Bakkies se broek, truie vir liefdadigheid opgeveil  

Bakkies Botha en Hammie Wessels veil sy Springboktrui op

Die broek waarin Bakkies Botha sy laaste amptelike toetswedstryd vir die Springbokke gespeel het sowel as sy Springboktrui, is vir derduisende rande opgeveil tydens ʼn gholfdag om geld in te samel vir ʼn voedingskema.

Die geraamde wit broek met Botha se handtekening daarop is saam met foto’s van die wedstryd vir R50 000 opgeveil. Hy het die broek gedra tydens die Springbokke en Engeland se wedstryd op 15 November 2014 op Twickenham in Londen. Die Springbokke het die Engelse met 31-28 geklop.

Van die ander rugbymemorabilia van Botha wat opgeveil is, sluit in ʼn no. 4 Bulls-rugbytrui waarin Botha tydens die Curriebeker uitgedraf het, wat byna R48 000 ingebring het. Sy Springboktrui wat hy voor sy laaste Springboktoets vir die Springbokke se amptelike fotosessies gedra het, is vir ʼn allemintige R70 000 opgeveil.

Al die deelnemers aan die HelpJag-gholfdag

Die gholfdag wat Woensdag op die Centurion-gholflandgoed gehou is, is deur Helpende Hand aangebied om geld vir sy voedingskema in te samel. Botha is die ambassadeur van Solidariteit Helpende Hand se HelpJag-projek.

Appel, Pieter Smit, Jay en Ricus Nel was onder die vele mense wat die dag ondersteun het. Die gholfdag is afgesluit met ʼn veiling deur gladdebek Hammie Wessels waartydens ʼn totaal van R400 000 ingesamel is. Die opbrengs gaan aangewend word vir die verwerking en verspreiding van kos en wildsvleis na 120 Afrikaanse skole landwyd wat sorg dat minstens 8 000 behoeftige kleuters elke dag ʼn gebalanseerde bord kos kry.

Werner Pretorius en Dewan den Haan, stigters en vennote van Arms & Wildlife, het verbete vir al drie dié memorabilia van Bakkies geveg en die hoogste aanbiedings gemaak.

“Ek is ʼn Bakkies Botha-aanhanger, maar vir my gaan dit nie noodwendig oor die truie en die broek wat hy gedra het nie. Dit gaan meer oor wat Bakkies vir Suid-Afrika gedoen het en steeds doen. Soos wat Bakkies vir sy land gesweet het, so wil ons op ons manier ʼn bydrae lewer. Ons wil hande vat en bydra tot die goeie doel waarvoor HelpJag staan. Om die projek geldelik te kan steun, is ʼn voorreg. Dit is ʼn voorreg om ʼn verskil in ons kinders se lewe te kan maak,” het Pretorius na afloop van die veiling gesê.

Bakkies Botha en Werner Pretorius van Arms & Wildlife

TriggerCam en Wild & Jag/Game & Hunt het ook ruim bygedra. ʼn Oorstelpte Botha het gesê dit was ʼn ongelooflike geleentheid gewees.

“Ons is baie dankbaar dat die mense wat ons die vorige jare ondersteun het, teruggekom het en dat al hoe meer mense die saak begin ondersteun. Ons is dankbaar om saam te staan en sterker te word om hoop en kos vir ons kinders te gee. Só maak ʼn mens werklik ʼn verskil daar buite,” het hy gesê.

HelpJag is ʼn inisiatief wat poog om Solidariteit Helpende Hand se voedingsprojek aan te vul en te sorg dat proteïen in die vorm van wildsvleis deel uitmaak van ʼn voedsame bord kos. Jagters word aangemoedig om bokke of wildsvleis vir Helpende Hand te skenk. Helpende Hand betaal dan vir die verwerking daarvan voordat dit onder die hulpbehoewende skole in Afrikaanse gemeenskappe versprei word. HelpJag het oor die afgelope vyf jaar reeds meer as 140 ton wildsvleis ingesamel, verwerk en versprei. Appel en Adam Tas is HelpJag se ander twee ambassadeurs.

“Ons poog gedurig om die publiek bewus te maak van die groot hongersnood onder ons land se kleuters en hoe ʼn jagter met ʼn barmhartige hart ʼn bydrae tot liefdadigheid kan lewer. Elke koedoe kan ongeveer 40 kleuters vir ʼn maand lank daagliks voed. En een gemsbok kan ʼn hele maand lank daagliks vir 26 kleuters ʼn bord kos gee. Selfs ʼn springbok kan daagliks ses kleuters vir ʼn maand lank van ʼn gesonde maaltyd voorsien,” sê Margole Riekert, Helpende Hand se organiseerder van die HelpJag-projek.

Klik hier vir meer inligting oor #HelpJag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Sonblom ·

Ai Bakkies. Waar jy kan, spring jy in om jou medemens te help. Jy is ‘n groot man met nog ‘n groter hart. Dankie vir wat jy doen.

Raadsman ·

Bakkie – ‘n voorspeler en voorloper as dit kom by bystand van ons mense.
Bakkies jy bly ‘n held!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.