Baba byna in winkel gegryp

Skermskoot van die video.

ʼn Saak van poging tot ontvoering is die afgelope naweek aanhangig gemaak nadat ʼn man ʼn agt maande oue baba uit ʼn ma se winkeltrollie probeer gryp het. Die voorval is op kringtelevisiebeeldmateriaal vasgevang.

ʼn Verdagte is ook intussen in hegtenis geneem.

Die voorval het Sondag om 10:30 by ʼn plaaslike Spar in Meyersdal, Alberton, plaasgevind.

Ao. Gerhard Cornelius, polisiewoordvoerder, het die gepoogde ontvoering aan Maroela Media bevestig.

Beeldmateriaal wat op sosiale media van die voorval gedeel is wys hoe ʼn vrou ʼn trollie in die vleisafdeling van ʼn winkel stoot, met haar baba aan haar sy.

Skermskoot van die video.

In een stadium sit sy die baba in die winkeltrollie, kyk na die aanbod van vleis en buk af om haar trollie te vul.

Op die oomblik toe sy afbuk kom ʼn man in ʼn plastiekvoorskoot te verskyn en haal die kind uit die trollie. Hy begin in die teenoorgestelde rigting van die ma loop, maar slegs ses sekondes vandat hy die kind opgetel het, besef die ma haar kind is weg.

Sy haas haar na die man en vat haar kind terug, terwyl die man steeds om haar en die kind hang.

Volgens Cornelius is ʼn kriminele aanklag kort daarna by die Brackendowns-polisiestasie aanhangig gemaak.

“ʼn Verdagte is in verband met die gepoogde ontvoering in hegtenis geneem,” sê hy.

Die man het reeds in die hof verskyn en die polisie se ondersoek duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Lillian ·

Dié is net die handlanger tyd dat SAPS hul sokkies optrek en die hoof vd sindikate vastrek. Hierdie is nie die eerste insident nie en ook nie die laaste nie.

Hennie ·

Jy leef in ‘n droomland as jy dink die SAP gaan enigiets doen.

Patch ·

Dit lyk soos een van die Spar se werknemers. Dankie tog die ma het dit betyds agtergekom.

Elize ·

Niks en niemand is veilig met hierdie gemors nie. Net baie bly hy het nie die kind gevat nie want dan was dit nog ‘n statistiek. Ouers moet julle kinders geen oomblik los nie maar hou vas met alles wat jy het. Weet satan se kinders is op die jag uit

Faraway ·

Goeie hemel anders as hierdie dame sou ek soos n mal mens tekere gegaan het en geskree en gegil het van skok!!!

ANET ·

Dit het my ook oorgekom, mens is lam geskrik en mens voel skielik alleen asof niemand jou raaksien nie.. n man het my kind x2 probeer vat by my. Van daardie dag het ek my 2 kinders in leibande vasgemaak, ek het snedige opmerkings geignoreer. my kinders was bitter min saam my dorp toe , ek met 2de probeer slag gehardloop na sekuriteit. Ek leer my kinders vandag op hard te skree, maak nie saak wie dink wat

Lourens ·

Daai ou se wange behoort te geswel het na ‘n goeie skop.

George ·

en wat se Spar?? NIKS nie, net jammer vir die ongerief! Belaglik, siek man!

Marisa W ·

Dis darem ook nie Spar se verantwoordelikheid om jou veilig te hou nie – hoe op aarde sal hulle dit regkry – net een klant op ‘n slag in die winkel toelaat?

George ·

Dis nie wat ek se nie Marisa, dis n Spar werknemer, en as werkgewer neem jy verantwoordelikheid.

Christine ·

Spar het wel kommentaar gelewer – eers hul werknemer beskerm, nou gee hulle hul volle samewerking.

Dries ·

Die ondersoek duur voort, ondanks die video. Sal graag die opvolg wil weet.

Madelein ·

Die vrou is dood kalm…skop nie eens n kabaal op nie…hel, ek dink net as dit ek was sou ek regtig nie so kalm gewees het

Christine ·

Kan jy die skok indink waardeur die arme vrou is. Sy moes tot verhaal kom en het dit gaan aanmeld.

Nella ·

En sy ander 2 g..gabbas was saam hom. Een haal kwansuis vleis uit en die ander een het die fine cheek om nog te gesels ook. Seker wat hulle nou moet doen. Sal graag die video verder wou gesien het van die een wat gebuk het. Dink hy het die vleis net so neergesit en omgedraai. Drie koppe in een mus gewees.

Botterblommetjie ·

ek sien 4, kyk van die begin af is daar al gekonkel…..

George ·

Daar kom een met n rooi hoody ook in, wat vir my baie verdag lyk, dan maak hy spore toe sy terug gryp

Veronika ·

Ek sou hom net daar met my handsak bygedam het dit is lêkker swaar en sal n barshou slaan!

AH ·

Sjoe, wat ‘n noue ontkoming vir Ma en baba!! Die persoon wat die baba gegryp het het te vinnig probeer wegkom om dit ‘n onskuldige daad te maak! Niemand het die reg om iemand anders se kinders sonder hul toestemming op te tel nie! Die Ma moet die saak beslis verder voer! Mammas kan gerus ‘n gewoonte maak daarvan om ‘n harnas met ‘n band om baba/kleuter se lyfie te sit en die band van die harnas om hul eie pols vasmaak. Sodoende sal jy onmiddellik agterkom as iets nie pluis is nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.