‘Bly liefs van die pad af dié feestyd’ – AA

(Argieffoto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Die toestroming van voertuie op die paaie hierdie feestyd beteken nie net erge verkeersknope nie, maar ook meer ongelukke wat dikwels noodlottige gevolge het.

Die Automobiel-Assosiasie (AA) maan dat Suid-Afrikaners veral in die tyd tussen Kersfees en Nuwejaar ekstra versigtig op die paaie moet wees, of eerder langafstandreise in die geheel probeer vermy.

“Hierdie tyd van die jaar is berug vir die beduidende toename in motorongelukke wat tot baie sterftes lei,” maan die AA.

“Hoewel verkeersbeamptes se bedrywighede gedurende hierdie tyd verskerp is, sal al die pogings op sigself nie ʼn betekenisvolle verbetering in padveiligheid tot gevolg hê nie.”

Volgens die AA is swak bestuurdergedrag die hoofoorsaak van ongelukke en sterftes op Suid-Afrikaanse paaie en “tensy alle padgebruikers verantwoordelikheid vir hul optrede aanvaar, sal ons land se haglike padveiligheidsituasie eenvoudig nie verbeter nie”.

Vir padgebruikers om verantwoordelikheid te neem moet hulle nie net daarop bedag wees om die padreëls te volg nie, maar ook verdraagsaamheid toepas.

“Goeie gedrag op die paaie word aangeleer deur die optrede van ander en as meer ervare padgebruikers die reëls verontagsaam, aggressief teenoor ander is en geen respek toon vir verkeersbeamptes nie, word hierdie gedrag na die volgende generasie oorgedra.”

Wahl Bartmann, uitvoerende hoof van die veiligheidsmaatskappy Fidelity Services Group, sê daar is ʼn paar basiese beginsels wat toegepas kan word om ernstige beserings of sterftes wat deur ongelukke veroorsaak word, te voorkom.

“Dit sal reeds ʼn groot verskil maak as jy jou veiligheidsgordel aansit, ʼn veilige spoed handhaaf en nooit ʼn voertuig ry wanneer jy onder die invloed van drank is nie,” sê hy.

“Om op die pad te bestuur vereis te alle tye jou volle aandag.”

Bartmann stel voor dat enige en alle afleidings vermy moet word. Dit beteken dat motoriste liefs nie ʼn selfoon gebruik of boodskappe probeer stuur terwyl hulle bestuur nie.

Dit is ook belangrik om jou motor deur ʼn padwaardigheidstoets te laat gaan voordat langafstandreise onderneem word.

“Baie ongelukke word veroorsaak deur bande wat bars of ander onklaarrakings wat vooraf deur ʼn werktuigkundige reggestel kan word.”

Hoewel motoriste talle voorsorgmaatreëls kan neem, is die AA steeds bekommerd oor onbeplande gevare op die pad, soos misdadigers wat motoriste teiken op afgeleë paaie of langs die snelweg. Daar is reeds verskeie voorvalle deur die jaar aangemeld waar motoriste deur misdadigers geteiken is en in die proses ernstig beseer, gekaap en beroof of selfs vermoor is.

“Indien lang reise wel onderneem moet word, is dit belangrik om die roete vooraf te beplan, want elkeen is verantwoordelik vir ons eie en ons gesinne se veiligheid op die pad.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.