste respondent het toe die tweede respondent, asook ander mans, uitgenooi of toegelaat om die kamer binne te kom. Dié het haar toe vir drie ure lank verkrag en seksueel aangerand. Volgens die eiser het hulle eers opgehou toe die eerste verweerder se broer die kamer ingekom, hulle beveel het om te stop en van die eiendom verjaag het.

As gevolg hiervan, sê die eiser, is sy afgekraak en verneder, sukkel sy nou nog met ʼn lae selfbeeld en depressie en kan sy boonop nooit vir lank ʼn werk hou of in ʼn vaste verhouding bly nie. Daarom eis sy R600 000 van die respondente vir algemene skade en ook mediese uitgawes.

In hul verweer sê die respondente dat hoewel die eiser melding maak van haar geestestoestand, sy dit nie as rede voorhou waarom sy nie vroeër die eis ingedien het nie. “Daarom het die eis lank reeds verval.” Die mans ontken ook al die bewerings teen hulle.

Die regsentrum vir vroue meen egter die wet wat bepaal dat eise binne drie jaar vanaf die pleeg van die seksuele misdaad ingedien moet word, indruis teen die bepalings van die Grondwet, aangesien dit seksuele oortreders toelaat om die siviele gevolge van hul dade te vermy. Gevolglik word die slagoffer se reg op menswaardigheid en die reg om die hof te nader vir gepaste verligting, ingeperk. Dit beperk volgens die sentrum ook die staat se vermoë om die regte van vroue, kinders, kwesbare groepe en ander slagoffers van seksuele oortredings, te beskerm. Luidens die hofstukke was die eiser boonop verhoed om regstappe te doen, aangesien sy skaam gevoel het oor wat gebeur het en ook nie haar ouers daarvan wou vertel nie, uit vrees dat sy nie ondersteun sou word nie en selfs vir die voorval blameer sou word.

“Sy het skaam en alleen gevoel en was bang dat die saak haar goeie naam binne die gemeenskap skade sou berokken en dat sy as losbandig uitgemaak sou word.”

Die eiser se regspan het nou ʼn reël 16-kennisgewing uitgevaardig, wat belanghebbendes inlig oor die konstitusionele sake wat geopper is, sou hulle insae wou gee of selfs by die litigasieproses wou aansluit.

Die berig het oorspronklik op GroundUp verskyn. Lees dit hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Erita ·

Hoop die eis slaag en dat die wet dat die eise “verjaar” verander word

Aikie ·

Die saak het wel meriete, maar dit voel vir my ook na ‘n tweesnydende swaard. Wat verhoed’ n vrou om na “saamgestemde” seks te sê dat sy “verkrag” was. Hoe word die teendeel bewys na die daad gepleeg was? Dit voel my of die voordeel van die twyfel aan die vrou se kant is dat die man of mans elke keer die onderspit gaan delf.

Chris ·

Hier was so n jaar of wat ook n berig in die koerant van n man wat 6 jaar in die tronk was oor hy sy suster se kind glo verkrag het. Hy het lewenslank gekry. Na 6 jaar toe kom die meisiekind tevore en vertel sy het gelieg oor die voorval en dat sy voor gesê was deur haar ma omdat die ma kwaad was vir haar broer. Die man is toe vry gelaat maar steeds moes hy 6 jaar lank onnodig in die tronk sit en is sy naam steeds in die register vir seksverwante oortredinge opgeteken.

Piet Snot ·

Chris, jy sal verstom wees as jy weet hoe gereeld dit in werklikheid gebeur dat mans onskuldig beskuldig word (en dan skuldig bevind word).

Piet Snot ·

Hierdie saak is totale twak. Huidige reg laat nie “seksuele oortreders toe om die finansiële gevolge van hul dade te vermy nie”: dit behandel seksuele oortreders soos enige ander oortreder, met ‘n 3 jaar verjaringstyd.
Daar’s heel paar mense wat my geld skuld, maar ek het om verskillende redes besluit om hulle nie te dagvaar nie. Dan moet ek ook skielik toegelaat word om hulle na 30 jaar te dagvaar.
Dit sal onhoudbare regsonsekerheid skep.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.