Beskuldigde in Senzo-saak borgtog geweier

Die hooggeregshof in Pretoria. (Foto: Twitter)

Die Pretoriase hooggeregshof het borgtog aan Bongani Sandiso Ntanzi (33), die tweede beskuldigde in die moordsaak van die sokkerster Senzo Meyiwa, geweier.

Ntanzi en sy vier medebeskuldigdes staan tereg op aanklag van moord, poging tot moord, roof met verswarende omstandighede, die besit van ʼn onwettige vuurwapen en ammunisie.

Ntanzi het sy aansoek om op borgtog vrygelaat te word op 13 Oktober verlede jaar ingedien.

Lumka Mahanjana, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, sê Ntanzi het in sy beëdigde verklaring aangevoer dat hy nie ʼn vlugrisiko inhou nie, nie ʼn gevaar vir die publiek inhou nie en ook nie op enige manier by die saak of getuies in die saak sal inmeng nie.

“Adv. George Baloyi, vir die staat, het egter Ntanzi se borgtog teengestaan. Hy het die beëdigde verklaring van die ondersoekbeampte ingedien wat sê dat Ntanzi oor sy alibi gelieg het asook oor sy bankrekeninge wat gevries is en dat hy deur die polisie aangerand is.

“Hy het ook geen verifieerbare adres in Guteng nie,” het Mahanjana gesê.

Die regter het saamgestem dat die beskuldigde nie buitengewone omstandighede kon aanvoer om op borgtog vrygelaat te word nie.

Die aansoek is gevolglik van die hand gewys. Die verhoor sal op Dinsdag 2 Mei hervat word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.