‘Binnelanders’ se Clint en Bradley geniet die rol van pa-wees

Clint en sy wederhelf Steffi is die trotse ouers van hul eersteling Arielle Harmony. (Foto verskaf)

Deur Martjie Roos

Die akteur Clint Brink kry sommer ’n nuwe glans in sy oë wanneer hy praat van sy eersteling Arielle Harmony, wat op 6 April die eerste lewenslig aanskou het. “Ek geniet my nuwe rol as pa ontsettend baie. Wanneer ek na Arielle kyk, dan besef ek God is getrou en alles gebeur op God se tyd. Ek kan nie wag om elke oomblik van haar grootword en my ouerskap te beleef nie,” sê die 42-jarige Clint terwyl Arielle in die agtergrond koer.

Clint en die fiksheidsmodel Steffi van Wyk (31), wat in 2015 met grasie die kroon as Mej. Namibië gedra het en ook in 2019 aan M-Net se realiteitsreeks, Survivor SA – Islands of Secrets, deelgeneem het, het vyf jaar gelede getrou. “ My prioriteite het nie verander sedert ek pa geword het nie, want toe ek en Steffi die dag getrou het, het ek my reeds aan ’n vaste verhouding wat wedersydse respek asook aanvaarding en verantwoordelikheid insluit, verbind. Pleks van twee is ons nou drie in hierdie verbintenis,” sê hy.

Die Brinks se nuwe kosbare bondeltjie vreugde se naam Arielle beteken ‘Leeu van God’ in Hebreeus en haar tweede naam Harmony spreek vanself. “Haar doopname is dan presies die wens wat ons vir haar uitspreek,” verduidelik Clint. “Ons wens dat sy die karakter van ’n leeu sal hê. En ek is seker as sy die kombinasie van my en Steffi se geaardhede gaan hê, dan gaan sy ook baie wilskrag en hardkoppigheid hê. Ek en Steffi is albei soos ’n bull in a China Shop,” skerts hy.

Clint Brink as dr. Steve Abrahams in die sepie “Binnelanders”. (Foto: Brandon Barnard Photography)

Clint wens vir sy klein “Poplap” of “Daddy se poeding” soos hy haar dikwels liefderyk noem, net liefde in die toekoms toe. “Ek hoop dat sy passievol gaan wees in alles wat sy aanpak, ’n groot hart gaan hê en gaan sorg vir die mense om haar. My wens is ook dat alles vir haar met God se genade sal ontvou en dat sy veilig sal wees.”

Die pajamadril is glad nie so ’n aanpassing vir hierdie groentjie-pa nie. “Arielle word gelukkig net so twee keer ’n nag wakker en ek help graag met die winde uitvryf en doeke omruil. Dit is mos nou my job om my vrou se handlanger te wees,” skerts hy weer.

Wanneer hy nie op die stel van Binnelanders is nie, oefen Clint in die gimnasium of skryf hy liedjies en sing. Terwyl Steffi swanger was het hy reeds ’n nuwe liedjie “Hold on to Love” neergepen, wat nou op alle platforms beskikbaar is. “Ek is besig om nog ’n liedjie ‘Promise’ te skryf wat in Julie uitgereik word,” vertel hy. Hy is seker klein Arielle gaan ook musikaal wees, want hy hoor reeds ’n paar musikale note in haar kloklaggies, voeg hy by.

Een van die lewenslesse wat hy vir sy klein prinsessie wil leer, is dat wie jy is baie belangriker is as wat jy is, sê hy. “Ek wil haar leer oor hoe belangrik menswees is en ek wil hê sy moet grootword met die wete dat die lewe nie altyd maklik is nie en soms opdraandes het, en as jy sukses wil behaal in die lewe verg dit harde werk en opoffering. “

Dit is Clint Brink se eerste Vadersdag saam met klein Arielle Harmony. (Foto verskaf)

Dit is Sondag Clint se heel eerste Vadersdag. “Tot dusver beplan ons nog nie iets nie. Maar eintlik hoef ek mos nie ’n geskenk te ontvang nie, want my blou-oog meisiekind is elke dag my grootste geskenk. Ek kan nie wag om soggens wakker te word en daai oulike en vrolike gesiggie te sien nie,” sê hy.

Bradley Olivier vertolk die rol van die paramedikus Danny Jantjies in “Binnelanders”. (Foto: Brandon Barnard Photography)

Bradley Olivier, wat ons weeksaande as die waaghalsige paramedikus Danny Jantjies in die sepie Binnelanders sien, het ’n hegte band met sy vyfjarige oogappel Kiara.

“Na Kiara se geboorte moes ek my avontuurlustigheid tem, want ek kon nie net sommer op ’n vliegtuig klim of in ’n motor spring om die wye wêreld te verken nie. Ek moes meer verantwoordelik ter wille van my kind word en my eie veiligheid in ag neem,” vertel hy.

Bradley is ’n co-parent en vertel dat hy en Kiara se ma ’n goeie verstandhouding het oor wanneer sy by watter ouer bly. “Ons het nie vaste reëls nie en kom die ander een tegemoet waar ons kan. Kiara bly soms in die week by my en dan neem ek haar skooltoe en naweke is sy by haar ma. Afhangende van ons werkskedules bly sy dan weer partykeer in die week by haar ma en naweke by my. Dit is vir ons belangrik dat sy by elkeen se huis tuis voel. ”

Sy wense vir sy Kiara, of “Angel face” of Kiki, soos hy haar soms noem, is hope liefde en vryheid vir die toekoms. “Ek hoop sy kan eendag doen waarvoor sy lief is, wat dit ookal is. Sy moet die lewe op haar eie terme en reëls aanpak. Een van die lewenslesse wat ek haar leer, is dat ’n mens nie altyd die wenner is nie. Soms moet jy vir ander mense hande klap en soms is dit weer jou beurt dat mense vir jou hande klap. Partykeer wen jy, en partykeer verloor jy.”

Natuurlik is hy oorbeskermend oor sy enigste meisiekind, sê hy. “Maar ek sal maar eendag sien wat gebeur wanneer die kêrels opdaag om haar te date. Ek gaan nie noodwendig met ’n haelgeweer agter die deur staan nie, I will cross the bridge when I get there,” lag hy.

Bradley saam met sy dogtertjie. (Foto: Bradley Olivier/Facebook)

Bradley en Kiara spandeer gereeld gehaltetyd saam. “Ons speel graag bordspeletjies soos slangetjies en leertjies, gaan eet roomys of kleur in. Ek het grootgeword met herinneringe van ’n pa wat vir my byvoorbeeld geleer het hoe om fiets te ry en te swem. Ja, ek sal Kiara graag eendag Disneyworld toe wil neem, maar ek wil hê sy moet in die klein dingetjies in die lewe vreugde vind.”

Een van die belangrikste dinge wat hy as pa geleer het, is om dissipline met liefde toe te pas. “Wanneer ek haar vermaan of dissiplineer, probeer ek om dit met ’n sagte stem te doen en nie my stem te verhef nie. Maar algaande leer ek elke dag ’n nuwe lessie oor ouerskap.”

Kiara het ’n paar keer vlugtig Binnelanders gekyk na tonele waarin Bradley is, maar gou-gou belangstelling verloor. “Ek dink dit is omdat daar nie animasie in is nie,” skerts hy. Hy het Kiara ’n paar keer na die stel by Stark Studios in Randburg geneem om te kyk hoe Binnelanders verfilm word. “Sy het dit baie geniet, veral om te kyk hoe die akteurs gegrimeer word.”

Wanneer hy nie voor die kamera toneelspeel of pa vir Kiara is nie, is hy bedrywig agter die skerms. Hy en die akteur Solomon Cupido het die produksiehuis, Sturvey Pictures, gestig en Danny vervaardig en skryf tekste. Hul eerste rolprent, Frankie en Felipe, word vanjaar tydens die Silwerskermfees uitgereik. Hulle is ook tans besig om drie films vir Showmax te vervaardig.

Bradley het nog geen idee watter verrassings vir hom op Vadersdag wag nie. “Kiara het darem al vir my ’n prentjie van haar en my met die oog op Vadersdag geteken,” vertel Bradley trots. “Ons sal maar sien wat die dag oplewer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Skappie ·

Julle moet die kleintjies geniet. En baie, ja baie fotos neem, Die tyd vlieg so vinnig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.