Baba 176 dae in waakeenheid

Marco en Niké Muller saam met hulle dogtertjie, Marné. (Foto: Verskaf)

Sedert sy 176 dae gelede gebore is, het klein Marné Muller nog nie die buitekant van die Mediclinic Kloof-hospitaal in Pretoria gesien nie.

Marné, wat op 28 weke – sowat 80 dae te vroeg – gebore is, word sedert 3 Maart vanjaar in die neonatale waakeenheid van dié hospitaal behandel.

Hoewel haar ouers, Marco (27) en Niké (25) Muller van Springs aan die Oos-Rand, haar eers op 22 Mei moes ontmoet, het die egpaar se ginekoloog hulle in Februarie meegedeel dat klein Marné se lewe in gevaar is.

Niké is vir ʼn paar weke op bedrus geplaas, waarna Marné uiteindelik op 28 weke deur ʼn keisersnee gebore is. Sy het maar net 630 g geweeg.

Slegte nuus

“Die feit dat sy leef, is ʼn wonderwerk,” sê Marné se dankbare ouers aan Maroela Media. Hulle bars van trots oor dié “klein Sussie”, soos hulle haar noem.

“Ons was aanvanklik nie bekommerd nie. Sussie het mooi beweeg en die vorige sonars het geen gevaarligte laat flikker nie, behalwe dat sy klein was – maar dit was nie ʼn probleem nie,” vertel Marco.

“Dit was vir ons ʼn groot skok toe die dokter tydens ʼn roetine-ondersoek op 25 weke vir ons sê dat Niké pre-eklampsie ontwikkel het en dat Marné nie voldoende bloed en suurstof ontvang nie.”

Pre-eklampsie is ʼn gevaarlike swangerskapkomplikasie wat deur hoë bloeddruk veroorsaak word.

“Die dokter het dadelik vir Niké laat opneem en gesê sy gaan daar bly tot Marné gebore word. Sy presiese woorde was: ‘Julle is besig om haar te verloor’. Daar was nie ʼn ander keuse vir ons nie.”

Marné het wonderbaarlik tot op 28 weke in Niké se maag gegroei voordat sy met ʼn noodkeiser gebore is.

“Dat sy uitgehou het tot op 28 weke is ʼn wonderwerk opsigself, aangesien die dokter nie seker was of Marné selfs 26 weke sou haal nie.”

Die egpaar, albei onderwysers aan ‘n laerskool in Springs, lê nou elke dag die 150 km tussen Springs en Pretoria af om hulle dogtertjie te besoek.

“Ons bring soveel tyd hier deur as wat ons kan. Sy bereik nou die ouderdom waar sy ons begin herken en sy begin nou stimulasie benodig. Ons doen tummy time en speel met haar. Haar kamer is ook so ingerig hier by die hospitaal sodat dit vir haar gemaklik moet wees, want sy ken geen ander kamer nie,” sê Niké.

Marco en Niké het maande laas saam met vriende en familie gekuier of gebraai want die ouers laat nie ʼn dag verby gaan wat hulle nie by Marné kuier nie.

“Dit is maar net ons roetine vir nou en ons is dit al gewoond, so sleg soos wat dit is. Die mense hier ken ons ook al, van die sekuriteitsbeamptes tot die verpleegsters en dokters – en almal van hulle is mal oor Marné. Hulle noem haar die hoofmeisie van die neonatale eenheid.”

Terugslag

Marné het op twee maande die eerste keer geglimlag. (Foto: Verskaf)

Oor die vooruitsig van huis toe gaan is daar ook nog geen sprake nie en dit kan nog maande duur voordat sy in die babakamer in haar huis in Springs sal kan slaap.

“Ons kon ʼn paar weke gelede amper Marné se tassies pak en huis toe gaan toe dokters begin agterkom daar skort iets met haar suikervlakke. Haar liggaam sukkel om glukose te stoor.

“Marné se suikervlakke was in ʼn stadium so laag dat die toestel waarmee dit gemeet word, nie eers ʼn telling kon optel nie. Haar suikervlakke is steeds kommerwekkend laag en sy word twee-uurliks 40 ml borsmelk gevoer, waarvan sy tans tot 25 ml op ʼn slag drink voordat sy moeg word,” verduidelik Marco.

Die egpaar wag op bloedtoetse wat in die VSA gedoen moet word om te bepaal of Marné aan ʼn ernstige glukose-siekte ly. Dié toetse sal ook bepaal of Marné se lae suikervlakke slegs aan die feit dat sy vroeggebore is, toegeskryf kan word.

“Gelukkig is ek geseën met liters borsmelk en sukkel ek nie om melk vir Marné te voorsien nie. Ek skenk ook my melk aan ander mammas wat sukkel om te borsvoed,” sê Niké.

Marné se linkerarmpie het ook ʼn paar weke gelede gebreek, en aangesien daar nie op haar arm geopereer kon word nie, het dit effens skeef aangegroei.

“Hoewel hulle nie met sekerheid weet wat gebeur het nie, kan dit wees dat sy haar arm weggeruk het toe die verpleegpersoneel haar bloed wou trek. Sy ontvang vitamiene D deur die bykomende aanvullings wat hulle vir haar gee deur haar melk, maar die feit dat sy nie direkte sonlig kry nie beteken dat haar bene baie broos is.”

Volgens die egpaar is Marné verskriklik sterk. “Sy glimlag en maak geluide en begin nou met haar voetjies skop.”

Positiewe gesindheid

Marné het onlangs ‘n lewerbiopsie ondergaan. Haar arm was toe nog gebreek. (Foto: Verskaf)

Marco en Niké benadruk dat hulle nie negatief is oor “die berg wat hulle saam met die Here moet klim nie”.

“Vandat ons in Januarie 2021 getroud is, was dit ons grootste droom om met ʼn gesin te begin. Die Here het geweet wanneer die regte tyd vir ons sal aanbreek. Toe ons in September verlede jaar uitvind dat Niké swanger is, kon ons nie wag om die nuus met ons familie en vriende te deel nie.

“Die feit dat sy leef is vir ons genoeg. Ons is ontsettend dankbaar dat die Here haar lewe gespaar het. Buiten die probleme met haar suikervlakke is sy andersins gesond. Haar longe, hart en brein is gesond. Sy weeg nou 2,35 kg en raak by die dag sterker,” vertel Marco.

Die mamma en pappa kan nie wag om haar huis toe te vat nie, maar hulle is egter bekommerd oor hoe Marné buite die hospitaal gaan vaar.

“In die hospitaal is daar masjiene en opgeleide personeel wat weet wanneer daar iets fout is – by die huis het ʼn mens dit nie. Die personeel hier is só goed vir haar. Wanneer ons nie by haar kan wees nie, maak hulle deurlopend seker dat sy gelukkig is. Hulle het ons al gevra dat ons haar asseblief vir hulle moet bring om te kom kuier wanneer die dag dat sy huis toe kan gaan uiteindelik aanbreek.”

Weldoeners betaal sedert Junie die Mullers se brandstofrekeninge, maar intussen hoop die mediese rekeninge op.

“Ons is ook bekommerd oor die goed wat sy gaan benodig wanneer sy ontslaan word, soos medikasie en arbeid- en fisioterapie.”

Wat die ouerpaar nou die meeste nodig het, is gebed. “Mense se gebede het ons gedra tot hier. Wat anders kan ʼn mens doen in hierdie situasie as om net te bid?”

Niké sê sy wil ook deur Marné se storie te deel vir ander ouers wys daar is hoop wanneer ʼn baba vroeggebore word.

“Ons wil hê mense moet weet wonderwerke gebeur nog. Ons wil vir mense vertel dat hierdie onvoorsiene dinge gebeur, maar dat hulle moet besef hulle is nie alleen nie.”

Om die Mullers geldelik by te staan, kontak Maroela Media by [email protected], wat kontak met die familie sal maak vir ʼn bankrekeningnommer. Die BackABuddy-skakel kan ook gevolg word om ʼn bydrae te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Di ·

Wat ‘n pragtige ou poplappie! Dis verskriklik klein, het self tweeling verwag wat ook vroeg gebore was op 32 weke. Altwee was maar 900g by geboorte. Hulle is SO klein dat mens te bang is om aan hulle te vat. Ook maar deur moeilike tyd en hulle was ook baie lank in broeikas. Vandag is hulle 36 jaar, groot en gesond. Sy gaan so vinnig grootword. Sterkte aan julle en baie geluk met julle pragtige engeltjie.

KatjieDeKat ·

My oudste dogter is ook op 28 weke gebore. Destyds in die Tygerberg hospitaal. Sy was vir sowat 6 weke in die hospitaal. Het maar 970 gram geweeg. Maar sy was daarna altyd uiters gesond. Dis wat die hoof pediater in die neonatale ICU destyds vir my gesê het: “Hierdie preemies, as hulle oorleef, wat hul merendeels wel doen, is gewoonlik sterker en in die algemeen meer gesond as ander kinders” Hy was reg. Ek het in elk geval n absolute seker wete gehad dat sy dit gaan maak en goed gaan doen. Vandag is sy 30 en self mamma van n 5jaar oud tweeling. Sy is klein en fyn van gestalte maar wow sy is Tough! Ag, Marné se ou glimlaggie op 2 maande:-)! My tone krul, net te kosbaar en wonderlik:-)!!

VaalDonkie ·

My dogtertjie was op 28 weke gebore. Sy word nou in September 4 en sy dra al 6-7 jarige klere. Partykeer dink mense sy’s “stadig” omdat sy baie ouer lyk as wat sy is en sy’s eintlik voor in terme van praat, tel, ens. Sy kan tot al Engels praat soos sy op Paw Patrol en Gabby’s Dollhouse leer.

Drico ·

Mnr Marco, baie sterkte. Julle is elke dag in ons gebede. Sy is n pragtige sterk klein mensie. Ons bid dat Marnè haar 1st Kersfees tuis sal vier.
Van n oud Jannies-leerder
Nico Jansen

Oosieoos ·

Wonderbaar sal haar verseker opdra aan die Groot Geneesheer

Marcello ·

Sterkte aan die ouers van die poppie. Bly net op julle knieë, en die Liewe Vader sal sorg. Wonderwerke bestaan.

Chillipepper ·

Moenie moed verloor nie. My datum vir keiser op 37 weke was 14 Mei en 1 Feb gebore. Sussie was 6 maande in die hospitaal en is ontslaan op 1.8kg. Sy het al die mylpale gehaal soos sy moes. Sy is vandag 10 jaar oud, dra nr 6 skoen, een van die top presteerders in haar graad en is langer as al haar maats. Sy het geen newe effekte van prem baba nie. Daar is hoop. En mens se geloof en gebede kry mens hulle groot. Baie sterkte vir julle! God gee mens die krag om deur te druk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.