Baie kla oor installasie van sonpanele

(Argieffoto: pixabay)

Te midde van die voortslepende beurtkragkrisis in Suid-Afrika het alternatiewe kragopwekkingsmetodes soos sonpanele en kragomsetters vir baie mense ʼn noodsaaklikheid geword. Dit blyk egter dat dié alternatiewe metodes dikwels ook hoofbrekens van hul eie teweegbring.

Die ombudsman vir verbruikersgoedere en -dienste (CGSO) het Dinsdag aangedui dat hy in die afgelope 12 maande (1 Februarie 2022 tot 9 Februarie 2023) altesaam 202 klagtes rakende die verkoop en installering van sonpanele en kragopwekkers ontvang het.

Magauta Mphahlele, die ombudsman, sê die aard van die klagtes is ook ʼn aanduiding dat baie verbruikers nie voldoende kennis het oor hierdie hoogs tegniese produkte of die installeringspesifikasies daarvan nie.

“Verbruikers is in die algemeen nie goed ingelig oor die vereistes van hierdie kragstelsels of hul beperkings nie.

“As gevolg hiervan ly verbruikers enorme finansiële verliese deur verkeerde toerusting aan te koop of ongekwalifiseerde installeerders aan te stel.”

Die mees algemene klagtes hou volgens die ombudsman verband met die volgende:

  • Die nie-uitreiking van sertifikate van voldoening (wat die bekendmaking van bykomende tariewe insluit).
  • Die versuim om goedere binne die ooreengekome tydstip af te lewer nadat betaling reeds ontvang is.
  • Swak vakmanskap en installasies wat nie aan veiligheidstandaarde voldoen nie.
  • Die verontagsaming van waarborge.
  • Verskaffers wat weier om verkeerde toerusting om te ruil wat deur of namens ʼn verbruiker aangekoop is.
  • Geen nasorg- of opvolgdienste nie.
  • Misleidende bemarking met betrekking tot die soort, grootte en watt-verbruik van die geadverteerde sonpanele, kragomsetters en batterye.
  • Opgeblaasde pryse vir panele, kragomsetters, batterye en installering.

“Uit die 134 klagtes wat tot dusver hanteer is, het verbruikers in 36% van gevalle vergoeding ontvang, insluitend R277 273 se terugbetalings. Ander regstellings sluit in die vervanging van foutiewe kragomsetters, sonpanele, batterye en installerings, asook die regstelling van vakmanskap wat nie op peil is nie,” het CGSO gesê.

Mphahlele sê dat 46% van sake laat vaar moes word weens ʼn gebrek aan samewerking deur verskaffers.

“Dit is vir ons kommerwekkend aangesien dit beteken dat geen regstelling vir verbruikers in hierdie gevalle plaasvind nie,” het Mphahlele gesê.

“Hierdie uitkoms bewys dat daar hoë vlakke van nienakoming ingevolge die Wet op Verbruikersbeskerming in dié bedryf is. Ons doen ʼn beroep op alle verskaffers en installeerders van sonpaneelstelsels en opwekkers om te verseker dat hul dienste aan die standaarde van dié wetgewing voldoen, asook ander vereiste vervaardiging- en veiligheidstandaarde.”

Mphahlele waarsku verbruikers ook om nie self te poog om hierdie stelsels te installeer nie aangesien dit waarborge ongeldig kan maak.

Wenke aan verbruikers

  • Skakel met gekwalifiseerde, betroubare installeerders voordat jy enigiets aankoop of installeer.
  • Verkry verskeie kwotasies en verifieer die getuigskrifte van die installeerder.
  • Maak seker dat installeerders gekwalifiseer én geakkrediteer is en sertifikate van voldoening aan jou kan verskaf.
  • Maak seker dat jou kragomsetters en battery teen kragstuwings beskerm is aangesien dit dikwels nie deur versekering gedek word nie.
  • Moenie die volle bedrag vooruit betaal nie en maak seker dat jy goed ingelig is oor enige kansellasie- en ander voorwaardes.
  • Maak seker jy is vertroud met die waarborge en moenie poog om self enige herstelwerk te onderneem of met toerusting te peuter nie. Dit kan die waarborg ongeldig maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Koos 100 ·

Fly by night instaleerders sal nou opspring soos bossies. Jy kry waarvoir jy betaal, is die goue reël hier. Jammer genoeg is daar genoeg instaleerders wat misbruik van mense se onkunde maak.

Aai ·

Sal liewers ‘n ruk wag die fly by night sal nie lank hou en pryse sal baie beter raak alles duur as jy nou spring.

Leon ·

Plaas die name van obskure verspteiders op n swartlys by die verbruikersraad. Gaan op aanbevelings as gekies word

Estelle ·

Skielik kan elke Jan Rap en sy maat nou sonpanele installeer.

Chris ·

Dit is mos maar so. Wanneer daar ‘n gaping iewers is vat elke jakkals en muishond ook die gaping. Ongelukkig is daar altyd lieplappers wat goedgelowige mense sommer openlik inloop. Wanneer iets te goed klink om waar te wees is dit gewoonlik.

Rooi rissie ·

Skerp George hehehe maar dis die waarheid. Hulle pop op soos sampioene nou orals. Elke Jan rap en sy maat kan nou solar installeer en verkoop solar.

Gerhard ·

Baie kla oor instelasies met goeie rede. Die antwoord is heel eenvoudig kom besoek SAPAC.CO.ZA aanlyn en hulle help jou om by die regte instansie uit te kom Gratis. – Landswyd. Dit is net regte Instansies wat wel solar mag installeer en meer!

VaalDonkie ·

Gelukkig is ek bevriend met ‘n elektrisie inginieur wat so ‘n besigheid begin het en al jare lank groot projekte bestuur. Ek sal hom vra om myne te doen al kos dit miskien effe meer.

Tjarrie ·

My vraag is: almal sê maak seker die installeerder is gekwalifiseerd en geakkrediteer. Geakkrediteer? Waar? Kwalifikasie? Is die sg Wiremans kwalifikasie genoeg?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.