Bloukraanvoëls by Pta-voëlpark vrygelaat

(Foto: Lorie Shaull, eie werk via Wikimedia Commons)

Twee bloukraanvoëls is vandeesweek in die Austin Roberts-voëlpark in Muckleneuk in Pretoria vrygelaat. Dit is die eerste keer in vier jaar dat dié bedreigde spesie weer by die reservaat te sien is.

Die broeipaar is aangekoop danksy ʼn fondsinsameling wat die Blue Crane Restaurant, wat langs die reservaat geleë is, gehou het.

Zander Smith sê dit was vir hom, Johan Billman en Nico Goosen, as mede-eienaars van die restaurant belangrik om iets terug te gee vir die gemeenskap en iets teruggee aan Austin Roberts-voëlpark vir die vergunning om hulle restaurant in dié spesiale omgewing te kan bedryf. “Omdat die restaurant se naam Blue Crane is, en omdat ons reg langs die reservaat geleë is, was klante onder die indruk dat die reservaat aan ons behoort en hulle het ons gereeld gevra waarom sien hulle nie meer die bloukraanvoëls nie.”

Hencke Marais, deel van spesialisdienste by Tshwane-natuurbewaring, sê die bloukraanvoëls wat altyd in die reservaat te sien was het uitgevrek en daar was ook nie ʼn suksesvolle broeipaar nie.

Smith sê uit ʼn gholfdag en veiling het die restaurant uiteindelik genoeg geld ingesamel om ʼn broeipaar aan te skaf. Dit was egter ʼn kopseer om ʼn teler in die hande te kry!

Die bloukraanvoël, Suid-Afrika se nasionale voël, is ʼn skaars, endemiese, bedreigde standvoël. Van die 15 verskillende kraanvoëls is die bloukraanvoël die ylste versprei en sedert 1980 was daar ʼn skielike afname in hulle getalle. Hulle word tans deur die

Internasionale Unie vir die Bewaring van die Natuur (IUBN) op die rooi lys as ʼn kwesbare spesie geklassifiseer. Hulle getalle het drasties afgeneem as gevolg van ʼn verlies aan habitat (verstedeliking en toename in bevolking), vergiftiging en botsings met kragdrade.

Volgens die Suid-Afrikaanse Nasionale Biodiversiteitsinstituut (Sanbi) is daar slegs sowat 25 000 bloukraanvoëls oor in die wêreld waarvan die helfte in die Kaapse Overbergstreek aangetref word.

In Julie is ʼn broeipaar uiteindelik by ʼn teler gekoop, maar daarna het ʼn proses gevolg voor die voëls in die reservaat vrygelaat kon word.

Marais verduidelik dit is ʼn ingewikkelde proses om enige bedreigde spesie aan te skaf en te vestig om smokkelhandel te voorkom. Die betrokke broeipaar, ongeveer twee jaar oud, se DNS is op ʼn databasis geplaas, mikroskyfies is ingeplant en die twee voëls is gering.

Toetse is ook onder narkose op die twee voëls gedoen om hul voortplantingsorgane te bestudeer en seker te maak hulle is gereed om te teel.

Volgens Marais is die terrein van die Austin Roberts-voëlpark ook uiters geskik vir bloukraanvoëls. “Dit is ʼn gesonde broeipaar en dit is ʼn geskikte habitat. Ons vertrou dat hulle binnekort sal broei,” sê Marais.

  • Besoek gerus die restaurant en Austin Roberts-voëlpark wanneer jy weer in Pretoria is. Jy kan die restaurant ook op Facebook
  • Klik hier om meer te lees oor bloukraanvoëls

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.