Bejaarde egpaar dood in huis in Parow-vallei aangetref

(Fot: Facebook/Zettie Potgieter)

Twee mans is die afgelope week in hegtenis geneem nadat die liggame van ʼn bejaarde egpaar Maandag omstreeks 08:30 in hul huis in Parow-vallei aangetref is.

Hul liggame is glo ontdek nadat ʼn buurman ʼn gat in die dak opgemerk het en die polisie ontbied het om ondersoek in te stel.

Ao. Joseph Swartbooi, Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, sê by die polisie se aankoms op die toneel het hulle op die twee verminkte liggame afgekom. Albei slagoffers is op die toneel deur mediese personeel dood verklaar.

“Aanduidings is dat onbekende verdagtes die huis deur die dak binnegedring het en die bejaarde egpaar, onderskeidelik 71 en 77 jaar oud, wreed aangeval en in die privaatheid van hul huis vermoor het.”

Swartbooi sê die ondersoekbeampte en sy span het daarna ʼn soektog van stapel gestuur, waarna ʼn 27-jarige man dieselfde dag nog op aanklag van moord in hegtenis geneem is.

“ʼn Uitgebreide ondersoek en toewyding van die polisielede het Woensdag tot die inhegtenisneming van ʼn tweede verdagte, ʼn 34-jarige man, gelei,” sê Swartbooi.

“Die 27-jarige man het Donderdag sy eerste hofverskyning in die Bellville-landdroshof gehad. Die saak is tot Woensdag vir aansoek om borgtog uitgestel.

“Die 34-jarige verdagte sal Maandag in die Bellville-landdroshof verskyn op aanklag van moord.”

Lt.genl. Thembisile Patekile, die Wes-Kaapse provinsiale kommissaris, het die werk van die ondersoekspan geloof. “Hulle het ywerig gewerk en alles moontlik gedoen om ʼn waterdigte saak voor te berei met die oog op suksesvolle vervolging en skuldigbevinding.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Anel ·

Pleks hou hulle op om geld te mors vir borg aansoeke! Moord is moord en geen borg moet toegestaan word nie. Goeie werk wat deur die speurders gedoen is. Howe moet dit nou nie gaan staan en ongedaan maak nie!!!

My Mening ·

Ek het al so baie verby daardie huis gery, vandag weer. Sou nooit kon dink dat so iets aakligs daar sou afspeel nie. My innige simpatie aan hul geliefdes. Ek kan net hoop en vertrou geregtigheid sal geskied!!

MC ·

Die slagoffers lyk darem vir my geweldig baie of hulle van Joodse herkoms is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.