Bedingingsraad beslis in Tshwane-metro se guns

Argieffoto (Foto: succo/Pixabay)

Die Tshwane-metro het die arbitrasiebeslissing in sy guns – in ʼn aangeleentheid waar kapasiteitswerkers vasbeslote was om permanent as werknemers van die metro aangestel te word – as ʼn beduidende oorwinning beskou.

Lindela Mashigo, woordvoerder van die Tshwane-metroraad, sê die Tshwane-metro het in 2019 altesame 513 werkers deur ʼn arbeidsmakelaar in diens geneem om met afvalbestuur op ʼn vaste kontrak van 12 maande (tot 31 Oktober 2020) te help.

“By verstryking van hul kontrak het die werkers daarop aangedring om as permanente werknemers by die metro aangestel te word.

“Toe die metro dit duidelik stel dat hulle nie as permanente werkers aangestel kan word nie en dat hul kontrakte verstryk het, het hulle die saak op grond van onbillike ontslag na die bedingingsraad vir Suid-Afrikaanse Plaaslike Regerings (SALGBC) geneem,” sê Mashigo.

Op 28 Februarie 2022 het die bedingingsraad in ʼn arbitrasiebeslissing bepaal ​​dat hulle permanent in diens geneem moet word.

“Die Tshwane-metro het nie met die uitspraak saamgestem nie en ʼn proses begin om die bedingingsraad se beslissing te hersien omdat hulle geglo het dat die herevaluering van die saak ʼn gunstiger uitkoms sou oplewer.”

Na ʼn deeglike en omvattende arbitrasieproses het die voorsittende kommissaris op 13 Desember vanjaar in ʼn deurslaggewende uitspraak die eise van die kapasiteitswerkers van die hand gewys. Die kommissaris het tot die gevolgtrekking gekom dat die applikante versuim het om hul status as permanente werknemers te staaf.

Die Tshwane-metro het die arbitrasiebeslissing as “ʼn betekenisvolle en gunstige uitkoms” verwelkom, wat die “oplossing van ʼn uitgerekte en omstrede indiensnemingskwessie aandui”.

“Hierdie besluit benadruk die stad se standpunt dat die werkers nie as permanente werknemers geag kan word ná die verstryking van hul kontrakte nie,” sê Mashigo.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.