Blouligbrigade: Staat glo suksesvolle vervolging sal geskied

Beskuldigde sewe Lesibana Aggrie Rambau het ten tyde van die aanrandingsvoorval in die motor bly sit (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) glo ’n suksesvolle vervolging van die agt vermeende blouligboelies sal geskied.

Dit is ten spyte daarvan dat hulle Dinsdag in die landdroshof in Randburg op borgtog van R10 000 elk vrygelaat is omdat die landdros, Hleziphi Mkhasibe, aangevoer het dat die staat ’n “swak saak het”. Sy sê die saak is ook te vroeg op die hofrol geplaas.

Phindi Mjonondwane, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het Dinsdag ná die hofsaak gesê sy stem nie saam met die landdros dat die “staat te haastig was om die saak op die hofrol te plaas en dat die staat nie behoorlike ondersoekwerk gedoen het nie”.

“Die ondersoek is net nog nie afgehandel nie, maar ons het die saak op die hofrol geplaas op ’n stadium wat ons geglo het reg is. Kriminele sake verskil van tyd tot tyd, gegrond op die meriete van die saak. Ons het besluit om die wiele van geregtigheid aan die rol te sit in ’n poging om die lid van die publiek [wat doodsdreigemente ontvang en nou vir sy lewe vrees] te beskerm,” het Mjonondwane gesê.

Phindi Mjonondwane, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in Gauteng (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Shadrack Kojoana, Johannes Matome Mampuru, Pomso Joseph Mofokeng, Harmans Madumetja Ramokhonami, Phineas Molefo Boshielo, Churchill Mpakamaseni Mkhize, Lesibana Aggrie Rambau en Moses Fhatuwani Tshidada staan tereg op altesaam 12 aanklagte, wat insluit die rig van ʼn vuurwapen, roekelose en nalatige bestuur, kwaadwillige saakbeskadiging, aanranding met die doel om ernstig te beseer, dwarsboming van die gereg en die dreigement van aanranding.

Die klagtes spruit uit ʼn aanranding wat op 2 Julie op die N1-hoofweg in Fourways plaasgevind het en op video vasgevang en versprei is.

Volgens Mjonondwane is die saak nie op die hofrol geplaas weens openbare druk – soos die verdediging in die hof aangevoer het – nie.

“Ons het besluit om die saak op die hofrol te plaas weens die bewyse wat die staat reeds in die dossier bymekaar gemaak het. En op grond daarvan glo ek die staat het ’n sterk saak wat tot die suksesvolle vervolging van die beskuldigdes sal lei.”

Volgens Mjonondwane weet die staat wie die kerngetuie is wat die video van die voorval geneem het, maar dié persoon verkies om anoniem te bly. Dit verskil met die hof se stelling dat die staat nie eens die identiteit van dié persoon ken nie.

Van links: Shadrack Kojoana, Johannes Matome Mampuru, Pomso Joseph Mofokeng, Harmans Madumetja Ramokhonami, Phineas Molefo Boshielo, Churchill Mpakamaseni Mkhize, Lesibana Aggrie Rambau en Moses Fhatuwani Tshidada (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

“Die getuie is aan die staat bekend en die staat het reeds met die persoon gekonsulteer.”

Mjonondwane sê dit was die doodspyker in die staat se saak toe die staat nie kon bewys wie verantwoordelik is vir die dreigemente aan die lid van die publiek nie wat die video van die voorval op sosialemediaplatforms gedeel het.

“Die staat glo wel een of meer van die beskuldigdes – of iemand na aan hulle – is verantwoordelik vir die dreigemente omdat die boodskap van ’n weggooiselfoon gestuur is, wat telkemale in gespesialiseerde eenhede gebruik word.”

Mkhasibe het die staat ook gekap oor hy nie ʼn identiteitsparade gaan hou nie (sodat die beskuldigdes geïdentifiseer word).

Volgens Mjonondwane is daar verskeie ander maniere om identiteit van die beskuldigdes te bewys. Sy sê ’n identiteitsparade is in hierdie aangeleentheid nie die enigste antwoord nie.

Met Dinsdag se uitspraak het Mkhasibe die geskorste polisiebeamptes se gedrag gekritiseer en gesê dit skend verder die publiek se vertroue in die polisie.

“Hulle het hul magsposisie en polisiehulpbronne misbruik en waaghalsig opgetree deur die weermaglede so in die openbaar aan te rand. Hulle het nie eens probeer om hul identiteit te versteek nie. Hulle het wel nie geweet die aanranding word op kamera vasgevang nie en het in daardie stadium ook nie omvang en gevolge van hul optrede begryp nie.”

Volgens Mkhasibe het die “grusame aanranding” sonder geregverdigde rede plaasgevind.

“Die beskuldigdes beweer hulle was verantwoordelikheid om ‘Nommer Twee’ (adjunkpresident Paul Mashatile) te beskerm en dat die weermaglede moontlik ʼn bedreiging ingehou het. As hulle hul gesonde verstand gebruik het, sou hulle besef dat ʼn motor met vier insittendes nie ʼn bedreiging kan inhou vir ʼn konvooi van agt motors nie. Hulle moes dit ook besef het toe daar geen vuurwapens in die motor gevind is nie.”

Lees meer oor die saak hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

28 Kommentare

Tewis ·

Wat ń sirkus en ń helse grap!!! So hulle loop nou weer buite rond om nog ander te boelie??

Charles ·

Ek gee nie om nie. Zuma is ou nuus wat lewendig gehou word vir ons vermaak.

HPJ ·

As oud Polisieman en Speurder van 40 jaar diens kan ek nou vir jou se die Staat het n probleem met identifikasie Hier is geen formele uitkenning parade gehou nie Daarby is dit nie duidelik dat die video goed genoeg is vir gesig identifikasie nie So as die beskuldigdes on algehele ontkennig verweer het gaan die staat sukkel om hulle binne die beprkings van die Strafproses wet op die toneel te plaas Of fit met opset is of nalatig is kan ek nie se nie Maar dat fie Verdedig beter lyk as die staat is n feit

Frank ·

As oud polisieman en speurder is dit snaaks dat jy nie agtergekom het dat identifikasie nie juis ‘n baie belangrike rol speel nie aangesien hulle by wyse van verdediging reeds erken het hulle was op die toneel en moes nommer 2 beskerm

JohanR ·

Hoe weet die regter wie wie is? Dit kan agt ANC-vroueliga lidmate wees onder daai maskers, of agt pappegaaie!

Vanessa ·

Nou waarom word hulle gesigte nou so toegehou. Hulle was baie braaf toe hulle pakslae uitgedeel het.

Alewyn ·

Dit wil vir my voorkom asof die landdros reeds besluit het dat die manne niks verkeerds gedoen het nie.

Pierre ·

seker ook maar gedreig of ou geldjie betaald of miskien was die staat te haastig en geswik onder die publieke druk

efjy ·

Hoekom moet hulle op ‘n identiteitsparade verskyn. Hulle het reeds erken dat hulle diemisdaad gepleeg het. Hulle verskoning was dat hulle No 2 bekerm het. Vat voorlopig hul polisie uniforms asook vuurwapens af.

Wikkie ·

Waarom hul gesigte onder maskers wegsteek as hulle glo hulle is onskuldig. Maar ons ken mos nou al hierdie land se regsstelsel. Daar sal hoegenaamd niks met hulle gebeur nie. Net soos wat daar niks met Julius Malema gebeur nie. Korruptes, misdadigers en onbevoegdes, kan nie ander korruptes, misdadigers en onbevoegdes vervolg nie.

annie ·

Is dit wettig in SA dat aangeklaagdes in howe hul gesigte so mag wegsteek? Dit moet onwettig wees. Waarom sou misdadigers sulke beskerming geniet?

Tokkel ·

Hulle kon vinnig die blouligte aansit en onskuldige mense aanrand, nou maak hulle hul gesigte toe??
Waar is jul braafheid nou sonder die blouligte of word julle alweer beskerm. Wys jou gesig en moenie skaam wees vir dade nie, Jy het mos kamtig NIKS verkeerds gedoen nie,….

Nettie ·

Verskeie manne op die video was duidelik aan die… uh… oorgewig kant.
Min van die manne in die hof is aan dieselfde oorgewig kant.

Hoe so?

Is dit hoekom die gesigte so ERG toegemaak moet word?

Lillian ·

Borgtog nogal! Om die getuies te gaan vermoor en daarmee ook te wil wegkom?

Nonnie ·

Ons bid dat reg sal geskiet, want wie sê dat daardie arme jongmense wat aangerand is, nie binnekort in kastige ‘bendegeweld’ sal omkom nie en dan gaan daar aangevoer word dat hulle ‘misdadigers’ was….HIERDIE BLOULIG BRIGADE IS UITERSTE BOEWE EN HOORT AGTER TRALIES!!!!! Maar huidiglik lyk my, is daar reeds deur die ” wonderlike eerlike’ regbank besluit dat hierdie barbare onskuldig is, want hoekom word hulle gesigte so vreeslik toegehou????

Mareli ·

Waarom nou die skielik wegkruip so al ewig agter die maskers? Hulle was braaf genoeg op die snelweg – neem die kappies en maskers weg.

Carl ·

Die hof moet beveel dat hulle die maskers afhaal. Maar die hof is ook in die ANC se sak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.