Begrotingsrede: Inkomstebelasting én salarisse styg nie

Tito Mboweni, minister van finansies, tydens 2021 se begrotingsrede. (Foto: GCIS)

ʼn Vreugdelose begroting wat tog ietwat beter as die wyd voorspelde apokaliptiese ramp is, is Woensdagmiddag deur die minister van finansies, Tito Mboweni, in die parlement ter tafel gelê.

Daar is niks van die geprojekteerde belastingverhogings vir individue of maatskappye soos aangekondig tydens verlede jaar se mediumtermyn-bestedingsraamwerk (MTBPS) nie. Dit lyk ook asof Mboweni se onderneming om die staatsdiens se salarisrekening te sny, nou in werking tree, want daar word nie juis salarisverhogings beplan vir die komende boekjaar nie.

Versteek in die detail is wel verhogings in die  heffings op die brandstofprys wat verbruikers, produsente en verspreiders se sakke hard gaan ruk, terwyl die sogenaamde sondebelasting van onder meer alkohol en sigarette nogmaals die hoogte ingeskiet het.

Ekonomiese groei

Soos Maroela Media vroeër vandeesweek ter voorskou berig het, was daar goeie ekonomiese nuus betreffende belastinginvordering, landbou-uitset en mynbou-inkomste. Maar dat die land kniediep in die knyp is, is volgens die begrotingsdokumente wat die nasionale tesourie vrygestel het ʼn onomstootlike feit.

Die nasionale tesourie bereken dat die bruto binnelandse produk (BBP) vanjaar met 3,3% sal groei nadat dit verlede jaar met 7,2% gedaal het, wat darem nie so erg is as die 7,8% wat in die MTBPS geprojekteer is nie. Die projeksie is voorts dat Suid-Afrika se ekonomie teen die huidige pas teen 2023 weer op sy 2019-vlakke (voor die koronavirus) sal wees.

Die regering se voorste prioriteite vir die nuwe geldjaar is om die land se ekonomie weer op dreef en aan die groei te kry, en om die bevolking in te ent teen die koronavirus. Dit moet geskied teen die agtergrond van ʼn gekonsolideerde begrotingstekort van 14% van die BBP – die ergste op rekord. Verlede jaar was dit 6% van die BBP; tog glo die nasionale tesourie dat ʼn begrotingsurplus teen 2024-’25 haalbaar is.

Tito Mboweni, minister van finansies, tydens 2021 se begrotingsrede. (Foto: GCIS)

Op ʼn vraag deur Maroela Media oor waarop die tesourie se vertroue in sy projeksievermoë berus gegewe hoe ver uit die kol dit die afgelope paar jaar was, het senior tesourie-amptenare gesê dit is waar dat die tesourie in die verlede te optimisties in sy projeksies was en dat die tesourie dus deesdae ʼn aansienlik konserwatiewer model gebruik as tevore, ten einde te voorkom dat projeksies weereens afwaarts aangepas word.

Die tesourie het ook begin om in die begrotingsdokumente risiko’s uit te wys wat projeksies kan kelder.

Belastinginkomste

Betreffende die aanpas van die tesourie se projeksies is goeie nuus dan ook dat die staat se belastinginkomste R99,6 miljard meer is as wat luidens verlede jaar se MTBPS verwag is, veral danksy skerper invorderingsmaatreëls deur die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), aansienlik hoër belastinginkomste uit die mynbousektor danksy die wêreldwye toename in die prys van edelmetale (spesifiek goud en platinum) asook die daling in die waarde van die rand. Laasgenoemde beteken die prys in rand vir sulke edelmetale neem selfs vinniger toe as die dollarprys. Laastens het die uitstekende landboujaar positiewe gevolge op elke vlak van die land se ekonomie.

Dit het daartoe gelei dat R40 miljard se belastingverhogings wat in verlede jaar se MTBPS in die vooruitsig gestel is, nie meer ingestel word nie. Daar is wel omvattende verhogings in sondebelastings en in staatsheffings wat die brandstofprys gaan opjaag. Nietemin is staatsinkomste steeds R213,2 miljard minder as wat luidens verlede jaar se begroting verwag is.

Staatskuld

Vanjaar se totale begroting is R2,02 triljoen. Hiervan is die drie grootste bestedingsitems onderwys (R402,9 miljard), maatskaplike toelaes (R335,3 miljard) en rente op staatskuld (R269,7 miljard). Dit beteken rente op staatskuld vreet 13,4% van die begroting op, of dat van elke rand wat ʼn mens aan belasting betaal, 13,4 sent aan skuldrente afgeskryf word.

Dit is dus al moeiliker om staatskuld te delg, sodat dit na verwagting van die huidige vlak van R3,95 triljoen (dis 80,3% van die BBP) binne die volgende drie jaar sal toeneem tot R5,23 miljard. Dit is 87,3% van die geprojekteerde BBP vir daardie jaar.

Geld vir die regering

Die nasionale tesourie gee toe dat swak ekonomiese bestuur aan die wortel van die kwaad in die nasionale, provinsiale en munisipale bestuur lê, asook in staatsbeheerde ondernemings, maar doen nie spesifieke voorstelle ter verbetering aan die hand nie.

Vir vanjaar word 48,7% van die nasionale begroting toegewys aan die nasionale regering, 41,9% aan provinsies en 9,4% aan munisipaliteite. Laasgenoemde se aandeel in die begroting neem toe danksy die relatiewe verlaging van die staatsdiens se salarisrekening vir amptenare op nasionale en provinsiale vlak.

Weens voortgesette binnelandse ekonomiese uitdagings soos die swak arbeidsmark, die toestand van staatsbeheerde ondernemings en swak beleggersvertroue meen die tesourie dat die plaaslike ekonomie sal sukkel om binne die volgende drie jaar veerkragtig te groei, met geprojekteerde groei van 2,2% aanstaande jaar en 1,6 % in die jaar daarna.

Voortgesette elektrisiteitsonderbrekings, lae beleggersvertroue en lae vlakke van kapitaalbesteding deur staatsbeheerde ondernemings knou groei verder. Minstens blyk inflasie luidens beskikbare statistiek onder beheer te wees.

As doelwit vir die volgende drie jaar stel die nasionale tesourie om die onmiddellike behoefte om die ekonomie te stimuleer en die pandemie te beheer, in pas te bring met die meer langtermynbehoefte om die begrotingstekort te verklein.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Keelvol ·

Dis uiters swak dat die staatsamptenare nie n verhoging kry nie. Maar die alewige stygendes petrol prys word nie geonderdruk nie. Eskom wil elektisiteit verhoog. Mediese fondse verhoog hulle premie. Skoolfondse styf jaarliks. En die staatsamptenaar se salaris bly dieselfde en word net minder.

Jack ·

Hierdie begroting is n klug. One is in die gemors as gevolg van uitgediende sosialistiese beleid en solank dit nie geskrap word nie sal geen begroting ‘n goeie begroting wees nie. Daar is geen dooie woord oor enige beleids veranderinge gesê nie. Dit beteken die begroting is ‘n klug.

Pieter ·

Geen salarisverhoging vir staatsamptenare nie. Maar wat van regters/magistrate, lede van die parlement, Eskom werkers en plaaslike regering amptenare en werkers? Veral die laaste twee groepe sal ‘n verhoging in tariewe vereis, soos Eskom se 15%, om salarisse te dek. Waar ek geen verhoging kry nie is dit oneerlik, my arbeid raak goedkoper. Dit regverdig my ekonomies om minder te doen anders word dit die nuwe normaal.

christo ·

Hierdie is ‘n ‘Plaaslike verkiesing begroting’. Hierdie begroting is so saamgeflans uit lenings om te sorg dat die massas wat op maatskaplike toelaes betaal kan word en sodoende hulle dankbaarheid betuig deur in die plaaslike verkiesings nogsteeds ANC te stem.
Dis deur hierdie onbeheersde leen van geld nou een van die tipiese deursnee Afrikalande wat nóóit ooit hulle lenings kan terugbetaal nie.
Titio Mboweni het gesê ons skuld baie mense baie geld. Hoeveel onse in jou pond Minister Mboweni?
As Tito die ‘guts’ het sal hy moet moet bewys waar hy al hierdie geld geleen het, want Suid-Afrika is basies ‘n bankrot land.
Zambië en Mosambiek het gefaal om hulle lenings terugbetaal aan die IMF as ook die Chinese regering se geldskieters.
My raad aan jong gekwalifiseerde mense is om te emigreer. Rassisme vererger by die dag en enigiemand wat dit ontken dra oogklappe.

Nico ·

Die president, ministers en die ajunkministers kry elke jaar ‘n verhoging wat onregverdig is

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.