Baba Isabella se sus gebore: ‘Sy sal haar ken’

Monica en Joshua Stark by hul dogtertjie Isabella. (Foto: Verskaf)

Vier maande ná die grootste hartseer van hul jong lewens het Joshua en Monica Stark (albei 22) hul jongste babadogtertjie in die wêreld verwelkom.

Anastasia is op 15 Januarie gebore, kort nadat die egpaar se dogtertjie, Isabella, in September verlede jaar dood is. Maroela Media het vroeër berig dat Isabella se longe platgeval het nadat fyngemaalde neute daarin beland het. Sy is destyds sowat ʼn week in die Netcare Garden City-hospitaal in Johannesburg behandel.

Die gesin, wat ten tyde van die voorval in Ermelo in Mpumalanga gewoon het, het intussen na Newcastle in KwaZulu-Natal verhuis waar Joshua as ʼn rekeningbestuurder vir Jenny Internet werk.

Joshua het vandeesweek aan Maroela Media gesê hulle is verheug oor hul nuweling, maar dat hulle ook elke dag aan Isabella dink en na haar verlang.

“Dis opwindend om nog ʼn babatjie te hê, maar ons het ook baie gemengde gevoelens. Ons kry goeie en slegte dae.”

Joshua sê Anastasia gebruik baie van Isabella se goed, wat hul harte sommige dae ruk. Hulle sal egter seker maak dat Anastasia haar ousus ken en in haar teenwoordigheid grootword.

“Anastasia sal weet wie Isabella was. Ons praat baie van haar, daar is oral foto’s van haar in ons huis en ons het ook ʼn herinneringshoekie waar haar as staan. Daar is ook ʼn kers met haar foto op.”

Joshua sê hulle sien reeds ooreenkomste tussen die sussies en dat Anastasia se maniertjies hulle dikwels aan Isabella herinner.

ʼn Nalatenskap vir ‘Bella Boudjies’

Die egpaar het ná Isabella se dood hul eie onderneming, Bella Boudjies, begin.

Die gesin hoop dat dit eindelik Isabella se nalatenskap sal wees, aangesien sy te klein was om aan haar eie nalatenskap te bou.

Die naam van die onderneming, wat ʼn wye reeks babaprodukte verkoop, spruit uit van die vele troetelnaampies wat hulle vir Isabella gehad het. Al die produkte word deur Monica handgemaak, aanlyn verkoop en ook by markte uitgestal.

Die onmiddellike doel met enige winste is om opgehoopte mediese rekeninge af te betaal, wat tans nog op R150 000 staan.

Isabella Stark se longe het in September verlede jaar platgeval. (Foto: Facebook)

“Sodra dít afbetaal is, wil ons graag ander ouers in dieselfde posisie bystaan. Wanneer só iets gebeur, is daar soveel onkoste waarvoor ʼn mens nie noodwendig voorsien en begroot het nie.

“Ons wil deur Bella Boudjies gesinne en kinders ook op ander maniere kan bystaan, hetsy met klere, produkte of emosionele ondersteuning.”

Joshua sê hy en Monica beplan ook om kursusse te volg om ouers te kan ondersteun wat kinders aan die dood afgestaan het.

“Dis regtig moeilik. Jy het soveel vrae en sommige dae sien ʼn mens nie eens die nut om op te staan nie. Jy voel so alleen en weet nie regtig hoe om alles te verwerk nie.

“Dit help egter om met iemand te praat wat dieselfde soort verlies ervaar het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.