Bende aangekeer wat glo aflewerings teiken

Die polisie het onder meer op drie vuurwapens beslag gelê. (Foto: SA Polisie)

ʼn Bende rowers wat glo afleweringsvoertuie in Mohlakeng in Randfontein in Gauteng geteiken het, is aangekeer.

Brig. Mathapelo Peters, polisiewoordvoerder in Gauteng, het gesê die drie mans, onderskeidelik 30, 38 en 39 jaar oud, verskyn na verwagting Donderdag in die Randfontein-landdroshof nadat hulle Dinsdag in hegtenis geneem is.

Mathapelo sê in ʼn intelligensiegedrewe operasie – nadat ʼn afleweringsvoertuig vroeër die dag in Toekomsrus beroof is – het die polisie toegeslaan op die drie verdagtes wat in ʼn geparkeerde BMW op ʼn erf in Mohlakeng gesit het. Nadat hulle die voertuig deursoek het, het hulle beslag gelê op drie vuurwapens waarvan die reeksnommers verwyder is, drie magasyne en ammunisie.

ʼn Tweede voertuig, ʼn Volkswagen Polo met vervalste nommerplate, was in die motorhuis by dieselfde adres geparkeer. Die polisie het vasgestel die voertuig is vroeër as gekaap by die Kagiso-polisiestasie aangemeld.

Die voorlopige ondersoek het gewys die Polo is tydens die vroeëre rooftog in Toekomsrus gebruik.

Een van die drie verdagtes wat aangekeer is, is boonop op die polisie se lys van gesoekte verdagtes in verband met ʼn moord in Krugersdorp in Mei 2018.

Die verdagtes word aangekla van die besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie, asook die besit van ʼn gekaapte voertuig. Die drie se moontlike betrokkenheid by ander misdade word ook ondersoek, het Peters gesê.

Lt.genl. Elias Mawela, Gautengse polisiehoof, het die inhegtenisnemings verwelkom.

“Die eindresultaat van die operasie is goeie nuus terwyl Gauteng steeds sit met ʼn hoë voorkoms van kapings, ook van afleweringsvoertuie. Die verdagtes is dikwels met onwettige vuurwapens gewapen. Die sukses dra nie net by tot ons pogings om onwettige vuurwapens uit te roei nie, maar help ook om die voorkoms van ernstige en geweldsmisdade te verminder,” het Mawela gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Hennie J ·

Uitstekende werk om hulle aan te keer. Wanneer gaan MM berig oor hul onsnapping?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.