Beoogde borgskap van Britse sokkerspan ‘waansinnig’

(Foto: Dept. van toerisme)

Berigte dat die departement van toerisme, deur sy filiaal SA Toerisme, beoog om R1 miljard op te dok vir ʼn borgskap van die Britse sokkerklub Tottenham Hotspur, is Woensdag uit verskeie oorde gekritiseer en selfs as verregaande bestempel.

Dít nadat Daily Maverick berig het dat ʼn voorlegging oor die beoogde borgskap van die elite-sokkerklub vandeesweek aan SA Toerisme gedoen is.

Die voorlegging lui dat die waarde van die borgskap van Tottenham Hotspur FC sowat £42,5 miljoen oor drie jaar beloop. In randwaarde is dit net minder as ʼn R1 miljard. Bronne het aan die aanlyn dagblad gesê Lindiwe Sisulu, minister van toerisme, is glo haastig om die ooreenkoms te beklink voordat ʼn beoogde kabinetskommeling aangekondig word.

Sou SA Toerisme met die ooreenkoms deurdruk, sal dit luidens die voorlegging volg in die spore van ander bestemmingsbestuursorganisasies wat reisbestemmings bemark. Daily Maverick berig voorts dat SA Toerisme in die voorlegging gewaarsku word dat indien hy nie die geleentheid aangryp nie, ʼn mededinger dit wel gaan doen.

Die borgskap sal glo sorg vir mediablootstelling ter waarde van miljarde rand.

Steve Motale, Sisulu se woordvoerder, sê dit is onwaar dat Sisulu SA Toerisme dwing om die ooreenkoms af te handel. “Dit is ʼn blatante leuen. Die ooreenkoms is ʼn saak vir SA Toerisme se raad en hy het die minister nog nie formeel daaroor op die hoogte gebring nie.”

SA Toerisme ontvang voorstelle en dit word deur die uitvoerende komitee bespreek voordat dit aan die raad voorgelê word, sê Motale. Die voorstel gaan boonop sover terug as 2017.

“In wese is die SA Toerisme-voorstel om ʼn memorandum met Tottenham Hotspur FC aan te gaan. Dit is nie bindend nie. So ʼn voorstel moet steeds deur die departement van toerisme goedgekeur word en is onderworpe aan die instemming van die nasionale tesourie dat dit aan die regering se voorskrifte voldoen,” sê Motale.

Die minister wag ook nog vir ʼn verslag hieroor, sê hy.

Help eerder SA bedryf

Manny de Freitas, die DA se woordvoerder oor toerisme, sê egter die voorstel is ʼn klap in die gesig van die plaaslike toerismebedryf wat steeds steier onder die verwoesting wat die Covid-19-pandemie en meegaande inperkingsmaatreëls veroorsaak het.

“Dit is waansinnig. Daar is nie eens geld om die basiese dinge vir die bedryf te doen nie,” sê De Freitas.

Hy vra hoe só ʼn borgskap oorweeg kan word terwyl plaaslike toerisme-ondernemings steier. Die regering het tydens die Covid-19-pandemie boonop beperkte finansiële hulp aan die toerismebedryf gegee, glo omdat geld daarvoor beperk was.

In die voorlegging word die voorbeeld van Abu Dhabi se borgskap van Manchester City onder meer voorgehou as rede waarom Suid-Afrika nie die sogenaamde geleentheid deur sy vingers moet laat glip nie.

De Freitas sê die omstandighede in Suid-Afrika en Abu Dhabi is nie eens naastenby dieselfde nie. Hy het die afgelope ruk verskeie plaaslike toerismebestemmings besoek wat lamgelê of in sommige gevalle gesluit is omdat die eienaars daarvan nie meer kop bo water kon hou nie.

Sommige mense het die bedryf verlaat en ander het hul bedrywighede aansienlik afgeskaal net om hul deure te probeer oophou, sê De Freitas.

“Die sektor groei stadigaan, maar dit is ten spyte van die regering en nie danksy hom nie. Ons eie instellings kry swaar.”

Michal Groenewald, die VF Plus se woordvoerder oor toerisme, sê die blote feit dat die minister dit “enigsins kan oorweeg om bykans ʼn miljard rand van belastingbetalers se geld op ʼn buitelandse sokkerspan te bestee, bewys weer in hoe ʼn groot mate die ANC-regering totaal tred met die werklikheid verloor het”.

Onder die beste omstandighede sou dit op wanbesteding neerkom, sê Groenewald.

“Onder Sisulu se leiding het hierdie departement selfs ʼn nuwe laagtepunt bereik. Hierdie hele kwessie is ʼn verleentheid vir die land en die minister spoeg in die gesig van die belastingbetaler sou dit voortgaan.”

Die drukgroep Outa het summier Sisulu se kop geëis.

“Dink net wat anders met daardie geld gedoen kan word,” het die organisasie na die minister gekap.

Sosialemediagebruikers het ook woedend gereageer op die voorstel en Sisulu kasty. Sommige Suid-Afrikaners vra wat plaaslike sokkerklubs van die reuseborgskap van ʼn internasionale span dink.

“Wat ʼn grap. Met watse geld wil jy hulle borg? Om toeriste te lok om presies wat hier in die donker sonder krag en water te kom doen? Mense is honger en werkloos en jy wil ligsinnig wees,” lui een van die boodskappe.

Nog ʼn boodskap lui: “Geen krag, geen water. Staatshospitale wat nie werk soos hulle moet nie… maar kom ons gee Tottenham Hotspur ʼn borgskap van R1 miljard.”

Die DA sê hy sal enige poging teenstaan om die belastinggeld van gewone Suid-Afrikaners aan ʼn eerstewêreld sokkerklub oor te betaal en dat daar geen manier is dat die ANC só ʼn besluit sal kan goedpraat nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.