Bekende kosskrywer en wynfoendi oorlede

Michael Olivier (Foto: Facebook)

Die kosskrywer en wynfoendi Michael Olivier is Vrydagaand oorlede.

Sy familie het die nuus gedeel sonder om die oorsaak van sy dood bekend te maak. “Ons bedank almal vir julle ondersteuning in hierdie onmoontlike tyd. Mag sy siel in vrede rus.”

Olivier was restaurantveteraan, skrywer en wynfoendi. Hy het as ’n jong aspirant-sjef ’n stewige grondslag vir sy loopbaan by Le Cordon Bleu in Londen gelê.

Oor die volgende 30 jaar het hy ’n reeks hoëprofiel-gasvryheidsbestuursposte gehad. Hy was onder meer die openbarebetrekkingebestuurder vir Boschendal en het drie suksesvolle restaurante in die Kaap bestuur – Paddagang in Tulbagh, The Burgundy in Hermanus en Parks in Constantia. Hy was ook as sjef te sien op die TV-ontbytprogram Expresso.

Die restaurantveteraan se kookboek Friends. Food. Flavour: Great South African Recipes het in 2022 die lig gesien. Hy het ook al verskeie ander boeke uitgegee.

Olivier het in 2013 die Lannice Snyman-eerbewys vir Lewenslange Prestasie by die Eat Out-toekennings ontvang.

Olivier laat sy vrou, Madeleine, en drie kinders agter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.