Baba se verminkte liggaam in vlak graf gevind

plaas-polisie-veld

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto)

Waarskuwing: Die inhoud van die berig kan sensitiewe lesers ontstel.

Die verminkte liggaam van ʼn jong kind is Dinsdag in ʼn vlak graf in ʼn weiveld in Mpumalanga aangetref. Die kind se ma is reeds in polisieaanhouding en word ondervra oor haar kind se dood.

Sers. Tlaki Matemane, polisiewoordvoerder, sê lede van die gemeenskap het omstreeks 10:30 op die 21 maande oue baba se liggaam in Phake Rebone afgekom.

Met polisiebeamptes se aankoms op die toneel het ʼn groep inwoners vir hulle die oopgemaakte vlak graffie gewys. Die kind se klere het enkele meters van die graf gelê.

“Die naakte liggaam van die kind is in die graf aangetref. Die baba was sonder ʼn linkerbeen, met haar maag oopgesny. Haar dunderm is apart van haar liggaam gevind,” sê Matemane.

“Die kind se liggaam is deur ʼn vrou geïdentifiseer as dié van haar suster se dogter.”

Volgens Matemane is die kind reeds op Oukersdag as vermis aangemeld nadat sy die huis saam met haar 28-jarige ma verlaat het.

“ʼn Ooggetuie wat die ma ken en in die woonbuurt langs die veld woon waar die kind se liggaam gevind is, beweer dat sy verby hom met die kind op haar rug geloop en die veld binnegegaan het. Hy het egter nie die kind later saam met haar ma sien terugkeer nie.”

Die vrou se familie het kort daarna onraad vermoed en haar begin ondervra oor waar die kind is. Hulle het haar daarna as vermis aangemeld, maar inwoners het eers dae later op die kind se liggaam afgekom.

Die polisie het ʼn saak van moord aanhangig gemaak.

Die motief vir die moord is in dié stadium onduidelik en die ondersoek duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.