Bekende motorman sterf

Reiner Stucky (Foto: Stucky Motors/Facebook)

Die man wat die motorhandelaar Stucky Motors gehelp het om nasionale bekendheid te verwerf, is Dinsdag in die ouderdom van 63 jaar oorlede.

Reiner Stucky is in Augustus verlede jaar met kanker gediagnoseer wat op sy beurt ʼn seldsame siekte veroorsaak het. Dié geliefde sakeman het die familieonderneming in Volksrust amper twee dekades gelede oorgeneem en dit uitgebrei tot ʼn florerende sakeonderneming met takke in KwaZulu-Natal, Mpumalanga en selfs eSwatini. Die handelaar verkoop uitsluitlik Mercedes-Benz-motors en ten tye van sy dood het Reiner ongeveer 230 mens in diens geneem.

Hy is Dinsdag kort ná 06:00 in die Zuid-Afrikaans-hospitaal in Pretoria dood nadat sy hart finaal ingegee het.

“Hy was so jonk, maar die een voordeel van sy siekte was dat ons die geleentheid gehad het om hom te groet,” sê Reiner se seun, Rolf.

“Ek en my sibbe was nie die oggend by hom toe hy dood is nie; ons sou hom later die dag besoek het, maar ek het die vorige dag ʼn goeie gesprek met hom gehad waarvoor ek baie dankbaar is.”

Rolf vertel dat sy pa, wat in Newcastle woonagtig was, in Junie verlede jaar by hom gekuier het toe hy met hom gegrap het oor sy gewig en hulle besluit het om ʼn ent te gaan draf.

“My pa het nog altyd ʼn liefde vir hardloop gehad en het al 17 keer die Comrades-marathon voltooi, so dit was nie vreemd vir hom om ʼn paar kilometer te gaan draf nie,” sê hy.

“Toe ons by die heuwel kom, het hy egter gesukkel om tot bo te loop, wat nog te sê hardloop. Ons het vermoed dit is net ʼn simptoom van langdurige Covid-19.”

In Augustus was Rolf weer by sy pa en hy het weer gesukkel om sy asem terug te kry toe hulle in die buurt gaan stap het.

Hy is eindelik dokter toe, waar hy met veelvuldige miëloomkanker gediagnoseer is. Hy was ook een van die min mense wat weens dié kanker ʼn seldsame siekte genaamd amiloïdose ontwikkel het. Dié siekte veroorsaak dat ʼn proteïen genaamd amiloïed om die hart pak en verhard, met die gevolg dat die hart nie normaal kan klop nie.

Reiner was ʼn tyd lank in die hospitaal voor sy afsterwe.

Volgens Rolf gaan hulle binnekort sy pa tydens ʼn private seremonie ter ruste lê.

“My pa het ʼn snaakse versoek regdeur sy lewe gehad – dat hy vir die haaie gevoer word wanneer hy sterf. Daarom gaan ons hom ter see begrawe.”

Reiner se geliefdes is tans in gesprek met die kuswag in Durban wat die begrafnis ter see beplan.

“Ons familie gaan ʼn klein seremonie aan die kus hou en dan byna 100 km die see in vaar om hom finaal te begrawe,” sê Rolf.

“Ons gaan ook op 11 Februarie ʼn gedenkdiens in my pa se tuisdorp, Volksrust, hou. Dit sal om 11:00 by Hoërskool Volksrust plaasvind.”

ʼn Man met dryfkrag, passie en humorsin

Rolf vertel dat hul familieonderneming, Stucky Motors, byna vyf dekades gelede deur sy oupa en dié se broer begin is.

Rolf se oupa het later ʼn ingenieursmaatskappy begin wat Reiner – wat ʼn industriële ingenieur van beroep is – vir die grootste deel van sy lewe bedryf het.

In 2004 het Reiner die leisels van die ingenieursmaatskappy oorgegee en Stucky Motors oorgeneem.

“In daardie stadium was Stucky Motors net in Volksrust geleë, maar my pa het nog altyd ʼn uitdaging geniet en kon daarin geslaag om ʼn tak in Newcastle, KwaZulu-Natal, en in Piet Retief, Mpumalanga, te stig,” sê hy.

“Van daar af het die maatskappy vinnig gegroei en tans word sowat 230 mense daar in diens geneem.”

Reiner het ook in sy tyd by Stucky Motors ander motorhandelaars begin, waaronder ʼn Haval- en Chery-handelaar.

“Vandat ons jonk was, het my pa ʼn liefde vir sakebedrywighede gehad. Hy het ons op hoërskool al gehelp om ons eie ondernemings op die been te bring,” sê Rolf.

Reiner was ook betrokke by die jaarlikse Volksrust-marathon en onder sy bestuur het hy dié marathon in ʼn unieke ervaring verander. Die marathon spog nou met die grootste wennersmedalje in die land.

Volgens Rolf was sy pa ʼn groot grapjas, wat die hardste in enige vertrek gelag het. Hy het ook altyd alles in sy lewe aangepak met die mantra van “vasbyt”.

“Dit was tot die einde toe ook waar. Hy het tot die laaste probeer vasbyt.”

Reiner word deur sy vrou, vier kinders en agt kleinkinders oorleef.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.