Bela-wet: ‘Grootste hofaksie kom teen ANC oor kaping van skole’ 

(Foto: Kaapse Forum)

Talle organisasies en politieke partye beplan om die omstrede Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (Bela) tot in die hoogste hof teen te staan nadat dit nog een stap nader daaraan is om wet te word.

“Die ANC-regering moet hom staal, want uiteenlopende gemeenskappe staan nou vir die eerste keer werklik saam en sal nie toegee dat die gewraakte Bela-wetgewing in ’n Bela-ramp omgeskakel word nie.”

Só het die burgerregteorganisasie Kaapse Forum gesê nadat die Bela-wetsontwerp Donderdag met 223 stemme teenoor 83 in die Nasionale Vergadering (NV) aanvaar is.

Die Bela-wet het onder meer ten doel om beheerliggame van hul besluitnemingsreg oor taal- en toelatingsbeleid te stroop en om dié reg aan regeringsamptenare oor te dra.

Kaapse Forum het saam met AfriForum, Solidariteit, Solidariteit Helpende Hand en Fedsas, sowel as verskeie politieke partye, waaronder die VF Plus, DA en ACDP, by die parlement teen die Bela-wet betoog.

Hierdie samehorigheid is volgens Kaapse Forum die geheime wapen waarvoor die ANC-regering nie gereed gemaak het nie.  “Uiteenlopende organisasies met diverse ondersteuningsbasisse het vandag getoon dat hulle verenig staan in die stryd teen die Bela-wet.  Indien hierdie wetsontwerp uiteindelik deurgevoer word, sal dit alle kinders – ongeag hul ouers se politieke affiliasie of voorkeure – se toekoms ernstig benadeel. Dit sal ons laat met ’n ramp in die onderwys wat onuitwisbare skade gaan aanrig,” verduidelik Bernard Pieters, bestuurder van gemeenskapsaktivering by Kaapse Forum. Hy benadruk dat dié organisasie intussen met sy regspan gaan konsulteer oor die volgende stap om toe te sien dat die wetsontwerp in sy spore gestuit word.

Die DA het gesê hy sal nie net sy eie regsaksie teen die Bela-wet voorberei nie, maar ook na ander organisasies uitreik met die oog daarop om al die verskeie regsaksies te kombineer tot die grootste onderwyshofsaak wat Suid-Afrika nog gesien het.

Baxolile Nodada, DA-LP en die party se woordvoerder oor onderwys, het gesê die party sal binnekort formele briewe aan alle organisasies stuur wat van voorneme is om die Bela-wetsontwerp in die hof te betwis, en hulle nooi om hulpbronne saam te voeg en saam te werk om die sterkste moontlike hofuitdaging aan die gang te kry.

“Op hierdie manier, deur die stemme van skoolbeheerliggame, die burgerlike samelewing en opposisiepartye te verenig in een gekonsolideerde hofaksie teen die ANC se kaping van skole, sal ons die Bela-wetsontwerp verslaan. Om ’n verenigde front te vorm teen die ANC se planne om ons skole te kaap en in duie te laat stort, was nog nooit so dringend nie.”

Bernard Pieters en Alana Bailey betoog teen die Bela-wetsontwerp

Die burgerregteorganisasie AfriForum het ook vroeër gesê hy sit voorbereiding vir litigasie voort ná die Bela-wetsontwerp deur die NV aanvaar is.

Volgens AfriForum is dit duideliker as ooit dat die ANC-regering hierdie wetsontwerp deur alle prosesse probeer stoomroller.

Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van kultuursake, beskou AfriForum die wetsontwerp as ’n direkte aanval teen Afrikaanse onderrig, wat uiters negatiewe gevolge vir gehalte‑onderrig in veral Afrikaanse enkelmedium‑, maar uiteindelik ook alle Suid-Afrikaanse skole sal hê.

Die wyse waarop die regering sy mag misbruik om Afrikaanse skole te probeer kaap, durf nie geduld word nie, het Solidariteit gesê en bygevoeg dat hy van voorneme is om regstappe te doen om die implementering van die wet te stuit.

Volgens Solidariteit hou die Bela-wet ʼn ernstige bedreiging vir Afrikaans en moedertaalonderrig in.

“Die volgende stap om die wetgewing goedgekeur te kry, is die debat en stemming in die Nasionale Raad van Provinsies. As die regering ook hier gaan toelaat dat sy politieke ideologie seëvier, en die wet daarna deur die president bekragtig word, staan Solidariteit reeds reg vir aksie. Ons sal nie huiwer om die kaping van ons skole tot in die hoogste hof te beveg nie,” het Johan Botha, adjunkhoofsekretaris van Solidariteit, gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Paul ·

Ek hou gereeld die stemmery in die Parlement dop en elke keer as daar gestem word wen die anc stemme as die meerderheid die “regses ” het vie die klerk gesè dit is wat gaan gebeur aangesien die anc die meerderheid is die klerk ons verseker sal nooit gebeur daar wigte en teenwigte wonder maar nou net wanneer gaan dit gebeur ??????

Aai ·

50 per klas hier kom dit en klasse gaan ontwrig word of hulle gaan ons maak betaal as ons dit wil he soos ons dit wil he om vir hulle foute te sorg.

Hendrik ·

Die groot probleem rakende hd besluit is onder andere dat insettinge wat voorafgaande gerig was nie volledig in aanmerking geneem is nie. En nog erger n passiewe geensins betrokke privaatsektor laat toe dat selfs hd uiters belangrike optredes eenvoudig oor hul stoomroller.

Amelia ·

Die regering moet hulle maar regmaak vir ‘n boikot en protesaksie wat die mislukking van e-tolls soos ‘n lammetjie sal laat lyk.

Republikein in die Wes Kaap ·

Amelia, Afrikaner ouers sal maar net toekyk en aanvaar.

Suid-Afrika Eerste - Vrydenker Vlakvark ·

Het die ANC dan nie uit die Anglo-Boereoorlog geleer dat die inbreukmaking op die menswaardigheid en kultuurgoedere van ‘n ander volk lei tot antagonisme wat van geslag tot geslag oorgedra word en mag vergesel gaan met vergelding nie?

Jaco ·

Dis net ‘n klein groepie wit mense wat kla oor alles verengels. Ek sien en hoor nooit Afrikaanssprekende kleurlinge kla nie. Swart sprekers van Xhosa, Tswana ens kla ook nie oor diskriminasie teen hulle tale nie. Is al die gekla nou ook regtig nodig?
1. Almal verstaan tog Engels. Dis dan al uit die ou SA se tyd ‘n verpligte vak op skool.
2. Wees bly julle wat so kla woon nie in Indië nie. Daar is Hindi, wat net deur 2 derdes van die bevolking gepraat word, die amptelike taal saam met Engels. Miljoene Indiërs wat nie Hindi praat of verstaan nie, nie ly daaronder.
3. Lag eerder vir die ANC se taalbeleid, want hulle vervang ‘n klein wit taal van sogenaamde onderdrukking net met ‘n baie groter wit taal van BAIE meer onderdrukking. Ja, Engels is oorspronklik ‘n wit taal uit ‘n landjie Engeland in Europa. En dié wit Engelse onderdruk al vir eeue ander volke in die Engelse taal. Eers in Wallis, Skotland en Ierland; later dwarsoor die British Empire (1 derde van die wêreld in 1921)

Paul ·

Dink u moet weer gaan lees dit gaan oor baie meer as taal die regering wil sè hè oor alles waar jou kind skool toe mag gaan watter skool jou kind na toe moet gaan en nog baie meer

Samuel ·

Vir my gaan dit om baie meer as net die moedertaal onderrig of Afrikaans. Daar is soveel ander dinge in die Bela-wet verskuil wat immoreel en selfs godslasterlik is.

Kokerboom ·

Dis so ironies. Jy stel ‘n sogenaamde demokratiese regering daar om om te sien na beste belange van land en en volk! Dan draai die einste regering om en probeer sy bes om land totaal te verwoes in ALLE opsigte en moet die einste volk wat hom daargestel het dmv hofaksies, betogings, regsoptredes die regering DWING om sy oorspronklike mandaat na te kom!!!!!Dis siek verby!!!

Pierre ·

gebruik die solank as n proef loop tot koalisie regerings, hoe meer mense kan saam staan hoe beter sal sie land raak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.