Betogers ruk weer op na Dros-verkragtingsaak

Die beskuldigde tydens ‘n vorige verskyning in die hof. Foto: Jonisayi W. Maromo/African News Agency

Verskillende burgerlike groepe, geloofsgroepe en politieke partye betoog vanoggend voor die Pretoria-landdroshof waar die sogenaamde “Dros-verkragter” weer sal verskyn.

Die 20-jarige man word daarvan beskuldig dat hy ʼn sewejarige dogtertjie in die toilette van ʼn Dros-restaurant in Pretoria verkrag het. Die man het nog nie op die aanklagte teen hom gepleit nie.

Themba Masango, sekretaris-generaal van #NotInMyNameSA, het Dinsdag gesê sy organisasie sal voor die hof ʼn protesaksie hou om te eis dat die beskuldigde ʼn swaar vonnis opgelê word wanneer hy uiteindelik verhoor word.

“Ons beplan om Woensdag in groot getalle op te ruk. Ons is tans in gesprek met die aanklaer. Ons sê [die beskuldigde] is nie geestelik versteurd nie. Hy moet onderwerp word aan bloedtoetse om ons beskuldigings te bewys. Ons soek antwoorde op die vrae wat ons vra. Ons weet hy is nie mal nie. Hoekom kry hy voorkeurbehandeling? Is dit omdat hy wit is?” het Masango gesê.

Profeet Paseka “Mboro” Motsoeneng, leier van Incredible Happenings Ministries, het ʼn samewerkingsooreenkoms met #NotInMyNameSA aangegaan en sê dit is noodsaaklik dat veral kerklike organisasies slagoffers van misdaad ondersteun.

“Ek het besluit om ʼn aktiewe rol te speel in die stryd teen alle vorme van vrouemishandeling in Suid-Afrika. Van die vroegste tye af was die kerk ʼn toevlug vir slagoffers, so ek, as ʼn leier van ʼn kerk, sal voortgaan op hierdie pad. Ek sal [vandag] my tyd afstaan om by verskillende politieke partye en aktiviste aan te sluit om hierdie kwessie te veroordeel. Ons kan nie hande gevou sit wanneer ʼn sewejarige dogtertjie gemolesteer word nie,” het Motsoeneng gesê.

Ook die ANC in Tshwane het Dinsdag gesê hy sal vandag na die hof opruk. “Ons voel ten sterkste [die beskuldigde] moet agter tralies bly vir die misdade wat hy gepleeg het,” sê Lesego Makhubela, woordvoerder van die Tshwane-koukus.

Die beskuldigde in die Dros-verkragtingsaak tydens ‘n vorige verskyning in die hof. Foto: Oupa Mokoena/ANA

“Ons is oortuig die hof moet nie toelaat dat hy sy sataniese gedrag wegsteek onder die sluier van geestesprobleme nie. [Die beskuldigde] was heeltemal bewus van wat hy doen en het op sy bose neigings gereageer. In die lig van die 16 Dae van Aktivisme teen Geweld en Mishandeling van Vroue en Kinders, moet die hof verhoed dat hy ooit weer vrygelaat word.”

Die hof het vroeër vandeesmaand beslis dat die beskuldigde in die Weskoppies Psigiatriese Hospitaal opgeneem moet word vir waarneming. Hy wag egter steeds vir ʼn bed in die hospitaal om beskikbaar te raak voordat hy vir 30 dae se waarneming opgeneem kan word.

Die hof het vroeër gehoor die beskuldigde het geestesgesondheidprobleme en het al verskeie kere probeer selfmoord pleeg weens depressie wat veroorsaak word deur ʼn bipolêre versteuring.

Riaan du Plessis, die regshulpprokureur wat die beskuldigde verteenwoordig, het vroeër versoek dat sy kliënt deur drie kliniese sielkundiges geëvalueer word, in plaas van twee soos normaalweg die gebruik is.

Die staat beweer die beskuldigde het die slagoffer in die Dros-restaurant agtervolg toe sy toilet toe gegaan het en haar daar verkrag. Die dogtertjie se ma het hom na bewering op heterdaad betrap toe sy na haar kind gaan soek het.

Die beskuldigde staan tereg op aanklagte van verkragting, dwelmbesit, aanranding met die doel om ernstig te beseer en intimidasie.

Sr.supt. Isaac Mahamba, woordvoerder van die Tshwane-metropolisie, het motoriste aangeraai om vandag die strate naby die hof te vermy omdat dit deur betogers versper sal wees. Francis Baard-straat sal van 08:00 tot 15:00 tussen Sophie de Bruyn- en Bosmanstraat gesluit wees.

Mahamba het gesê TMPD en SAPD-beamptes is ontplooi om die betogings te monitor en te help om verkeer te herlei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Riets ·

Wat my verstand te bowe gaan… hierdie hordes betogers is mos dan nou afwesig van hul werk hoekom is dit toelaatbaar en as hulle werkgewers hulle dan nou nie vir die dah se afwesigheid betaak nie dsn toi-toi hulle weer daaroor.

Sendeling ·

Ek is jammer as ek verkeerd verstaan, maar prober jy sy vermeende dade justify deur Bipolar?

Melt Olckers ·

Bipolere versteuring tas nie jou denke so aan dat jy misdaad pleeg nie. Die Bipolere Versteuring word soms gebruik deur Psigiaters om behandeling van ander versteurings soos drank en dwelm misbruik te dek sodat Mediese Fondse kan betaal. Hy was duidelik nie psigoties nie. Eerder soos die Staats Aanklaer se, dit is moontlike misdadige gedrag, juis omdat hy reeds in besit van dwelm middels ook was.
Dit is my mening dat hy eerder ‘n Psigopaat is. Hy kan nie agter Bipolere Depressie skuil nie.

Bipoler ·

Henna,
‘n Mens is nie net bipoler tydens ‘n sekere situasie nie. Dit is ‘n chroniese siekte waarvoor jy daagliks medikasie moet gebruik. As hy psigoties was (wat ‘n simptoom kan wees), kon dit moontlik ‘n effek gehad het.

alida ·

Dit is ‘n afskuwelike daad maar ons blankes moet ook deur al die trauma gaan as ons mense wreed verkrag en vermoor word. Stuur die betogers huistoe of werktoe waar hulle hoort en laat die reg sy gang gaan. Om te skreeu en dans gaan nie die Landdros se beslissing beinvloed nie. Hulle ontwrig net die normale loop van sake in die strate.

Marie ·

Hy moet gestraf word ja, maar hoekom só ñ bohaai maak. Omdat hy wit is… Wat van as swart wit babas, dogtertjies, meisies en vroue verkrag…dan is dit hulle reg……?

Mariette ·

Ek weet nie hoekom moet daar altyd rasisme gebruik word nie , dit gani oor wit of swart nie. Die land van ons bestaan net uit rasisme.

Betoog ·

Mariette,
Ek stem saam met jou. Ras moenie hier ingebring word nie. As die mense wil betoog, laat hulle begaan. Solank dit vreedsaam geskied.

leser ·

wit of swart, straf hom vir sy dade, geweld en misdade teen vrouens en kinders kom nie van vandag af nie

Christine ·

Hoekom moet ras weer hierby ingesleep word? Dit is ‘n verskriklike daad ongeag watter ras die skuldige of die slagoffer is. Laat ons eerder as n nasie saamstaan teen alle vorms van geweld in plaas van opgesweep te word teen mekaar.

Al ·

Ek het simpatie met die slagoffer, maar hierdie saak is besig om in ñ politieke sirkus te ontaard!!!
Daar is soveel ander kinderverkragters wat skaars die hoofstroommedia haal. En slagoffers wat nooit die tipe ondersteuning kry nie.

alida ·

Die kleur van die verkragter het niks te doen met die afskuwelike daad wat hy gepleeg het nie. Ras het niks hiermee te doen nie. Die SAPD moet die betogers verwilder sodat mens jou normale gang kan gaan. Die Hof sal besluite neem nie ‘n klomp ongeletterde onopgevoede mense daarbuite nie.

AM ·

Ek is biopolar en nog nooit sulke gedagtes gehad nie, dit is definitief nie biopolar nie.

Smurfie ·

Masango, n onskuldige kind is verkrag, en jy sien die kans om die rasse kaart te speel. Sies vir jou. Dit gaan hier oor n kind, nie die kleur van die verkragter nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.