Boelie-video: Skool vra vir permanente skorsing van leerders

'n Skermskoot uit die video.

‘n Skermskoot uit die video.

Die beheerliggaam van Laerskool Randfontein het aanbeveel dat die drie seuns wat glo betrokke was by ’n voorval waartydens ʼn gr. 7-leerder gewelddadig deur medeleerders aangerand is, permanent uit die skool geskors word.

Leon Haupt, die skoolhoof, het Vrydag gesê die leerders wat by die voorval betrokke was, is Woensdag dissiplinêr verhoor. Die skool het aanbeveel dat die swaarste moontlike straf, naamlik permanente skorsing, aan die drie hoofoortreders gegee word. “Dié aanbeveling is aan die departement van onderwys gestuur om bekragtig te word, maar intussen is die drie leerders (tydelik) geskors,” het Haupt gesê.

Maroela Media het vroeër berig van die skokvoorval waartydens ʼn 13-jarige seun deur ʼn groep medeleerders geslaan en geskop word. Verskeie leerders het die voorval met hul selfone verfilm en die video’s is wyd oor die internet versprei. In die video’s kan gesien word hoe die seun naderhand op sy knieë val en sy hande oor sy kop hou om homself te beskerm, maar die groep hou net aan om hom te skop terwyl omstanders hulle luidkeels toejuig. Die aanvallers gebruik ook deurentyd uiters kru taal.

Phumla Sekhonyane, woordvoerder van die Gautengse departement van onderwys, het kort daarna aan Maroela Media bevestig dat drie van die seuns geskors is.

Volgens Haupt sal al die leerders wat fisiek betrokke was alle gr. 7-voorregte verbeur en die skoolleiers wat betrokke was, is onmiddellik van hul leierskap ontneem. Alle betrokke leerders sal ook ʼn teenboeliekursus moet voltooi wat deur ʼn buite-instansie aangebied sal word. “Die skool se leiers sal ʼn bemagtigingsprogram ondergaan om hulle te help om konfliksituasies beter te hanteer. Vrywillige deelname aan beradingsessies is ook aan al die betrokkenes gebied,” het Haupt gesê.

Hy het beklemtoon dat strawwe aangepas is na gelang van die oortreding van die gedragskode. “[Daar moet in gedagte gehou word] dat ʼn skool onderwerp is aan die skolewet en strawwe beperk word tot die inhoud daarvan,” het hy gesê.

Hy het genoem dat drie personeellede ten tyde van die voorval aan diens was, maar dat die voorval agter die tennisbane plaasgevind het wat buite sig van die personeel aan diens is.

“Hierdie beplande, alleenstaande geval van ernstige bakleiery en meegaande kru taalgebruik en aanhitsing is nie die norm by Laerskool Randfontein nie. Die skool en beheerliggaam betreur die voorval en die meegaande negatiewe publisiteit in geheel en wil ouers weer die versekering gee dat alles moontlik gedoen word om [hul] kinders se veiligheid te verseker,” het Haupt gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

32 Kommentare

Landie ·

Verbeteringskool sal die mees gepaste straf vir die boelies wees, dan kan hulle sommer daar geboelie word deur kinders van hulle eie grootte!! Hoe is daai vir pakslae manne!!

Trudie Erasmus ·

Ek is net bly dat die leiers wat toegekyk en aangehits het, van hul leierskap onthef is. Die skool het sulke leiers nie nodig nie, maar stel kinders in hul plek aan wat goeie leiereienskappe het. My kinders moes leierskap naweke gaan bywoon het voordat hul verkies was. Maar jammer om te sê, dit is meestal die “gatkruiper” ouers se kinders wat gekies word.

Prit ·

Ek was self n prifek, jy is dood reg, ons moes ook kampe doen etc en jy vat die woorde so uit my mond uit oor die ouers…

Lydia Kotzee ·

Ja, stuur hulle na die verbeterings skool. Laat hulle geen voorregte geniet nie want met die gedrag gaan hulle dalk net 1 dag in die tronk beland.

Jan maak n Plan ·

Dit is duidelik soos daglig dat hierdie bulletjies nie n meneer of juffrou wat n rotang kan swaai ken nie. Ek dink dis hoogtyd dat ons as ouers en grootmense moet begin by kom. Kyk hoe lyk die kinders wat ons die wereld instuur – engeltjies met swart vlerkies.

Ruby ·

Die drie onderwysers wat aan diens was het duidelik nie hulle werk behoorlik gedoen nie!

Die tennisbane is tog deel van die skool. Die voetjies moet net opgetel word op alle areas van die skool dop te hou.

Die groot sondaar is die ouers, punt.

Bleek Sannie ·

Boelies ontaard ook altyd in patetiese volwassenes. Dit is dalk genoeg straf vir hulle noudat hulle so lekker geskrik het: hulle bedroë vooruitsigte.

Karin ·

Ai en daar word die onnies weer gekap. Is jy n onnie en weet jy vir n feit “voetjies” is nie opgetel nie?

Bianca ·

Ek stem 100% saam! Altyd die onnies! Dalk was daardie onderwysers se “voetjies” juis so moeg omdat hul die vorige nag tot laat gesit en beplan het aan ‘n les juis vir hierdie kinders! En fyi ons bied nie vakke soos maniere en menslikheid aan nie! Genade geen verskoning vir sulke uiterse vuil gedrag van kinders nie! Straf hulle!

BoereBikerBaby ·

dis asof die boelie-ry net meer en meer gebeur, gister ‘n vriend op facebook vra raad wat mens kan doen as jou 14jarige (gr8) geboelie word deur ‘n 20jarige (gr 11!!) – ek natuurlik het gese hy moet so paar bikers kry om hom skrip op die lyf te jag. eerlik waar dink ek daar “gr 11” kan soos ‘n man pakslae kry…

Tascha ·

Al diegene wat daarop aandring om hul kosbare bloedjies met ‘sielkunde’ groot te maak moet weer ‘n slag dink! ‘n Ou spreekwoord lui: “…’n pak op sy tyd is soos brood en konfyt…” Ry sommer nou na jou naaste supermark toe koop vir jou die grootste paplepel op hul rak aan terug by die huis skryf jy die woord “SIELKUNDE” in groot vet druk letters met ‘n swart permanente merkpen daarop en die volgende keer wat jou bloedjie hom/haar nie kan gedra nie raps jy hom/haar net so 3 houe op die boudjies. Dis die vinnigste en enigste manier om jou kind te laat verstaan dat daar ‘n tyd en ‘n plek is vir alles en jy sal nie altyd daarmee weg kom deur ander af te knou nie. Die lyntjie word uiteindelik vir almal getrek.

Francois le Cochon ·

@Tascha. Stem nie saam. Leer jou kinders waardes, respek en etiek. Dan sal hulle eendag hulle kinders dieselfde leer. Die problem is egter dat nie all volwassenes hierdie tipe van opvoeding as kind ontvang het nie, en dus nie self weet wat waardes, respek en etiek beten nie.

christine ·

ek stem saam met die skool. hulle en die wat toegejuig het moet geskors word. die kinders besef nie meer wat hulle doen nie en die skade wat die aan daardie kind doen nie. my kind word ook by die skool geboelie en ek sien mos hoe dit gaan.

Bleek Sannie ·

Waar is al die bitterbek tannies nou wat die Neline meisie wil aanrand? Hoekom nie dié seuns nie? Jaloers op mooi dogtertjies dis wat! ‘n Lelike Afrikaner streep daai!

Kathleen ·

Sulke kinders moet vir n week of meer in die tronk gesit word. Laat hul weet waar hul lewe heen gaan. En wat leer daai ouers hul kinders. Sies jul is n skande vir Suid afrikaanse skole.

Bruce ·

Hierdie drie lakse onderwysers kan gerus ook disiplinêr verhoor word.
As hulle op hulle pos was kon hierdie voorval voorkom word en hierdie leerder sou nie vir die res van sy lewe met ‘n sielkundige letsel moes rondloop nie.
So ‘n nare ondervinding sal hierdie kind altyd bybly.

Nico ·

Bruce- Jy is seker nie ‘n onderwyser nie!! Weet jy wat gaan daai mense daagliks deur met kinders wat nie maniere het nie? Hulle word deur dieselfde kry taal uitgevloek en dan word die skouers net opgetrek deur die departement. Ouers moet weer vir ons kinders leer wat is dit om ander te repsekteer. Maar eerstens moet hulle hulle kinders leer om vir hulself respek te he.
Dis te maklik om die onderwyser die skuld te gee in iets wat ons as ouers gefaal het.
En dan stem ek ook saam bring die lystraf terug. Daar is baie Suid Afrikaners wat ‘n geoei raps gekry het en dit het nie slegter mense van hulle gemaak nie. Los die kinders om ander so te behandel en dan sit hulle met erger probleme in die land as wat ons tans het.

L Booyse ·

In die goeie ou dae was mense ook geboelie maar dan het almal saam in een lang ry voor die mnr se kantoor deur gewag. Daar was nie regtig agter die probleem of die skuldigste probeer kom nie. Na 6 van die bes doen jy dit nie sommer weer nie.

HEVW ·

Los die onderewysers. Die hoofrede tot sulke gedrag le by die primere opvoedingsinstansie wat hul verantwoordelikheid versuim en van die onderwyser verwag om hul opvoedingstaak na te kom. Indien daar dan wel disssipline toegepas word dan is dit hulle wat die onderwyser magteloos maak deur met hofsake te dryg. So is die ouer dan besig om n respeklose, dissiplinelose rebel te kweek wat aanstoot gee oral waar hy beweeg, met n gebrek om sinvol te sosioaliseer. Die houtlepel met die naam sielkunde is reg. Daar moet n gesonde balans wees. Looi hom, maar gee hom n drukkie met sinvolle verduideliking en kweek so sy menswaardigheid en ook sy respek vir ander.

Sollie ·

Wat my betref moet die spul aanhitsers ook sommer tydelik geskors word. Hulle kom GANS te lig daarvan af!!

Jacoba ·

Die boelie- kinders moet verantwoordelikheid vir hulle eie vieslike gedrag aanvaar. Skorsing en sinvolle gemeenskapsdiens , dink ek, is toepaslik. Toesigonderwysers doen gewoonlik hulle bes. Hulle kan nie oral wees nie. Waar leer die vuilbekke die taal??…Verkeerde vriende en by die huis! Stel ondersoek in hoekom daardie boelies so optree. Daar is gewoonlik groot fout. Sterkte aan al die betrokkenes.

Asjas ·

HEVW slaan die spyker op die kop. Sekere ouers het Onderwysers magteloos gemaak. Ek het gehoor van ‘n geval waar ‘n seun onder die invloed by die skool aangekom het, sy Pa is gebel maar die se houding was net “ja, ons het gisteraand ‘n paar doppe saam gehad, so what”. Vandag se ouers probeer kinders se maats wees in plaas van die volwassene in die verhouding, word groot en maak jou kind reg groot!

aVW ·

Dankie Pa(HEVW),vir goeie opvoeding by die huis. Goeie opvoeding speel ‘n baie belangrike rol in jou kind se toekoms, so ouers, as dit vir julle belankrik is dat jou kind ‘n mooi en gesonde toekoms moet he, vat jy self verantwoordelikheid vir jou kind se opvoeding, dit help nie om jouself blind te hou vir jou kind se foute nie, buig die boompie terwyl hy nog jonk is.

Elfie ·

Hier is ‘n voorbeeld van die ouers wat ses van die bestes nodig het. Dan sou hul dalk hul kinders beter ‘n beter opvoeding gegee het.

Nina ·

En wat word van die res van die groep (duidelik ook onopgevoede barbare?) Is als nou sommer net 100% met hulle saam? Nee, o herre. Mens kan net bid en hoop terwyl jy self kinders op skool het.

AH von Wielligh ·

Dankie PA [ HEVW] vir ware liefde en die manier hoe pa ons groot gemaak het. Ek wens en hoop ek kan die selfde doen vir myne. My vroutjie sal baie trots wees op pa se boodskap.

nig ·

Die knaap wat die video geneem het was natuurlik presies bewus van ALLES wat beplan is want hy het al die pad saam gestap van waar die kind gaan haal is – so hy is ook net so skuldig. Hy dink seker hy is ‘n held omdat hy dit afgeneem en gepubliseer het; NEE, jy is net so skuldig jy moes die onnies gaan roep het ! Skande, die hele spul skollies moet geskors word.

Adele Hoffman ·

As my kind OOIT deel moet wees van so iets, hoef hy nie te worry oor skorsing of negatiewe media nie…hy sal volgende jaar nog snak na sy asem as ek klaar is met hom! Ek hoop die seun se ouers neem stappe teen die ouers van die boelies! Hulle moet verantwoordelikheid ook dra!

Bloues ·

Ek is seker die ouers van die boewe sien niks verkeerd in hul kinders se optrede nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.