Bela-vergaderings onbepaald uitgestel

(Argieffoto: Elaine Krige)

Alle verdere openbare vergaderings aangaande die Bela-wetsontwerp is tot verdere kennisgewing uitgestel.

Die parlementêre portefeuljekomitee oor basiese onderwys het gesê daar is ingestem tot ‘n versoek van ‘n lid van die komitee, ACDP-LP Elizabeth Sukers, om die openbare verhore in KwaZulu-Natal en Gauteng eers uit te stel.

Volgens die komitee is die geneem ten einde die integriteit van die verhore en enige openbare voorleggings wat daar gemaak is te beskerm en om die parlement se afdelings wat die openbare verhore ondersteun genoeg tyd te gee om sekere uitdagings wat geïdentifiseer is in die voorbereiding vir die verhore uit te stryk.

“Ons het hierdie besluit hoofsaaklik geneem weens die behoefte om te verseker dat ons prosesse deeglik en voldoende is vir hierdie belangrike wetgewing. Ons waardeer ook die openbare deelnameproses en die insette wat tydens hierdie verhore gemaak is. Dit is vir ons ‘n kritiese pilaar van wetgewing en dus die behoefte om geïdentifiseerde tekortkominge uit te stryk, wat voldoende openbare mobilisering en verkryging van vervoer vir deelnemers insluit,” het Bongiwe Mbinqo-Gigaba, voorsitter van die komitee, gesê.

Sukers het vroeër gevra dat verhore in KwaZulu-Natal en Gauteng tot ná die Paasnaweek in April uitgestel word, aangesien die komende langnaweek ‘n aansienlike invloed op die getal bywoners sou hê.  Die party het ook ‘n petisie van stapel gestuur met ‘n versoek om die verhore ook aanlyn te laat plaasvind, sodat meer mense dit kan bywoon.

“Die openbare verhore in Mpumalanga het probleme ondervind weens verwarring oor lokale, wat tot ‘n chaotiese situasie gelei het. Die organisering wat op die laaste nippertjie plaasvind, veroorsaak probleme en kan moontlik tot regsuitdagings vir die wetsontwerp lei.”

AfriForum het ook die aankondiging verwelkom.

“Die proses was van meet af aan problematies. Die eerste kennisgewing dat hierdie proses ’n aanvang neem, is in dieselfde week in Februarie vanjaar geplaas wat die eerste verhore al plaasgevind het,” het Alana Bailey, AfriForum se hoof van kultuursake, gesê.

“Datums, tye en lokale is op kort kennisgewing bekendgemaak en gewysig. Die afgelope Sondag was verteenwoordigers van AfriForum reeds by die lokaal, toe hulle in kennis gestel is dat die byeenkoms afgestel is. Hierdie konstante onsekerheid oor die besonderhede van sessies het tot gevolg dat mense al minder gewillig is om aan die proses deel te neem, wat presies die teenoorgestelde is as wat die sessies veronderstel is om te bereik.”

Bailey noem dat daar ook ander probleme opgeduik het, insluitend die tyd wat vir mondelinge insette gegee is.

“Die belangstelling was groot, maar van die terugvoer wat ons ontvang het, is dat mense se insette tot drie of selfs een minuut beperk is om by die tyd van die sessies te hou. Om in drie minute iets sinvols te sê, is bitter moeilik, wat nog van in een minuut.”

Maroela Media het vroeër berig dat die DA die parlement gevra het om ondersoek in te stel na die beweerde oortreding van prosesse tydens hierdie openbare sittings.

Dít nadat chaos die afgelope naweek by openbare vergaderings in Mpumalanga geheers het. Sondag se vergadering in Ermelo is op die nippertjie gekanselleer weens wankommunikasie oor die tyd en plek van waar die vergadering sou wees. Die ander twee verhore het boonop sonder die nodige ondersteuning van die parlement se openbare onderwyskantoor voortgegaan.

Bailey het Donderdag gesê gegewe die teenstand wat die konsepwet reeds met skriftelike insette en parlementêre voorleggings gekry het, sal dit beter wees om die konsep te skrap en van voor af oor die hersiening van die bestaande skolewetgewing te besin.

Bailey sê voorts dat die onderwysveld die afgelope jare ingrypend verander het danksy nuwe leerpatrone wat tydens die Covid-19-inperkings gevestig is, tegnologie wat daarmee saam ontwikkel het en kwessies soos taalregte waaroor daar meer insig ontstaan.

“Dit is nou tyd om weer nuut oor skolewetgewing te dink en met nuwe voorstelle vorendag te kom, eerder as om verder tyd en koste aan hierdie lomp, ongrondwetlike, verouderde konsepwet te wy,” sluit Bailey af.

  • Die berig is gewysig sedert dit aanvanklik gepubliseer is, ten einde die redes vir die uitstel van die openbare verhore duidelik te maak. – RED. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.