Bekende beeldhouer sterf

Kobus Hattingh saam met sy dogter Hannelie Taljaard by een van sy lewensgrootte beelde van oudpres. Nelson Mandela. (Foto: Verskaf)

Kobus Hattingh, bekende Suid-Afrikaanse beeldhouer, is Woensdag in die ouderdom van 79 jaar op Oudtshoorn dood.

Hy het onder meer bekendheid verwerf vir sy 6 m hoë beeld van oudpres. Nelson Mandela op die Sandton-plein in Johannesburg.

Hattingh se beeldhouloopbaan is jare gelede onderbreek nadat ʼn beroerte hom verlam gelaat het.

Hannelie Taljaard, Hattingh se dogter, sê egter dat hy tot die einde nog daarvan gedroom het om sy beeldhouwerk te hervat.

“Hy het absoluut gelewe vir sy kuns. Dit was nie vir hom ʼn werk nie, dit was deur en deur ʼn passie vir hom,” sê sy.

Hattingh het in 2004, slegs ʼn maand nadat die Madiba-standbeeld in Sandton onthul is, ʼn beroerte gehad wat hom heeltemal verlam en in ʼn rolstoel gelaat het.

“Hy het by homself geoefen en sy kragte opgebou, sodat hy daarna nóg standbeelde van Madiba voltooi het.”

Hattingh het egter weer in 2017 ʼn terugslag gehad toe Alzheimer se siekte by sy vrou, Susan, gediagnoseer is. Hy het twee beroertes na mekaar gekry en het later in ʼn diabetiese koma verval en sepsis gekry.

“In 2019 was hy vir sowat tien maande in die hospitaal en het hy erg verswak.”

Hattingh en sy vrou het daarna by Taljaard in Noordwes gaan bly waar sy na hulle omgesien het.

Hattingh saam met sy oorlede seun Clifton en sy vrou Susan. (Foto: Verskaf)

“Die laaste tyd het hy baie gesukkel, aangesien hy meestal bedlêend was en basies net sy linkerarm en nek kon gebruik het,” sê sy.

Taljaard meen hulle het egter nie voldoende ondersteuning van die provinsiale hospitaal in Rustenburg ontvang nie en sy het skaars twee maande gelede besluit om haar ouers na Oudtshoorn te laat reis, waar sy sê die mediese personeel albei haar ouers byna op die hande gedra het.

ʼn Ambulans is vroeër vandeesweek na Hattingh se woning op Oudtshoorn ontbied, nadat Taljaard onraad vermoed het. Hoewel paramedici nie dadelik opgedaag het nie, is mediese personeel na Hattingh gestuur om hom suurstof te gee.

“Die ambulans het kort daarna gekom en hom hospitaal toe gevat. Toe ons daar aankom het die dokter gesê dat my pa ʼn groot hartaanval gekry het en dat die skade erg is. Daardie aand het hy heel goed gelyk, maar toe ons hom die volgende dag gaan besoek het, het ek besef daar is groot fout. Die dokter het ons meegedeel dat my pa vog op sy hart het. Ure later, toe ons hom weer kon besoek, het hy gesukkel om te praat en selfs water te drink,” sê sy.

“Woensdagoggend vroeg het hulle ons laat weet dat ons hom moet kom groet.”

Volgens Taljaard het haar pa die afgelope paar jaar ʼn moedige stryd gestry.

“My pa se liggaam wou selde saamwerk, maar hy was heeltyd bewus van alles om hom. Hy het heeltyd daarvan gepraat dat hy graag eendag weer beeldhouwerk sal wil doen. Hier op die einde was hy ʼn bietjie deurmekaar, maar steeds het hy in sy kop aan sy beelde gewerk. Dit was die grootste deel van sy lewe.

“Ek sal hom onthou as ʼn plat-op-die-aarde en beskeie mens. Ten spyte van alles wat met hom gebeur het, het hy hom nie laat onderkry nie en hy het altyd weer opgestaan,” sê Taljaard.

“Hy is so ʼn groot voorbeeld in my lewe. Ons het baie nou saamgewerk en het ʼn groot impak op my lewe gemaak.”

Taljaard het bygevoeg dat sy nie kop bo water sou kon hou sonder die welwillendheid van soveel mense nie.

“Ek is baie dankbaar vir ons bure, my huisdokter, ons plaaslike apteek, die hospitaal op Oudtshoorn, vriende, familie en Helpende Hand wat versorgers beskikbaar gemaak het om my ouers te versorg terwyl ek self siek was,” sê sy.

“Ek sal hom nooit vergeet vir die dierbare mens wat hy was nie.”

Trofees vir die beestelersgenootskappe wat Hattingh gemaak het. (Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Marcello ·

Wow !!! Wat ‘n finominale man, Sterkte aan sy familie en vriende.

Esme ·

My innige simpatie aan sy gesin, familie en vriende.
Wat ‘n onmenslike verlies vir Suid-Afrika en sy mense.

Jaco ·

Dis mos die man wie se naam nie op die Mandela-beeld mag verskyn het nie, NET omdat hy wit was.

Gaitsigubib ·

Mense wat onskuldige vroue en kinders met bomme om die lewe gebring het word vereer met brons standbeelde. Dis n skande.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.