Boer in hof ná hy glo wapen op polisie rig

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Pixabay)

’n Boer van Noordwes het vandeesweek in die hof verskyn nadat hy na bewering tydens ’n veiling ’n vuurwapen op polisiebeamptes gerig het. Die polisiebeamptes het Matthys Michiel Pienaar (35) glo op die veiling gepols oor vee wat na bewering nie gebrandmerk is nie.

Kol. Adéle Myburgh, polisiewoordvoerder, sê die Ngaka Modiri Molema‑veediefstalstabiliseringstaakspan het Donderdag tydens ’n veiling by Buhrmansdrift naby Ottoshoop ʼn operasie uitgevoer ten einde vas te stel of die Wet op Diere-identifikasie nagekom word.

Volgens Myburgh het Pienaar aggressief geraak toe die polisiebeamptes hom uitvra oor sy vyf beeste wat na bewering nie gemerk was nie. Pienaar het na bewering sy vuurwapen op die polisiebeamptes gerig voordat hy in sy voertuig by die veiling weg is.

Die polisiebeamptes het hom agternagesit, voorgekeer, ontwapen en in hegtenis geneem.

Pienaar het Vrydag in die landdroshof in Molopo verskyn waar borgtog van R1 000 aan hom toegestaan is.

Hy word van die rig van ’n vuurwapen, crimen injuria, intimidasie en verset teen inhegtenisneming aangekla.

Hy sal weer in Augustus in die hof moet verskyn.

Lt.genl. Sello Kwena, die provinsiale polisiekommissaris in Noordwes, waarsku dat geen vorm van intimidasie die polisie sal afskrik om hul verantwoordelikhede uit te voer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

SjN ·

Hul is vinnig met die saak, gewoonlik sloer optrede in sake wat geraporteer word Tov veediefstal, kom ons wag vir die ander party se weergawe.

Grassie ·

Ek is jammer vir die boer maar sy dom optrede gaan hom kos. Die afslaers behoort ook nie ongemerkte vee by die veiling toe te laat nie. Ons landboubedryf loop erg deur onder veediefstal, die boere behoort hul volle samewerking te gee.

Lourens ·

Moenie bloot op hierdie skamele paar feite ‘n mening grond nie. Die boere is siek en sat van die polisie wat dikwels met die veediefstalsindikate saamwerk., Nou skielik word een boer by ‘n veiling “lastig geval”. Ek glo nie hy sou sommer sonder rede homself wou verdedig nie.

philippus ·

Eerstens, hy klink nie regtig na n boer nie. Tweedens dit was maar dom. Onskuldige sou nie n probleem gehad het nie. Maar elke saak het 2 Kanter. Ongelukkig glo ek polisie glad nie meer nie. Crookes with badges.

Niklaas ·

Nie ‘n vreeslike slim boer wat in hierdie tye in ons land sulke dinge aanvang soos vuurwapen rig op SAP lede. Hy mag dalks nou sy lisensie om ‘n vuurwapen te besit , verloor. Skotvry , sal hy nie daarvan afkom nie. Hy het nie mooi gedink nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.