Beleidsposisie hersien om wild te beskerm

Argieffoto (Foto: WikiImages / Pixabay)

ʼn Hersiene beleidsposisie oor die bewaring en volhoubare gebruik van olifante, leeus, luiperds en renosters is vir implementering goedgekeur.

Barbara Creecy, minister van bosbou, visserye en die omgewing, sê Suid-Afrika is ‘n land met diverse kulture, merkwaardige geologiese rykdom en uitsonderlike biodiversiteit, waarvan baie uniek is. “Met hierdie ryk geskenk kom die verantwoordelikheid en uitdaging om te verseker dat ons spesies en ekosisteme bewaar word en volhoubaar gebruik word tot voordeel van alle Suid-Afrikaners en toekomstige geslagte.”

Volgens haar is die land se prioriteit om die oorlewing van wilde spesies te verseker.

“Hierdie beleidsposisie is ontwikkel om beleidsbedoelings te verduidelik ten opsigte van die bewaring en volhoubare gebruik van wit- en swartrenosters, leeus, olifante en luiperds.”

Benewens die leiding van artikel 24 van die Grondwet, is hierdie beleidsposisie ook saamgestel uit ‘n aantal prosesse wat spesifieke uitdagings geïdentifiseer het wat verband hou met die bewaring en volhoubare gebruik, en internasionale kommersiële handel in hierdie vyf spesies.

Dit sluit die renosterkomitee van ondersoek (COI), die parlementêre portefeuljekomitee leeu-kollokwium, hoëvlakpaneelverslag (HLP) en die witskrif oor die bewaring en volhoubare gebruik van Suid-Afrika se Biodiversiteit in. Ander elemente van bewaring en volhoubare gebruik van hierdie spesies word deur ander meganismes en instrumente hanteer.

“In ooreenstemming met die beleidskonteks van die witskrif, fokus hierdie beleidsposisie hoofsaaklik op die regstelling van onvolhoubare praktyke, die bevordering van bewaring, volhoubare gebruik en die welstand van die vyf spesies, en die voorsiening van beleidsrigting vir internasionale kommersiële handel in die vyf spesies,” voeg Creecy by.

Die beleidsposisie stel drie bewarings- en volhoubare gebruikbeleidsdoelwitte voor om spesiebestuur te verbeter:

  • Om die aanhouding van leeus vir kommersiële doeleindes te beëindig; leeu-aanhoudingsfasiliteite te sluit; ʼn einde te maak aan die intensiewe teel van leeus in beheerde omgewings; en die kommersiële uitbuiting te beëindig van leeus in aanhouding en leeus wat in aanhouding geteel is.
  • Om die intensiewe bestuur en teel van renosters in aanhouding vir kommersiële doeleindes uit te faseer, sodat getalle in die wild versterk kan word; en
  • Om te verseker dat die gebruik van luiperds volhoubaar is en hul bewaring in die wild gestimuleer en verbeter word.

Die beleidsposisie stel ook drie internasionale kommersiële handelsverwante beleidsdoelwitte voor:

  • Om die lewendige uitvoer van die vyf spesies slegs na habitatlande of enige ander toepaslike en aanvaarbare bestemmings met geskikte habitat op die Afrika-kontinent te bevorder;
  • Dat Suid-Afrika met habitatlande en potensiële bestemmingslande sal saamwerk om ʼn voorstel te ondersteun vir internasionale kommersiële handel in renosterhorings van beskermde wilde renosters, vir bewaringsdoeleindes, wanneer omstandighede gunstig word; en
  • Om internasionale kommersiële handel in olifant-ivoor slegs oorweeg sal word wanneer omstandighede gunstig word.

Creecy sê elke doelwit in die beleidsposisie het aktiwiteite vir implementering. “Deur praktyke te aanvaar wat verantwoordelik, wettig en volhoubaar is en die welstand van diere bevorder, sal die implementering van die ses beleidsdoelwitte praktyke binne die wildlewebedryf omskep wat nie bevorderlik is vir die welstand van diere nie. Dit sal bewaring en die volhoubare gebruik van biodiversiteit in die algemeen bevorder, veral wat betref hierdie spesies. Dit sal ook Suid-Afrika se posisie versterk as ‘n megadiverse land en ‘n leier in die bewaring en volhoubare gebruik van hierdie ikoniese spesies.

“Die strategiese impak van hierdie beleidsposisie is dat dit beleidsekerheid sal bied vir spesifieke elemente vir die bewaring en volhoubare gebruik van hierdie vyf spesies, en boonop ‘n grondslag sal bied vir die hersiening van wetgewing waar van toepassing en behoorlik.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.