Beleidsonsekerheid: Nuus is goed én sleg

(Argieffoto: Steve Buissinne/pixabay)

Daar is tans effens meer beleidsekerheid ondanks groot onsekerheid oor die uitkoms van vanjaar se verkiesing én die feit dat die sakeskool van die Noordwes-Universiteit (NWU) se jongste beleidsonsekerheidsindeks nog goed in die negatiewe terrein sit.

Die sakeskool se beleidsonsekerheidsindeksyfer vir die vierde kwartaal is vandeesweek bekend gemaak en dui aan dat beleidsonsekerheid effens – vanaf 71,8 punte in die derde kwartaal tot 65,5 punte in die vierde kwartaal – gedaal het. Die basispunt is 50.

Dit is die tweede agtereenvolgende kwartaal dat die beleidsonsekerheidsindekssyfer effens daal. Die sakeskool sê die verbetering is welkom, maar nié genoeg nie. Kommer oor die situasie duur dus voort.

“Negatiewe ontwikkelings wat die beleidsonsekerheidsindeks vir die vierde kwartaal beïnvloed het, sluit in die erger as verwagte groei-uitkoms van -0,2% in die bruto binnelandse produk (BBP) oor die derde kwartaal van 2023, toenemende beurtkrag, die bottelnek by Transnet en inkrimping van huishoudelike finansies.”

Die sakeskool sê die wye verskeidenheid van moontlike verkiesingsuitkomste later vanjaar getuig van die hoë vlakke van onsekerheid wat tans heers.

Volgens die sakeskool kan hierdie negatiewe beleidsonsekerheidsindeksvlakke egter geleidelik omgekeer word indien die regte beleidstellings en projekte in werking gestel word.

Dit is ook bemoedigend dat inflasie nou goed binne die Reserwebank se teikenband van tussen 3% en 6% beweeg. “Rentekoerse in Suid-Afrika het dalk nou ook ʼn hoogtepunt bereik en uitleenkoste kan later in 2024 begin skietgee.”

Die sakeskool wys ook daarop dat daar reeds ʼn aantal hervormingsinisiatiewe is wat op groot beleidsgebiede soos energie, logistiek en vervoer na vore kom. Die sakeskool sê hierdie beleidsgebiede kan belangrike drywers vir vanjaar se groeivooruitsigte word.

“Die uitdaging bly dus grootliks om die inwerkingstelling van ooreengekome halfgesmede beleidstellings en projekte te bespoedig wat kan help om beleidsonsekerheid verder te verminder deur te verseker dat die met-winde swaarder as die teen-winde in 2024 weeg.”

Die NWU se sakeskool se beleidsonsekerheidsindeks – die netto uitkoms van positiewe en negatiewe faktore wat die kalibrering van beleidsonsekerheid oor die betrokke tydperk beïnvloed – is vroeg in 2016 vir die eerste keer bekend gemaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.