Besonderse prestasie vir Kaapstad-brandbestryder

Arlene Wehr (Foto: Luthando Tyhalibongo/Stad Kaapstad)

Arlene Wehr, ʼn brandbestryder van Kaapstad, is die eerste vrou om die vlak van operasionele hoof te beklee sedert die brand- en reddingsdiens in 1845 gestig is.

Wehr, oorspronklik van Mitchells Plain, het in 1996 by die stad se brandweer aangesluit en kantoorwerk in die privaat sektor prysgegee om haar passie na te streef om die gemeenskap te dien. Sy is deur familielede geïnspireer wat ook in diens van die gemeenskap gestaan het.

“Toe ek aangesluit het, was ek een van die eerste vroue. Daar was twee ander vroue voor my, en een was reeds weg teen die tyd wat ek aangesluit het,” het sy gesê. “Daar was baie uitdagings in ʼn hoofsaaklik manlike omgewing, maar ek het dit in geleenthede verander en geleidelik deur die range begin beweeg. Dit was ʼn lang pad, maar dit is iets wat ʼn loopbaan kan word.”

Sy sê om brandbestryder te word, is ʼn roeping. “Mens moet die passie en die hart hê daarvoor. Ek geniet dit om die gemeenskap te dien en personeel op te lei om dienslewering te verbeter. Ek hoop my prestasie sal ander jong vroue inspireer om ook aan te sluit.”

Wehr was in 2004 ook die eerste vroulike stasiebeampte in die brandweer en was in 2014 die eerste vroulike afdelingsbevelvoerder.

In haar nuwe rol is sy verantwoordelik vir agt van die stad se brandweerstasies, naamlik Kaapstad (Roelandstraat), Seepunt, Soutrivier, Epping, Brooklyn, Houtbaai, Constantia en Wynberg. “Die distrik word baie goed bestuur, maar daar is baie verbeterings wat ons kan maak. Ons het ook tegnologie wat dinge baie kan verander. So waar ek kan verbeter, sal ek met my span saamwerk om seker te maak ons lewer ʼn beter diens.”

JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit, het Wehr gelukgewens met haar nuwe rol. “Sy moet geloof word vir haar harde werk en die sukses wat sy behaal het. Ek hoop dit sal ander vroue aanmoedig om ook die brand- en reddingsdiens te oorweeg as ʼn loopbaan. Dis nie ʼn maklike werk nie, maar dit kan baie vervullend wees.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Elna ·

Ek stem saam dat n brandbestryding beampte se werk n roeping is. My man was vir 29 jaar n brandbestryder en dis nie n maklike werk nie. Ek salieer elke brandbestryder in SA wat baie jare diens het hulle is gesoute spesiale mense.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.