Bek-en-klouseer: Noordwes is skoon, maar stigma kleef

(Argieffoto)

Dit kan tot 2028 duur voordat die landboubedryf volkome herstel het van die bek-en-klouseer-epidemie wat sowat vier jaar gelede in Suid-Afrika uitgebreek het.

Só sê Gerhard Schutte, voorsitter van die nasionale dieregesondheidsforum en voormalige voorsitter van die rooivleisprodusente-organisasie.

Victor Lourens, ʼn Potchefstroomse boer van Rock Valley Boerdery, sê Noordwes is bek-en-klouseervry nadat beeste in die provinsie getoets is. Nietemin bly die stigma kleef. “Mense is steeds skrikkerig. Ons moet dit nou afskud. Die afgelope jare het die siekte ons in ʼn wurggreep gehad, maar ons is anderkant uit.”

Rock Valley het weens die uitbreking tussen R15 miljoen en R18 miljoen se skade uit voerkrale gely. Die staat het vandeesweek ʼn eis van R5 miljoen van Rock Valley afgekeur.

Lourens sê die provinsie het ʼn goeie storie van oorlewing, maar boere dra steeds swaar aan die stigma.

Rock Valley was die eerste plaas wat positief getoets het vir die siekte wat by hoefdiere voorkom, nadat ʼn buurman beeste van ʼn rooi gebied, naamlik Limpopo, ingesmokkel het. Op 18 Maart 2022 is bek-en-klouseer bevestig.

Lourens moes as stoetboer twee produksieveilings afstel en al sy stoetdiere slag.

Hy sê hulle, as boere, het “absoluut tot ons eie nadeel” die regte ding gedoen om die siekte aan te meld.

Die kwarantyn is sowat 14 maande na die uitbreking opgehef.

Die uitbreking van dié siekte het die land sy internasionale bek-en-klouseervrye status gekos.

“In daardie stadium (voor die siekte) het ons tot 3% van ons beesvleis uitgevoer. Die impak daarvan was dramaties.”

Schutte sê sonder internasionale bek-en-klouseervrye status moet vleis bilateraal uitgevoer word, wat tans die geval is met die 42 lande waarheen vleis weer uitgevoer word.

In die omgewing het die siekte onder teelkoeie en in melkerye versprei, maar nie in voerkrale nie, sê hy.

Oor vier maande, op 13 Augustus, hou Lourens ʼn produksieveiling waar hy gaan probeer om weer “van voor af te begin”.

Die rede vir die provinsie se uitkoms is drieledig. Beesboere het die staat oorreed om nie hul kuddes Phalaborwa toe te stuur om geslag te word nie; hulle het kostes “gesny tot op die been”, en boere het mekaar bygestaan.

Lourens sê die omgewing se boere het landbou-unies en organisasies eenkant toe geskuif en sélf met die regering vergader, “sonder om te baklei. Ons het ons onderhandel uit ʼn posisie van waar die staat gesê het ons beeste moet Phalaborwa toe gaan en geslag word, tot waar ons vandag is. Ons boer voort.”

Hy sê beesboere kan onmoontlik oorleef as hulle ʼn jaar lank sonder inkomste is.

Lourens sê boere het mekaar gedra, deur ander se kinders se skoolgeld te betaal, deur kos te gaan aflewer en deur seker te maak dat kleiner boere varkkos kry.

“Die Here se genade was oor boere in Potchefstroom.”

Lourens sê die nuus dat die provinsie nou vry is van dié siekte word nie so entoesiasties versprei soos die nuus destyds toe hulle in kwarantyn geplaas is nie. “Ons boere het absoluut tot ons eie nadeel die regte ding gedoen deur die siekte aan te meld, maar niemand help ons om die stigma afgeskud te kry nie.”

Schutte sê hulle visie is om teen 2030 hul uitvoere te laat groei tot 20% van die plaaslike produksie aan die beeskant en 6% aan die skaapkant, wat lewendehawe en vleis insluit. “Dit gaan lank vat om weer te herstel tot waar ons voorheen was. Ek dink soveel as vier jaar.”

Hy sê dit is groot plase wat uitvoer, maar dit strek tot voordeel van die hele waardeketting.

Volgens Schutte kan boere weer na Saoedi-Arabië uitvoer en sal dit ook binnekort geld vir China.

Hy sê namate die uitbreking van die siekte onder beheer gebring word, word die afgebakende gebiede verklein.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.