Bitter pil vir Tongaat Hulett ná appèlaansoek misluk

(Argieffoto: Tongaat Hulett)

Die suikerprodusent Tongaat Hulett, tans in sakeredding, het nou geen ander keuse as om die sowat R1,5 miljard wat hy aan die Suid-Afrikaanse Suikervereniging (Sasa) skuld, te betaal nie.

Dit volg nadat die maatskappy se appèlaansoek Maandag deur die hooggeregshof in Durban afgekeur is.

Maroela Media het vroeër berig Tongaat Hulett en Gledhow-meule het versuim om die gelde verskuldig aan Sasa te betaal. Gevolglik het die finale prys vir herwinbare waarde in die 2022-’23-seisoen met meer as R400 per ton gedaal.

Volgens die Suid-Afrikaanse Suikerrietkwekersvereniging (SA Canegrowers) het dié daling aansienlike finansiële gevolge vir boere gehad en die volhoubaarheid van hul bedrywighede in die weegskaal geplaas.

Die vereniging het Maandag se beslissing verwelkom.

Tongaat Hulett het opslae gemaak nadat hy versuim het om boere, wat suikerriet aan sy meule in Felixton, Amatikulu en Maidstone gelewer het, te betaal. Die maatskappy het in Oktober 2022 aangekondig dat hy met ʼn vrywillige sakereddingsproses begin het.

Regter Rashid Vahed het egter bevind die heffings ingevolge die suikerbedryfsooreenkoms (SIA) is wetlik verpligtend. Dit volg daarom dat enige uitstaande heffings hiervolgens steeds betaalbaar is, ondanks die feit dat Tongaat Hulett in ʼn proses van sakeredding is.

“Die doel van die SIA is om te verseker dat suikerboere, -meulenaars en -raffineerders ʼn billike deel van die opbrengs van plaaslike suikerproduksie ontvang. Die hofbevel verplig Tongaat Hulett om nou sy finansiële verpligting hiervolgens na te kom,” sê Sasa in ʼn verklaring.

“Hoewel Tongaat se sakereddingspraktisyns steeds die appèlhof kan nader, bly Sasa hoopvol dat regter Vahed se uitspraak die nodige duidelikheid verskaf het sodat die saak afgesluit kan word.

“Tongaat se agterstallige betalings plaas onnodige druk op suikerboere en stel hul bestaan in gevaar.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Een van die nuwe Eskom baas se voetspore.

Christian J M ·

Waar gaan ‘n totale bankrot maatskappy sulke geld kry ???
Vergeet van sake redding en maak toe die klomp.

Bolandse Nooi ·

@Christian J M … ja, maak toe … en dan verloor 100’e boere hul enigste manier van voortbestaan en 1000’e mense hul werk. Liewe land, die boere het die suikerriet aan die verwerkingsaanlegte verskaf; hulle MOET betaal word! SASA verteenwoordig die boere en dra hul belange op die hart, vandaar die eis dat hulle betaal moet word, sodat die skade wat die boere ly in terme van ‘n volhoubare bedryf, gekenter kan word.

minnie muis ·

nog n maatskappy wat floreer het tot sekere groep oorgevat het

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.