Beloning van R250 000 ná skietdood van LEAP-beampte

Nagenoeg 13 koeëls het die LEAP-beampte se motor getref (Foto: Twitter)

Die Stad Kaapstad het ʼn beloning van R250 000 uitgereik vir inligting wat kan lei tot die inhegtenisneming en suksesvolle vervolging van diegene wat verantwoordelik is vir die dood van ʼn lid van die Wes-Kaapse regering se program vir die bevordering van wetstoepassing, beter bekend as LEAP.

Zanikhaya Kwinana (33) is Vrydag om 20:00 in Nyanga doodgeskiet terwyl hy besig was om patrollies uit te voer te midde van die voortslepende taxi-stakings in die stad.

Maroela Media het vroeër berig Kwinana en twee kollegas het in ʼn gemerkte wetstoepassingsvoertuig in Millerweg op pad na Bishop Lavis gery toe ʼn gewapende man op hulle losgebrand het.

Toe Kwinana se kollegas besef dat hy getref is, het hulle na die Heideveld-hospitaal gejaag, maar hy is by sy aankoms dood verklaar. Hy is in die kop geskiet.

Volgens JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit, het nagenoeg 13 koeëls die beampte se motor getref.

“Die skieter se bedoeling was baie duidelik. Hierdie gevoellose aanval moet ten sterkste veroordeel word, en ons sal nie rus totdat die verantwoordelikes gevang en voor die gereg gebring is nie,” het Smith vroeër gesê.

In ʼn poging om Kwinana se moordenaars op te spoor, het burgemeester Geordin-Hill Lewis die beloning van R250 000 uitgeloof.

“Die hele Kaapstad rou vandag saam met sy familie. Die stad en polisie sal saamwerk om sy moordenaars voor die gereg te bring, en ons sal die maksimum moontlike beloning bied om die ondersoek te help,” het die burgemeester gesê.

ʼn Beloning van R100 000 is reeds aangekondig vir inligting rakende die skietdood van nog ʼn LEAP-beampte. Toufeeq Williams is verlede Sondag doodgeskiet toe hy saam met sy dogter in Beacon Valley gestap het.

Gillion Bosman, die DA se woordvoerder oor gemeenskapsveiligheid in die Wes-Kaap, sê die feit dat LEAP-beamptes – wat in ʼn amptelike voertuig gery het – so duidelik en brutaal aangeval is, demonstreer dat die voortdurende atmosfeer van wetteloosheid as gevolg van die Wes-Kaapse taxi-stakings “te ver gegaan het”.

“Die staking het enige sin van wettigheid verloor, en het nou niks meer as ʼn verskoning vir openbare geweld, moord en intimidasie geword nie,” sê Bosman.

“Ek is hartseer oor die dood van hierdie dapper jong beampte in die uitvoering van sy diens.”

Die DA in die Wes-Kaap betuig sy meegevoel met Kwinana se familie, vriende en kollegas, en eis dat elke wetstoepassingsentiteit in die Wes-Kaap as een sal saamwerk om die oortreders aan die pen te laat ry. “Daar kan geen verskoning wees vir hierdie gruwelike daad nie.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Nico ·

Wie is hierdie persoon dat daar R250,000 beloning word uitgeloof vir die inhegtenisname vir die moord. Wat doen julle omtrent die moorde op ander mense, niks.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.