Blye viering van die Afrikaanse Bybel

‘n Afrikaanse Bybel uit die Vrystaat kerkargief se versameling. (Foto verskaf)

Deur Petronel Fourie

Die Afrikaanse geloofsgemeenskap vier vanjaar saam met die Bybelgenootskap van Suid-Afrika die 90ste herdenking van die Afrikaanse Bybelvertaling. In 1933 kon Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners vir die eerste keer ʼn volwaardige en volledige Bybel in Afrikaans in hul hand vashou.

ʼn Vertaling wat ver kom

Die verhaal van die Afrikaanse Bybel begin in 1872, toe Arnoldus Pannevis ʼn brief skryf wat aanvoer dat die Nederlandse Bybel nie meer vir die Afrikaner verstaanbaar is nie. Die Genootskap van Regte Afrikaners word toe gestig met die doel om die Bybel in die volkstaal beskikbaar te stel. Tussen 1889 en 1929 publiseer die GRA verskeie Bybelboeke – van Dri Proewe wat SJ du Toit vertaal het, tot die Vier Evangelies en die Psalms, wat vir die eerste keer uit Hebreeus, Aramees en Grieks na Afrikaans vertaal is.

Op 29 Mei 1933 land die eerste besending van 10 000 eksemplare van die Afrikaanse Bybel op tuisbodem. Op 27 Augustus word die Bybel amptelik deur Afrikaanse kerke in gebruik geneem.

In die jare daarna sou die Afrikaanse Bybel nog ʼn paar mylpale bereik. In 1941 word die volledige Braillebybel in Afrikaans gepubliseer, en in 1953 die taalkundig hersiene uitgawe van die Bybel in Afrikaans. Die Blye Boodskap, ʼn nuwe vertaling van die vier Evangelies, Handelinge en Psalms sien in 1975 die lig, en in 1979 verskyn Die Nuwe Testament en die Psalms, ʼn voorloper van die 1983-vertaling. Op 2 Desember 1983 word Die Bybel: Nuwe vertaling in Bybelhuis, Kaapstad bekendgestel.

Prof. Danie Goosen oorhandig die FAK se Prestige-toekenning in 2022 aan prof. Bernard Combrinck vir sy lewenswerk as voorsitter van die 2020- Afrikaanse Bybelvertaling. (Foto: Verskaf)

Die unieke Bybelvertaling vir Dowes – slegs die tweede Bybel van sy soort in die wêreld – word in 1993 deur die kerk versoek en in 2008 bekendgestel. Na jare van navorsing versoek die kerke wat die Afrikaanse Bybel gebruik in 2006 ʼn Bybelvertaling wat meer bronteksgeoriënteerd is. Hierdie vertaling, Die Bybel: 2020-vertaling, is as deel van die Bybelgenootskap se tweede eeufeesvieringe bekendgestel.

Landswye feesviering

Pretoria

‘n Bybel uit die Oorlogmuseum se versameling. (Foto verskaf)

Om hierdie belangrike gebeurtenis te herdenk, hou die Bybelgenootskap ʼn spesiale dankfees by die Voortrekkermonument in Pretoria. Die dankfees word in samewerking met die Voortrekkermonument en FAK op 27 Augustus 2023 gehou, dieselfde datum waarop die Afrikaanse Bybel amptelik bekendgestel is, asook die dag wanneer die Bybelgenootskap sy 203de verjaarsdag vier.

Die feesprogram sluit onder andere Bybelvoorlesings, ʼn boodskap deur die Bybelgenootskap se uitvoerende hoof ds. Rodney van Wyk, en optredes deur ʼn koor, blaasorkes en sangers in, asook die onthulling van ʼn Saaier-gedenkbeeld.

“Vanjaar kan ons met dankbaarheid terugkyk op die enorme invloed wat die Afrikaanse Bybel op miljoene mense se geloofsvorming gehad het, asook die onskatbare bydrae wat dit tot die ontwikkeling van Afrikaans as taal gelewer het. Ons is vol vertroue dat die Afrikaanse Bybel sal voortgaan om ʼn opbouende en blywende impak op toekomstige geslagte te hê en dat dit ʼn belangrike rol sal speel in die vooruitgang van ons land,” het dr. Gerhard Lindeque van die Bybelgenootskap se Noordelik Streek en een van die organiseerders gesê.

Die buitelug dankfees word Sondag 27 Augustus 2023 om 15:00 by die Voortrekkermonument gehou. Die publiek is welkom en word versoek om hul kampstoele saam te bring.

Bloemfontein

By die Oorlogsmuseum in Bloemfontein gaan daar ook ʼn fees van dankbaarheid plaasvind. Op Saterdag 26 Augustus kan besoekers ʼn interessante uitstalling wat die Bybel se geskiedenis uitbeeld, gaan sien. Dr. Elrika Senekal-Van der Berg van die Bybelgenootskap vertel dat die uitstalling rare en baie interessante Bybels gaan bekendstel, soos Bybels wat begrawe was tydens die Anglo-Boereoorlog (ABO), asook Bybels wat ná die oorlog deur die Kwakers (Quakers) teruggestuur is.

“Kunstenaar Ilse Kleyn het ʼn werk geskilder in opdrag van die Oorlogsmuseum en hierdie besonderse skildery (groter as lewensgroot) word amptelik bekendgestel en oorhandig tydens die geleentheid. Daar is destyds ʼn unieke lied gekomponeer en geskryf vir die Afrikaanse Bybel in 1933 en hierdie lied, genaamd “Welkom Dierbaar Woord van God”, gaan landswyd gesing en opgevoer word. Bloemfontein sal geen uitsondering wees nie,” vertel sy.

Senekal-Van den Berg het ʼn mikro-camino vir die feesgeleentheid ontwikkel en dit sal die eerste keer wees wat so iets gestap word. “Pelgrims kan die roete loop en by die onderskeie punte plakkers versamel met Ilse Kleyn se kunswerke daarop, oor Bybeltekste lees en peins, en dan verder gaan met hul tog.”

Die Oorlogsmuseum het ook ʼn versameling van baniere geskep wat die geskiedenis van die Afrikaanse Bybel uitbeeld. Hierdie versameling reis Sondae tussen verskillende kerke, en sal dan vanaf die feesgeleentheid by die museum wees tot in Januarie 2024.

Verder gaan gidse van die museum diens doen om besoekers deur die uitstallings te vergesel en spesifieke interessanthede uit te wys, terwyl ʼn simfonieorkes ook gaan optree.

“Almal is welkom tydens hierdie geleentheid. Toegang is gratis en mense word aangemoedig om met hul hele gesin te kom,” sê Senekal-Van den Berg.

Op Sondag 27 Augustus vind ʼn feesgeleentheid by die NG Kerk Langenhovenpark plaas.

Kimberley

Die eerste eksemplare van die Afrikaanse Bybel is in Mei 1933 by die Britse en Buitelandse Bybelgenootskap afgelewer. (Foto: Nasionale Argief, Pretoria)

Op Kimberley in die Noord-Kaap gaan daar ook behoorlik fees gevier word. Neels Loots van die Bybelgenootskap is aan die stuur van die geleentheid op 26 Augustus, wat die Brood Aand genoem word.

“Ons kleur die aand in met ʼn Bybel-uitstalling in die voorportaal. Ons het gemeentes en lede van die publiek uitgenooi om tafels vol te maak met vriende en familie wat die aand saam met ons gaan geniet. Elke tafel bring een ekstra brood saam, wat op die lang tafel gesit word en wat ons ná die verrigtinge aan twee afsonderlike kinderhuise gaan skenk,” vertel hy.

Die kunstenaar Corné Viljoen het die melodie van die lied wat tydens die bekendstelling in 1933 gebruik is ʼn nuwe baadjie gegee vir vanjaar se geleentheid. Die lied word by die Brood Aand geloods en aan die breë gemeenskap bekend gestel. Die musiek en lirieke van “Welkom Dierbaar Woord van God” is ook op Spotify asook ander musiekplatforms beskikbaar.

Loots voeg by dat die gemeenskap tydens die aand se geleentheid na getuienisse van plaaslike mense oor die impak van die Bybel op hulle lewe kan kom luister. Sprekers sluit in die familie wat betrokke was by die Tswana-vertaling by Moffat Mission in Kuruman, Jackey van Wyk van die CMA, en enkele tieners. Die kunstenaar Scott Milne gaan die gehoor vermaak met sang.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Fluisterwind ·

Daar is sedert die eerste gedrukte Bybel in 1455 ‘n groot aantal Bybelvertalings en uitgawes geproduseer. Die presiese aantal vertalings kan wissel afhangende van hoe jy “vertaling” definieer, maar daar is na raming meer as 3,000 vertalings van die volledige Bybel in verskeie tale.

57 Chevy ·

Ongelooflik ! Ek is ook in besit van n Nederlandse Bybel van 1926 wat aan my oupagrooitjie behoort het . Van hom na my pa, en van my pa oor na my gebring . Ons het die selfde name en dit was sy wens om dit so oor te gee . Baie trots !

absoluut ·

Dankie vir die deel van die stukkie geskiedenis en verstaan nou hoekom my ouers maar nog altyd lees uit die 33’vertaling soos hulle dit noem en nie sommer ander vertalings tye se Bybel gebruik nie.

De Bok ·

Ons het ook tot onlangs nog net die ’33/’53 vertaling gebruik. Net so nou en dan die ’83 bygetrek om te help met moeilike tekste.
Nou dat die 2020 vertaling uit is, gebruik ons ons dit al hoe meer in huisgodsdiens. By die kerk is dit nog ’33/’53 al die pad.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.