Baba stoei met kanker

Baba Lemé saam met haar ouers (Foto: verskaf)

Haar lyfie het reeds sedert geboorte mediese versorging benodig, maar nou stoei sy boonop met kanker ook.

Klein Lemé Potgieter is in Augustus op slegs 29 weke gebore. Vandat sy daardie eerste asemteug geneem het, moes sy baklei om aan die lewe te bly.

“Ek het nie ’n maklike swangerskap gehad nie,” vertel Simoné Potgieter, Lemé se ma.

“Ek is in daardie kort tydperk tussen vier en vyf keer opgeneem. Die laaste keer is ek in die Mediclinic-hospitaal in Vereeniging met ’n erge verkoue opgeneem. Ek het badkamer toe gegaan en my water het gebreek.”

Die besluit is geneem om ’n noodkeisersnit uit te voer. Baba Lemé, nou sewe maande oud, het met geboorte ’n skrale 1,2 kg geweeg. Sy was afhanklik van suurstof en haar suurstofvlakke, wat in normale omstandighede ten minste bo 92% moet wees, het soms na die 40’s getuimel.

“Lemé is dadelik na die neonatale intensiewesorgeenheid geneem. Sy moes lank suurstof ontvang. Die personeel het haar skoon ’n suurstof-junkie genoem.”

Die pad wat die Potgieters tot dusver gestap het, was dikwels opdraande en vol kinkels, stampe en stote.

“Haar pediater het aan ons verduidelik dat babatjies van daardie ouderdom maklik breinbloeding kan ontwikkel. Dit is presies wat met Lemé gebeur het. Sy het ’n tweedegraadse breinbloeding ontwikkel. Die dokters het gesê dat dit gewoonlik self weggaan, maar ’n ruk ná daardie breinbloeding opgespoor is, het ’n volgende breinskandering aangetoon dat sy nou derdegraadse bloeding op die brein het en dat daar siste ook gevorm het.”

Die dag waarop Lemé kon huis toe gaan (foto: verskaf)

Die Potgieter-egpaar, hul familie en vriende het egter onophoudelik gebid. Simoné het ook onvoorwaardelik geglo dat Lemé volkome sal herstel, hoewel almal gewaarsku het dat hul dogtertjie doof of blind kan wees.

“Twee weke voordat ons haar huis toe geneem het, het hulle nog ’n skandering gedoen. Ons gebede is verhoor, die bloeding en siste was weg.”

Die gesin kon hul babatjie uiteindelik vir die heel eerste keer op die ouderdom van twee maande huis toe vat.

Lemé het egter intussen nog ’n yslike terugslag beleef.

“Sy het ’n knop op haar rug ontwikkel wat die dokters vermoed het limfoom was. Kyk, Lemétjie is eintlik ’n ou soet babatjie, sy huil byna nooit nie. Sy het op die een dag vreeslik huilerig geraak, sy wou nie eet nie en die knop het vuurwarm geword – ek het geweet dat iets fout was.”

Die Potgieters is terug dokter toe.

“Is daar kanker in jul familie?” Die vraag het Simoné koud van ontsteltenis gelaat. “Ons het stokstyf geraak. Kanker is eintlik hierdie verbode woord.”

Lemé is hierna weer opgeneem en antibiotika toegedien. Ná ’n skandering het die Potgieters se grootste vrees werklikheid geword.

“Sy het kanker tussen haar ribbes, aan haar lewer en dis besig om oor haar longe te trek.

“Dit het gevoel of iemand my hart uitruk en op hom spring. Jy wil nie hoor dat jou ses maande oue baba kanker het nie.”

Die pediater is egter positief dat Lemé met die regte behandeling ten volle sal kan herstel.

“Sy is met neuroblastoom gediagnoseer. Die prognose hiervoor is egter goed vir kinders onder ’n jaar.”

Die gesin moes tussendeur die kronkelpad van Lemé se gesondheid ’n paar persoonlike struikelblokke ook die hoof bied.

Baba Lemé (Foto: verskaf)

Simoné het haar werk verloor en hulle skarrel om geld in te samel om voort te kan gaan met Lemé se behandeling.

“My man het iets gesê wat eintlik baie waar is, ons wil nie op ’n plek kom waar Lemé ’n operasie van die een of ander aard benodig wat ons nie kan bekostig nie.”

Op 19 Maart word daar ’n staptog in Springs, Gauteng, gehou waarmee die gesin beoog om ongeveer R50 000 vir Lemé se gesondheidsbehandeling in te samel.

“Ons verkoop ook lootjies vir ’n sousgeskenkpak wat aan ons geskenk is. Die lootjies beloop R50 vir een pak en ons gaan vir twee maande lootjies verkoop.”

Die gesin het ook ’n tekort aan doeke.

“Weens haar behandeling hardloop ons sommige dae deur ’n halwe pak tussen 08:00 en 17:00. Haar doek moet byna elke 10 tot 15 minute geruil word, sy kan glad nie brandboudjies kry nie omdat haar immuniteit so verswak is.”

Daar word ook kolwyntjies en hemde verkoop, en materiaal om bome gedraai om verdere geld vir Lemé in te samel.

“Ons het egter onlangs gehoor dat ’n kwaaddoener ons storie gebruik om geld uit mense te swendel. As mense iets aan ons wil skenk, moet hulle asseblief direk deur ons Facebook-blad werk.”

  • Besoek hierdie Facebook-blad vir meer inligting oor Lemé se gesondheidsreis en geldinsamelingsgeleenthede.
  • Lesers wat geld vir Lemé se behandeling wil skenk, kan die webwerf besoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Nicky ·

Sterkte – die pragtige dogtertjie gaan almal nog verbaas. Ons bid vir julle!

Pieter9 ·

Die Here kan haar gesond maak; ons glo vir volkome genesing.

Ontnugterde senior ·

Hoe skelm kan party mense wees om so ‘n siek kind se fonds uit te buit vir eie gewin. Hulle gaan eendag daarvoor verantwoording voor die Groot Koning moet doen. Sterkte aan die gesin. Ek wens so ek kon bydrae lewer. Mag here julle seen en Leme gesond maak.

Voilet ·

Ons bid vir jou lyfie lief. God is groot en is ons geneser. Ons pleit Jesus se bloed oor jou en vir volkome genesing. Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.